top of page

Preek 17 Mei 2020

Lui van kerkklok Lied: Psalm 111 Verwelkoming: Aankondigings:

  • Kerkkantoor is Dinsdae en Donderdae 09h00-10h00 oop vir kos, klere en gemeente bydraes

  • Medelye aan Gerda Marais wie se ma wat oorlede is

  • Bybelskool – Dinsdae 18H30 op Zoom “Wat is lof?”

  • Skrywe van psalms vir “Pinkster onder die denneboom”

  • Hemelvaart – dr. Barnard

  • Gemeente kamp is uitgeskuif vanaf Augustus 2020 na 5-7 Februarie 2021.

Verjaarsdae Hearne Allan 05/ 18 Smit Het 05/ 19 Jordaan Wikus 05/ 22 Steenkamp Annelie 05/ 22 Schoeman Wynand 05/ 23 Warriker Ambru 05/ 23 Lied: Prys die Heer Kindermoment: Lied: LB 550 – Twee Ogies Ek sal u vertrou Skriflesings: Psalm 25 1 Van Dawid Tot U, Here, rig ek my, 2 my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. 3 Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. 4 Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. 5 Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. 6 Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. 7 Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. 8 Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, 9 Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. 10 Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. 11 Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde, want dit is groot. 12 As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, 13 sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. 14 Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. 15 My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. 16 Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. 17 Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende. 18 Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. 19 Kyk hoe baie vyande het ek en hoe fel haat hulle my. 20 Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. 21 Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. 22 O God, red Israel uit al sy nood. Tema: Hoe ons iets weet, word dikwels bepaal deur die omstandighede waaronder ons dit weet. Prediking: (wys foto’s van hoe die Psalm lyk) Om Psalm 25 te verstaan moet daar so bietjie analities na die Hebreeus gekyk word. Hier op die skerm sien u nou, Psalm 25 soos dit in die Biblia Hebraica geskrywe staan – die Hebreeuse Bybel. Vir dié van u wat nie weet nie, Hebreeus word nie van links na regs gelees nie, maar regs na link en die begin van ’n boek is nie voor nie, maar agter. Psalm 25 is in ’n besonderse wyse, ’n baie unieke Psalm. Dit is ’n akrostiese Psalm. Dit beteken: Elke vers begin met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. So as jy ’n gedig of gebed in Afrikaans sou skrywe, sou elke nuwe sin met die volgende letter van die alfabet begin het. Van al die 150 Psalms wat opgeskrywe is in die Psalms, is Psalm 25 slegs 1 van 8. Daar word baie bespiegel oor hoekom ’n digter juis om die manier skrywe, maar vir my is daar twee redes:

  1. Dit help met die onthou van die inhoud van die Psalm.

  2. Dit dui op die “alfabet van geestelike groei”.

22 Hebreeuse letters, 22 verse, 22 trappies om te help met die onthou van ’n Psalm en 22 trappies vir die aanduiding van groei. Tussen al 22 letters is hier 3 waarop ons gaan fokus: Batach –חטְבָּ

  • Om te vertrou

Qavah – הוָקָ

  • Om te wag

Dereg - ךְרֶדֶּ

  • Weg/Pad

Voordat ons by die woorde uitkom, wil ek julle gou vir ’n oomblik na julle Sondagmiddag etenstafels toe vat. Hoe ons iets weet, word dikwels bepaal deur die omstandighede waaronder ons dit weet. Dink vir ’n oomblik mooi hieroor: Die omstandighede waaronder ’n mens iets weet, speel ’n baie groot rol in die manier waarop jy dit weet. Want dit bepaal of jy dit net met jou verstand weet, en of jy dit ook met jou hart weet. Verbeel julself dat julle as gesin sit vir middagete aan by die tafel. En daar is ’n lewendige gesprek. Die een onderwerp lei tot 'n ander. Dan vertel pa iets heeltemal random van wat hy die week iewers gelees het: Die krokodille in die Zambesi rivier is vanjaar buitengewoon onvriendelik en ongemanierd. Hulle het in die laaste ses maande al meer mense gevang en opgevreet is as in die vorige ses jaar saam. Niemand weet hoekom nie. Niemand weet hoekom pa nou juis oor hierdie saak gesels nie, maar nie te min, julle spekuleer ’n bietjie oor die krokodille, gril vir die gedagte en die gesprek gaan voort na iets anders. Want ons word so toegegooi onder die inligting dat ons min kans kry om iets vir langer as ’n paar minute te weet voordat ons gedagtes deur iets anders in beslag geneem word. Selfs as dit goed gaan en ons het ’n lekker Sondag middagete op die bord en die vooruitsig van ’n slapie in die middag, gaan selfs daardie inligting meesal deur ons kop sonder om by ons hart ’n draai te maak. Maar sê nou julle gesin is een van die wat ’n 4x4 voertuig kan bekostig en boonop nog vir ’n safari langs die Zambesi kan betaal ook. En jy stap op die Sondagmiddag om en by etenstyd langs die rivier. En jou voet gly en jy beland tussen die krokodille. Dan is die feit dat hulle graag mense opvreet om hulle honger te stil nie iets waaroor jy rustig kan sit en spekuleer nie; dan is dit vir jou ’n saak van lewe en dood. En jy gaan sonder om te dink vinniger uit die water kom as wat ’n mens normaalweg met swem kan regkry. Hoe ons iets weet, word dikwels bepaal deur die omstandighede waaronder ons dit weet. Ons weet nie hoe lyk die toekoms nie. Ek merk die laaste paar weke gereeld op, in ons gesprekke, die sosiale media gesprekke in die koerante en Facebook boodskappe dat ons begin moeg en ongeduldig raak oor hierdie hele situasie. Ons is gefrustreerd en ons weet nie wat om daarmee te maak nie. Ons word opgevreet deur bekommernisse en onsekerhede. Ons weet dit, want ons beleef dit. Dit is ons wêreld, ons realiteit. Daar is egter iets anders wat ons weet wat keer op keer deur ons omstandighede in die verlede uitgewys word. Weet jy dat jy God met enige iets kan en moet vertrou? Ek herinner julle vir ’n oomblik aan wat ons verlede week vir mekaar gesê het: Draai jou rug net vir ’n oomblik op die toekoms en vestig jou oë terug op die verlede. Daar sal jy tussen al die bekommernisse en onsekerhede sien hoe God vir jou gesorg en uitkoms gegee het. Hoe ons iets weet, word bepaal deur die omstandighede waaronder ons dit weet. As God so getrou vir jou in die verlede was, dan weet ons ook vandag, nou, dan ons Hom met die toekoms kan vertrou. Ek bring ons terug na ons drie Hebreeuse woorde vir die dag: Batach –חטְבָּ

  • Om te vertrou

Qavah – הוָקָ

  • Om te wag

Dereg - ךְרֶדֶּ

  • Die Weg/Pad

Batach –חטְבָּ Om te vertrou Dié werkwoord kom meesal in gebede en liedere voor. As jy vertrou, steun jy op iemand anders. En van die een op wie jy vertrou, se betroubaarheid hang alles af. Jy staan of val met die een op wie hy vertrou. Daarom is God eintlik die enigste een op wie 'n mens kan vertrou. Teenoor die absolute betroubaarheid van God, staan die wat troueloos handel. Daar is nog nie ’n geneesmiddel vir COVID-19 nie, die wêreld lê op haar rug en die meeste Suid-Afrikaners staar ’n donker en moeilike toekoms in die gesig. In die tyd kan ons nie anders as om op God te vertrou nie. Luister net na die woorde van Psalm 46: 5-8 “Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom. Nasies kan raas en koninkryke wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. God wankel nie, Hy is betroubaar. Dit beteken egter dat ons soms geduldig moet wag. Qavah – הוָקָ Om te wag As ’n mens in stil, vredige omstandighede lewe met geen tekort aan enige iets wat jy uiterlik nodig het nie, sal jy as ’n reël minder oor hoop praat as wanneer jy jou in uiterste omstandighede bevind en blootgestel is. In die teenoorgestelde situasie soos vandag word jy met die vraag gekonfronteer of die realiteit beteken dat jy alles gaan verloor en of jy nog ’n toekoms het en of daar nog iets is om in hierdie toekoms te verwag. Dit is hier waar Psalm 25 sy plekkie in die lewe kry. Daarom speel die woordjie wag, veral wag op die Here, so ’n groot rol. Want om op Hom te wag, beteken om te kan hoop. Daarom bely Psalm 25 in vers 3: “Niemand wat sy verwagting in U stel (= op u wag), sal beskaam word nie.” En in vers 5: “In U stel ek elke dag my verwagting.(=op U wag ek)” En in vers 21: “want op U vertrou (=wag) ek.” Ek sluit af met die laaste Hebreeuse woord Dereg - ךְרֶדֶּ Weg/Pad Die woord vir die werklike pad, soos die een van jou hek na jou huis, word in die Bybel dikwels ook gebruik om die lewe of lewensloop van ’n mens te beskryf. En hierdie lewenspad word dan ook met God in verband gebring. Om byvoorbeeld op die weg van die Here te wandel, is om jou lewe in gehoorsaamheid aan God te lei. Op hierdie weg is sy gebooie jou verkeerstekens en padwysers. Gemeente, my gebed vir elkeen van ons is dat ons in hierdie tyd ons lewens toe sal vertrou aan die Here, dat ons op Hom geduldig sal wag deur ons lewens te baan nie op ons eie wee nie, maar op die weg van die Here. Amen. Gebed: Lied: U’s my God Herinnering aan die skrywe van eie Psalms Vrygee: Zapper Elektroniese Oorbetaling Absa Takkode: 335445 Naam van die rekening: NG Gemeente Valhalla Rekeningnommer: 1660580065 Verwysing: Dankoffer of Vrygee

46 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page