top of page
Ng Kerk Valhalla

Preek :14 Junie 2020 - Dr Hendrik Barnard

Verwelkoming. Gebed. Skriflesing: 1 Petrus 1: 3-5 Tema: Jesus ons enigste hoop.

Geliefdes in die Here Jesus Christus, in die Wêreldburger-tydskrif, was daar by geleentheid ‘n baie ingrypende foto geplaas. Op die agtergrond van die foto sien jy die getuienis van die verwoesting wat die Russiese tenks aan klein dorpie aangerig het. Al wat van een betrokke gebou oorgebly het, was die trappies wat na ‘n deur toe lei en die deur self wat wonderbaarlik bly staan het. Verder was alles rondom hierdie gebou vernietig. Op die voorgrond van die foto sien jy ‘n sewejarige seuntjie en dogtertjie wat vir die eerste keer skool toe stap. Hand aan hand, stap hulle saam met stralende gesiggies van opgewondenheid. ‘n Skreidende kontras kan jy jou beswaarlik voorstel, Aan die eenkant die verwoestende woonbuurt, simbolies van ‘n stukkende wêreld en aan die anderkant twee kinders, simbool van ‘n nuwe begin. Hierdie twee kinders staan so mooi uit, as teken van hoop met die oog op ‘n nuwe lewe. Ek dink nie ek is vekeerd as ek sê, op die oomblik het ons in die gemeente, ‘n dringende behoefte aan hoop, want ons mense staan verslae. Waarheen is alles op pad? Ons word daagliks gebombardeer met slegte nuus. Nuus wat ons ruk en ons bekommerd maak. Geliefdes, ons is so dankbaar, dat ons nie net na slegte nuus hoef te luister nie. Nee, midde hierdie verslae wêreld, kan ons ook luister na die goeie nuus van die evangelie. Hierdie goeie nuus kom vanoggend, sekerlik vanaf die mees onwaarskynlike plek op aarde. Dit kom van ‘n graf, maar ‘n leë graf. Uit hierdie graf het Jesus lewend opgestaan. En by hierdie graf is die ware hoop gebore, want ‘n ander woord vir opstanding is hoop. Dit word vir ons in die volgende teks bevestig: “ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop” (1Petr 1:3). Hierdie hoop is steeds lewend, want Jesus is lewend. Hy is die bron en die inhoud van ons hoop. Ware hoop is nie sonder Christus moontlik nie. Hierdie hoop is nie net ‘n vrome godsdienstige belydenis nie. Dit is nie ‘n gedagte wat deur mense geskep of bloot net positiewe denke nie. Nee, dis ‘n genade gawe van God. ‘n Gawe waarmee God ons daagliks vir hierdie lewe toerus. Wanneer ons reken dat die lewensdruk net te veel raak, kom staan die lewende Jesus self in ons op. Hy kom raak ons oë aan deur ons te help om van die rommel rondom ons weg te kyk. Hy verruim ons uitsiglose horison en vestig ons oë op die hemel se skatte: “waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matt 6:20,21). Dit is die groot wonder van die Jesus- hoop. Wanneer onsekerheid ons oorval, moet ons opkyk en glo Jesus ons hoop is daar om in ons op te staan. Ja, Hy help ons om soos die seuntjie en dogtertjie vanuit ‘n rommel woonbuurt weer te begin stap, om opnuut met ‘n nuwe lewe te begin. Die Christelike hoop is om met aangeraakte nuwe oë na die krisis waarin jy jou bevind, te kyk. As jy met hierdie oë begin kyk, word jy ‘n lewende getuie van die oop graf. Hiervan is die lewe van klein Philip wat aan Downsindroom gely het, ‘n mooi bevestiging. Sy ouers wou hom so natuurlik as moontlik opvoed. Daarom het hulle hom elke Sondag na ‘n gewone sondagskool geneem. Die kinders in die klas, ongeveer almal agt jaar oud, wou hom aanvanklik nie as een van hulle aanvaar nie. Hy was mos immmers anders as hulle. Tydens Paasfees het die juffrou van die klas, vir elke kind ‘n groot plastiek paaseier gegee. Die eier kon in twee dele uitmekaar gehaal word. Die kinders het toe die opdrag gekry, om buite in die natuur iets te gaan soek, wat ‘n simbool van nuwe lewe sou wees. Dan moes hulle dit binne in die eier sit. Toe hulle weer bymekaar kom, moes elkeen wys wat hy/sy opgetel het. So was daar ‘n blaar, ‘n blom, ‘n skoenlapper. Opgewonde het hulle elke keer hulle eiers oopgemaak en dit gewys. Toe Philip sy eier oopmaak, was dit leeg. Die juffrou vra toe vir hom, hoekom is dit leeg? Philip het op sy kenmerkende Downsindroom manier geantwoord: My paaseier is leeg, want Jesus se graf is leeg. Heeltemal leeg. Daarmee het Philip bely dat hy die paasevangelie sy eie gemaak het. Hy het openbaar wat in sy hart lewe. So het sy klasmaats hom ook van daardie dag af aanvaar as een van hulle. ‘n Paar weke daarna het Philip onverwags gesterf. Sy sondagskoolmaatjies het na sy begrafnis toe gegaan. Hulle het verby sy kissie geloop en iets daarop geplaas. Die grootmense was nuuskierig oor wat hulle op die kissie geplaas het. Dit was nie blomme nie, maar leë paaseiers. Geliefdes, ons word in hierdie dae as gelowiges geroep om vir mekaar leë paaseiers te gee. Wanneer ons dit gedoen het, moet ons ook begin om met aangeraakte oë te kyk en te lewe. Daar is hoop vir ons, Jesus se graf is leeg, Hy het opgestaan. Hy het die kwaad en seer van hierdie lewe oorwin. Jesus wil elke dag in jou en my kom opstaan, om ons dagtaak hoopvol en blymoedig aan te pak. Amen. Mag julle elkeen ‘n baie mooi week belewe en kom ons sluit af met gebed. Gebed.

14 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is,...

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink...

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik...

Comments


bottom of page