top of page

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosser” (Ps 19:15). Seëngroet Gebed: Liedere: L 164 Ons is almal hier tesaam 1,2 Lord I lift Your name on high Wet: Heidelbergse Kategismus Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende? Antwoord: Uit die wet van God (a). (a)Rom 3:20. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is. Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons? Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete (a). (a)Deut. 6:5; Lev 19:18; Mark 12:30; Luk. 10:27 Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom? Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b). (a)Rom 3:10, 20, 23;1 Joh 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21; Jer. 17:9; Rom 7:23. Lied: L 471 Soek Alle eers die Koninkryk van God (Kanon) Skizzels: Kyk met ’n verkyker om te sien hoe die toekoms dalk lyk. Hy vertel van hoe sleg hierdie jaar vir hom is en dat hy nou wil hê die jaar moet tot ’n einde kom. Hy hoop dat die toekoms vir hom beter gaan wees. Maar hoe kan hy daarvan seker wees? Kinderlied: Ek sal op U vertrou Skriflesing: Filippense 4: 4-7 Tema: Nuwe oë na die toekoms 4 Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! 5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. Prediking: Ek dink dat Skizzels ’n baie waar ding vanoggend gesê het rakende sy wens dat 2020 tot ’n einde moet kom! Ek vertrou dat baie van julle dieselfde voel. Hoe dink jy na oor die toekoms? Is jy opgewonde of bekommerd? Watter merke en letsels het hierdie jaar op jou tot dusvêr gelos? Ons reis vanoggend voort met ons reeks deur Filippense en ons kyk so bietjie na die toekoms. Een van die frases wat die samelewing baie irriteer is: “moenie worry nie!”. Hou jy van daardie frase as iemand dit vir jou sê? Ek weet dat ek van tyd tot tyd geneig is om hierdie frase te gebruik “moenie bekommerd wees nie” en dalk het ek al van julle hiermee geïrriteer. Ons is daarna toe geneig want wanneer iemand vir ons sê dat ons nie oor die toekoms of oor ’n probleem besorgd moet wees nie dan voel dit of die persoon wat dit vir jou sê nie ag slaan op die erns van jou situasie en bekommernis nie. Ons is mens en dit is in ons wese om bekommerd of besorgd te wees oor die toekoms. Partykeer laat ons egter toe dat ons bekommernis of besorgdheid die oorhand in ons lewens kry. Paulus skrywe aan die eerste gemeente in Europa, die gemeente in Filippi en hy sê vir hulle: “moenie besorg wees nie.” Ek wonder: hoe het die gemeente gereageer toe daar vir hulle gesê was om nie oor die toekoms besorg te wees nie. Was hulle dalk ook so bietjie geïrriteerd met Paulus? Die frase wat Paulus gebruik “Wees oor niks besorg nie” het ’n diep betekenis en dit is ook ’n frase wat ons in Matteus 6:5 aantref wanneer Jesus sy dissipels leer om nie besorg te wees oor die toekoms en oor die dinge wat hulle moet eet of aantrek nie. Moenie besorg wees nie beteken letterlik “moenie in angsbevange of in benoude eensaamheid” oor die toekoms verkeer nie. Die frase impliseer nie dat ons nie voorsorg moet tref vir die toekoms nie. Een van die kommentare wat ek die week gelees het skryf: “...it does not mean that we are to exercise no care about worldly matters – no care to preserve our property, or to provide for our families but that there is to be such confidence in God as to free the mind from anxiety, and such a sense of dependence on Him as to keep it calm. Dit is juis hoekom Paulus dit vir die gemeente in Filippi gesê het. Moenie besorg wees oor die toekoms nie, want dit het ’n geneigdheid om jou in ’n staat van angs en of benoude eensaamheid te laat verkeer. Bevry jouself daarvan want angs en benoudheid het gewoonlik die manier om die mens se wil en denke in ’n rigting te laat instuur waar die mens meer fokus op die probleme rondom hom as op God. Daar is ’n gesegde wat sê: “don’t look at the size of your problems, look at the size of your God.” Watter reg het ek en jy om vir iemand anders te sê “moenie besorg wees oor die toekoms nie”? Die laaste 4 woorde van vers 4 – die Here is naby. God se nabyheid maak ’n onbesorgdheid moontlik en nodig. Nou, my volgende twee vrae vanoggend is:

  1. Indien die toekom nie gaan oor besorgdheid nie, waaroor gaan dit dan?

  2. Wat is vrug van dit waaroor die toekoms nou werklik gaan?

Die toekoms gaan oor vertroue, gebed en danksegging. God se nabyheid is ook die motivering om in gebed alle “begeertes” aan God bekend te maak. Gelowiges het soos alle ander mense ook behoeftes en begeertes wat vervulling vra. Omdat die gelowige egter ’n liefdevolle Here het wat naby is en wat sorg, kan en moet hy/sy Hom met hierdie behoeftes en begeertes vertrou en daarom dit ook aan Hom toevertrou. God se versorgende nabyheid roep my op tot onbesorgdheid!


Die aard van die gebed word uitgedruk met die twee woorde “smeking” en “danksegging”. “Smeking” het niks te doen met ’n poging om God te probeer oorreed of tot aksie te bring nie. Dit het wel alles te doen met ’n gebed waarin die gelowige met haar/sy volle menswees en passie eerlik voor God lewe. Dit is gebed waarin die bidder se hart meepraat! ’n Eerlike lewe voor God waarin ek Hom met my diepste gevoelens en begeertes vertrou. Die woord “danksegging” bou voort op ’n blydskap tema en gee die toonaard van die gebed aan. Al is die inhoud van die “smeking” hoe pynlik en ontwrigtend, dra dit altyd die karakter van dank. Ek leef uit die wete dat God in Christus reeds vir my “Ja!” gesê het en dit elke sekonde bly doen. Ek kan met onbesorgdheid en vreugde my aan sy saak toewy, want Hy wy homself toe aan my.


Die vrug van hierdie gebedslewe, wat bou op en leef uit die Here se nabyheid, is vrede! Die toekoms van die mens gaan op die ou einde om in die vrede van God te lewe. In aansluiting by die Hebreeuse begrip shalom, dui die Griekse woord Eirene op ’n toestand van volkome heelheid/wholeness. Dit is die vrede van God. Dit is die vrug van sy versoeningswerk in en deur Jesus Christus. Dit dui op ’n lewe (individueel en omvattend) waarin alles in die regte verhouding tot mekaar staan. Dit is ’n in-Christus-vrede sê Paulus! En omdat dit “die vrede van God” is, gaan dit alle verstand te bowe. Geen mens kan dit bewerk of selfs bedink nie.


Gebed:


Liedere:

I surrender all

L 514 Ek weet vir seker 1,2


Seën

Mag die God van hoop deur geloof jou vervul met alle vreugde en vrede sodat jou hoop sterker kan word deur die krag van Sy Gees.

64 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

PREEK 27 SEPTEMBER 2020 – DS. RYNO HURN

Kerkklok lui Lied: Ek sal op U vertrou (Kinderlied) Verwelkoming: Aankondigings: Kerkraad vergader môreaand om 18H00 Verjaarsdae: Coleman Kyle 09/ 27 Noeth Marlene 09/ 28 Croucamp Amory 0

bottom of page