top of page

Erediens 31 MEI 2020

Kerkklok lui Liedboek 563 Aan U o God, my dankgesange Verwelkoming: Aanvangswoord:

Psalm 66

Juig tot eer van God, almal op aarde! 2Sing tot roem van sy Naam, gee Hom die eer wat Hom toekom! 3Bely voor God: Hoe ontsagwekkend is u werk! U mag is groot, u vyande kruip voor U. 4Alle mense moet voor U buig, hulle moet sing tot u eer, hulle moet sing tot eer van u Naam.


Seëngroet

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!


Lied

Prys die Heer


Verootmoediging

Ons sluit vanoggend ons reeks in die Psalms af met ’n Psalm van dankbaarheid. Kom ons gebruik Miga 6 as meet instrument om ons dankbaarheid teenoor die Here te toets.


Miga 6:6-9

6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaar oud kalwers? 7Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding? 8Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. 9Om die Here te dien, dit is wysheid.


Skuldbelydenis

My gebreekte woorde


Genadeverkondiging

Miga 7:18-19

18Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. 19Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.


Lofprysing (Brandstof 1)

In die hemel is die Heer


Flam 34 Daarom


Skriflesing: Psalm 116

Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het. Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword. Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: “Here, red my tog!” Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen: U het my van die dood gered, U het 'n einde gemaak aan my trane, U het gesorg dat ek nie weer struikel nie. Ek kon voor die Here bly wandel in die land van die lewendes. Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in my vertwyfeling besef het: ek kan op geen mens staat maak nie. Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? Met 'n drankoffer sal ek van sy redding getuig en die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk. Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie. Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vry gemaak. Ek wil U loof met 'n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van sy hele volk, in die voorhowe van die huis van die Here, binne-in jou, Jerusalem! Prys die Here!


Tema: Dankbaar voor die Here


Prediking:

Wanneer is die beste tyd om te bepaal of jy met ’n hart van dankbaarheid lewe? As dit met jou baie goed gaan en jy nie werklik iets kortkom nie, of wanneer elke dag soos ’n oorlewing voel? Ek weet dat dit ’n moeilike vraag is, maar wanneer meet jy wat jy het? Ander vrae wat ook gevra moet word: hoe meet jy dankbaarheid? Indien jy dankbaar is, hoe gereeld betoon jy dit teenoor ander en God?


Ek dink dat elkeen van julle sal saam met my stem deur te sê dat die mens van nature baie ondankbaar is. Kyk maar net hoe funksioneer elkeen van ons: min dinge is goed genoeg en wanneer iets nie volgens my standaard of smaak is nie, maak ek seker my stem word gehoor. Ons word al van kleintyd af die towerwoord, “dankie” geleer en al is die woord diep ons lewens ingegraveer, het ek al agtergekom dat hoe ouer ons word, hoe minder word die woord, of altans die betekenis van die gebruik. Ons aanvaar baie dinge as vanselfsprekend. Lopende water, ligte wat brand, ’n warm bed, gesondheid, ’n salaris aan die einde van die maand, kos op die tafel, ’n gemeente waar ek by kan inskakel en die laaste ruk, geselskap en mense wat vir mekaar omgee.


Ons kry dit selde reg om waardering en dankbaarheid te betoon. Wanneer laas het jy vir iemand dankie gesê dat hy jou altyd vriendelik groet? Wanneer laas het jy vir jul huishulp dankie gesê vir die klere wat gestryk is en in die kas weggepak is? Wanneer laas het jy vir jou onderwyser/dosent dankie gesê vir die klasaanbieding. Wanneer laas jet jy vir die Here dankie gesê vir ’n werk, gesondheid en ’n warm bed? Ons redenasie gewoonlik is: wanneer ek vir iets betaal, dan hoef ek nie dankbaarheid te betoon nie. Dankbaarheid is net doodeenvoudig nie aangebore nie.


Waarom is dit so? Is dit nalatigheid? Ek dink dat ons in ons agterkoppe die oortuiging het dat die wêreld en die lewe ons al hierdie dinge skuld! Dit vloei oor in ons verhouding met God. God skuld ons ’n klomp dinge – voorspoed, geluk, liefde, ’n goeie werk en gesondheid.


Psalm 116 wat ons vanoggend saam gelees het, is ’n psalm van dank. Daar is egter vier verse in die psalm waarvoor ons op die uitkyk moet wees:


Vers 1 “Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.

Vers 4-6 “Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered.

Vers 7 “Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen”

Vers 12 “Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?

In vers 1 skryf die Psalmdigter: “Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.” In hierdie eerste vers kan ons baie mooi eienskappe van die digter aflei – hy het die Here lief en hy rig ook sy smeekgebede aan die Here. Die woordjie “want” pla my so bietjie in die sin. Ek wonder: indien die Here nie die digter se smeekgebede sou verhoor het nie, sou hy nog steeds vir die Here lief wees? Gemeente, julle sal verbaas wees hoe gereeld dit in ons lewens gebeur dat wanneer die Here nie een of ander vorm van ’n gebed van my beantwoord nie, dat ek kwaad word vir Hom en voel dat ek nie meer Hom wil aanbid nie. Vra jouself vir ’n oomblik ’n baie opregte vraag: daar waar jy dink jy te kortkom in die lewe, blameer jy vir God? Dra dit by tot die welstand van jou verhouding met Hom?


Dit wil nie voorkom of die digter so ’n tiepe verhouding met God gehad het waar sy slegte omstandighede ’n negatiewe invloed tot God gehad het nie. In vers 4-6 lees ons “Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered.” Vers 4-6 skryf hy ’n stukkie getuienis oor die goedheid van God. God is genadig, regverdig, Hy ontferm Hom oor ons en Hy beskerm die hulpelose en magtelose. Dié getuienis is slegs ’n fraksie van wie God is. Dankbaarheid is ’n getuienis tot die goedheid van God. Wat getuig jou dankbaarheid?


Vers 7 het my onmiddellik opgeval toe ek dit die eerste keer gelees het – “Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen” Ek is versot op die vers en die manier hoe die digter half amper met homself raas. Dit is asof die digter vir homself sê “word nou rustig, haal diep asem en kyk net om jou! Sien wat aan die gebeur is. Jy is verskriklik gespanne, maar dit is nie nodig nie. Kyk, God het uitkoms gegee.


Ek sluit af met die vraag wat vers 12 aan ons rig “Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?”. Is daar ’n manier hoe ons die Here kan vergoed vir al Sy weldade wat Hy so getrou aan ons bewys? Nee, maar ons kan dankbaarheid betoon en Hom daarvoor prys.


Ek het die week vir Skizzels gevra om bietjie vir van sy maatjies te vra waarvoor hulle dankbaar is.


Kindermoment:

Hallo ds. En julle almal. Ek het vir 4 van my maatjies (Tiaan, Chené, Nia-Lize en Lienka ) gevra hulle moet vir ons sê waarvoor hulle dankbaar is. Kom ons kyk wat sê hulle.


Afsluiting:

Gemeente, Ek het geleer dat die mees opregte dankbaarheid is by kinders te vinde. Ek wil julle uitnooi om hierdie week alles neer te pen waarvoor julle dankbaar is en die Here te prys daarvoor. Dit wat ons het, is veel meer as dit wat ons te kort kom. Amen.


Aankondigings:

Dankie vir almal wat deelgeneem het aan ‘Pinkster onder die Denneboom”


Dankie vir almal wat op een of ander manier nog steeds betrokke is by die bedieninge van die gemeente.


Dink ook aan oom Chris Sauywerman wat gesondheid probleme het


Verjaarsdae

Classen Christine 06/ 02

De Wet Una 06/ 02

Hugo Naomi 06/ 02

Van Zyl Luan 06/ 02

Jordaan Werno 06/ 03

Champion Chantell 06/ 04

Groenewald Marjean 06/ 04

Kalashnikova Masha 06/ 04


Vrygee:


Lied:

Hier is U kerk

98 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page