PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming:

Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is.


Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem.


Votum:

Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om lede van een liggaam te wees. Verbind ons aan dié wat U naam deur alle tye heen en op alle plekke geëer het, sodat ons met een hart en een gedagte die eenheid van U kerk sal vertoon en só U naam sal eer, Here Jesus, ons Verlosser

Gemeente: Amen


Kindermoment: Skizzels video


Skizzels doen ’n gebed


Seëngroet:


Wet: Eksodus 16:2-15


Kos uit die hemel

2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”


4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. 5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”


6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”


8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.” 9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”


10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk. 11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”


13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar ’n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.


Aansteek van die Christus kers


Oproep tot dankbaarheid


VONKK 00159-Heer. ons dink aan Afrika

F 66 Op vaste fondamente


Skriflesing: Filippense 1: 27-2:4

1:27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle 'n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.


1 Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – 2 maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe. 3 Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4 Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.


Tema: Nuwe oë na saamwees


Prediking:

Die afgelope paar maande was en is nog steeds ’n baie groot uitdaging vir elkeen van ons. Sonder dat ek en jy daarvoor gevra het moes ons aanpassings maak in ons lewens soos die manier hoe ons rondbeweeg, winkel toe gaan, kerk toe kom en by familie en vriende kuier. Ek wil graag vanoggend in hierdie ruimte bely dat ek al lekker keelvol is vir maskers, sanitizers en social distancing. Ek is seker die meeste van julle sal dit vanoggend saam met my bely, maar dit is ons nuwe realiteit en werklikheid en ons moet aanpas en hiermee saamlewe.


Een van die dinge wat my gees die meeste verlang het in die inperking tydperk is saamwees – koinonia. Om saam met my mede broers en susters, binne-in die ruimte van ’n erediens, Bybelskool en huisbesoek die Here te aanbid!


Ons teks vanoggend – Paulus is in die tronk en die moontlikheid van sy teregstelling raak al hoe groter. In vergelyking met die briewe aan die ander gemeentes is Paulus se liefde en deernis vir die gemeente in Filippi opvallend. Dit was die eerste gemeente wat in Europa ontstaan het. Paulus maak ook melding van die besonder intieme verhouding wat daar tussen hom en die gemeente bestaan het (4:1).


Ten spyte van die neerslagtige omstandighede in die gemeente is die toon van sy brief allesbehalwe neerdrukkend. Dit spreek van vreugde wat gewortel is in die hart van die evangelie. Paulus wil die gemeente aanmoedig om onder hulle daaglikse omstandighede uit hierdie vreugde te leef. Hy wil hulle lei om ’n nuwe stel waardes te skep waaruit hulle prioriteite kan bepaal om hulle daaglikse lewe aan te pak.

In die laaste paar verse van hoofstuk 1 (1:27-30) roep hy die gemeente op om standvastig, eensgesind en nederig te leef. Hoofstuk 2 bou daarop voort en omskryf hierdie eensgesindheid en strewe van die gelowiges.


In vers 27 van hoofstuk 1 moedig Paulus die gemeente aan om ’n lewenswandel te hê wat in ooreenstemming is met die evangelie en dat wanneer hy weer by hulle sal kom dan sal hy dit sien of indien hy nie by hulle sal kan uitkom nie, dan sal hy dit hoor. Gemeente, Paulus probeer ’n bewustheid onder die gemeente in Filippi stug waar hulle moet besef dat die manier hoe hulle saam met mekaar moet wees, die manier hoe ons saam met mekaar moet wees vanuit die hart van die evangelie moet ontstaan. Hy gaan dan verder en sê dat ons lewenswandel, omdat dit vanuit die evangelie ontstaan, dit vêrder strek as net die sigbaarheid daarvan, want al is hy dan nie by hulle nie, gaan hy daarvan te hore kom.


Hoe kyk ons vanoggend met nuwe oë na saamwees? Hoe is ons as gemeente eensgesind? Wat bind ons saam? Die nagmaal – deur die Heilige Gees word en is elkeen van ons aan mekaar verbind. Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een in strewe” (2:2). Die frase wat met eensgesind vertaal word (auto phronête) beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees.[1] Die woord phronête dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in. Hierdie eensgesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel: deur “dieselfde liefde (agape – liefde ten spyte van) te hê” (vgl. 1:9), deur “een van siel te wees” (sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie – waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het), en deur “een van gedagte” (phronountes – denke in harmonie) te wees. Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie. Hiervoor het ’n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!


Voordat ons oorgaan na die nagmaal toe, wil ek graag net ’n gedagte afsluit met vers 4 in hoofstuk 2: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” Wanneer ons bely deur te sê dat ons nuut kyk na saamwees en eensgesindheid dan is vers 2 van onskatbare waarde. Saamwees gaan nie oor jou nie, maar oor die persoon langs jou. Daarom gehoorsaam ons die reëls en regulasies van maskers dra, hande saniteer en social distancing, want al wil ek dit dalk nie meer vir myself doen nie, doen ek dit vir die persoon langs my. Dit is die volmaakte voorbeeld wat Christus vir ons kom gee het. Christus het met nuwe oë na saamwees gekyk en daarom het Hy nie aan Homself gedink nie, maar aan die mens. Daarom het Hy sy lewe opgeoffer sodat ons vrygekoop kan word.


Nagmaal

Noem iets van die simboliek van elkeen wat sy eie brood en wyn bring wat die eenheid simboliseer.


Gebed:


Here, U geloof in die kerk verstom en beskaam ons.

Ons bely voor U ons ingeperktheid,

ons na-binne-gerigtheid,

ons blink gesmeerde vettigheid,

ons krom vingers wat U seën krampagtig vashou en dit nie uitdeel nie.

Ekskuus Here, ekskuus.

Maak ons draers van U woorde

met minder van ons eie idees.