top of page

PREEK : DS. RYNO HURN 22 MAART 2020

In ’n baie onsekere tyd van ons lewens, vind ons troos en hoop in die woorde van Matteus 11: 28-30: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Skriflesing: Matteus 27: 32

Tema: Simon dra Jesus se kruis

Ek het nog nooit van te vore so oor hierdie kortverhaal gedink soos nou nie. ’n Hele gebeurtenis word vasgevang in 1 vers – 24 woorde. 24 Woorde wat die rol van die kerk beter en meer relevant beskrywe as die meeste teologiese boeke en artikels tans beskikbaar.

Kom ons lees weer die vers saam: Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra.

Dit is baie duidelikheid dat die menslikheid van Jesus nie in die Nuwe Testament bevraagteken word nie, want Hy het menslike neigings gehad: Jesus is uit ’n vrou gebore, Hy het honger en dors geword, Hy is versoek, Hy het bang geword, Hy het gebloei en in die verhaal kan ons aflei dat Jesus ook moeg geword het.

Een van die uitstaande slagspreuke wat Jesus gehad het, word verwoord in Matteus 11: 28-30. Ons het dit ook nou gehoor: “My juk is sag en my las is lig.” Ek wonder maar net: Wat is die verbintenis tussen die woorde van Matteus 11 en die swaar kruis wat Jesus gedra het? Want dis is duidelik dat die kruis wat Jesus gedra het baie swaar was. Ja dit kan wees omdat Jesus mens was, moeg, seer en fisies uitgeput was. Dink ook net vir na oor wat Jesus reeds die afgelope ure deurgemaak het: die gespanne atmosfeer van die Bokamer, die verraad deur Judas, die gebeurtenisse van Getsémané, die wegvlug, verraaiing en verloëning deur sy dissipels, die marteling van 'n heeltemal skynheilig verhoor voor die Sanhedrin, die bespotting in die paleis van Kajafas, die ontkenning deur sy mees prominente dissipel, die verhoor voor 'n onregverdige regter, die verskriklike beproewing van wat gésel en die uitspraak van die doodsvonnis oor Hom, maar ek dink die kruis van Jesus nog meer belas met die sonde van die mens en die wêreld. As deel van die straf moes elke misdadiger sy eie kruis dra. Ek kan my nie eens indink wat deur Jesus se gedagtes moes gaan om sy eie “moordwapen” te dra nie.

Ons verhaal en erediens gaan oor Simon en die impak wat die kruis gebeurtenis op sy lewe gehad het. Simon was ’n toeskouer tot hierdie kruis gebeurtenis en toe word hy ’n deelnemer. Ons teks vertel vir ons dat Simon van Sirene deur die soldate gedwing is om Jesus se kruis te dra. Die soldate het die reg gehad om enige persoon ’n tydelike militêre opdrag te gee. Wat moes deur Simon se gedagtes gegaan het! Gedwonge of vrywillig, hy het deelgeneem. Wanneer ons in retrospeksie na die verhaal kyk was Simon nie werklik ’n toeskouer nie, maar van die begin af ’n deelnemer.

Ons het alle rede om te aanvaar dat Simon deur hierdie kruisdra tot bekering gekom het. As Markus vir ons hierdie selfde verhaal vertel in sy Evangelie, sê hy dat Simon die vader was van Alexander en Rufus. En as Paulus aan die Romeine skryf (Romeine 16:13), laat hy groete weet aan Rufus en sy moeder. Hieruit kan ons aflei, saam met baie skrifverklaarders dat Simon en sy huis, sy vrou en sy seuns, almal volgelinge van Jesus Christus geword het. Sy kruisdra het vir hom groot voordeel gebring.

Is jy ’n toeskouer of ’n deelnemer in die geloof? Simon was ’n toeskouer wat ’n deelnemer geword het. Is jy ’n “christen” omdat jy so grootgemaak is (tradisie) of omdat jy ’n werklike oop en lewende verhouding met Christus het. Is kerk toe gaan (al mids nie nou nie) net uit tradisie of uit honger en dors vir ons Koning?

Dit is hier waar Simon se Onvertelde storie ’n templaat en voorbeeld vir ons as kerk is en wanneer beter as nou? Christus se swaar kruis het Simon tot bekering gebring en hy het dit oorgedra aan sy familie. Watter rol speel ek en jy wat deel is van die groter kerk vandag in die samelewing? Beïnvloed Christus se verhaal ons ook in so ’n mate dat ons nie anders kan as om dit te glo en oor te vertel nie?

Watter beter tyd het ons om te deel dat Christus die Een is wat aan die kruis gesterf het en daarmee saam die sondes van die mens op Hom geneem het, die siektes van die wêreld (corona virus) reeds oorwin het en dat daar HOOP is, al verkeer die mensdom in angs en paniek.

My gebed vir ons die kerk en vir jou en my is dat ons Onvertelde stories ook die samelewing hoop en inspirasie sal gee.

Gebed:

Kruisdraer, Martelaar... woorde is min wanneer ek moet dink dat ek die kruis moes dra. Woorde is min wanneer ek besef dat ek ’n toeskouer tot hierdie gebeurtenis was. Dankie Gekruisigde dat ek op U roete na Golgota toe was. Dankie Uitgeputte dat ek deel het aan U verhaal. Mag my lewensverhaal ook ander mense rondom my hoop gee. Hoop wat geanker is in U.

Wees my genadig.

Geestelike wandel vrae vir die week

Jesus het reeds vir ons sondes en laste, die pad Golgota aangedurf. Ons het nie nodig om swaar aan laste te dra nie, maar tog doen ons.

Watter laste dra jy op jou skouers? Op watter maniere put jou laste jou uit? Watter gebeurtenisse in jou lewe het jou nader aan God gebring? Simon se hele familie is geraak. Hoe beïnvloed jy die mense rondom jou?

13 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is,...

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink...

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik...

Comentários


bottom of page