top of page

Erediens 10 Mei 2020

Lied: Herder Heer Verwelkoming: Goeie môre gemeente en baie welkom by vanoggend se elektroniese erediens. Dit is vandag Moedersdag so ek hoop dat al die moeders vandag op een of ander manier baie bederf gaan word. Ons is in die maand van Psalms. Ons staan vanoggend stil by Psalm 13 wat ’n klaagpsalm is. Kom ons buig ons hoofde in gebed. Gebed: Aankondiging:

  • Vandag is Nagmaal

  • Dinsdae en Donderdae tussen 09H00-10H00 kan u kos, klere en u bydraes na die kerk bring.

  • JGV, SGV temas vir die week

Verjaarsdae Burn Gail 05/ 11 De Koker Elmarie 05/ 12 Broodryk Johanna 05/ 13 Scheepers Skippie 05/ 13 Van Graan Sarie 05/ 13 Le Roux Trudie 05/ 14 Kindermoment: Ds. Ryno: Gemeente, ons het vandag ’n nuwe intrekker in ons gemeente: Skizzels. Goeie môre Skizzels! Skizzels: Goeie môre ds. Ryno R: Hoe gaan dit vandag met julle? S: Ds. Ryno gaan nie so goed met my nie. Ek wil eintlik so bietjie kla en moan, maar niemand wil na my luister nie. Boesman en slurpie wat my beste vriende is, hulle wil nie eers na my luister nie. So nou raak is gefrustreerd en baie kwaad. R: Sjoe Skizzels, dit kan nie lekker wees nie. Ek sê jou wat: jy kan by my kom kla waaroor jy so ongelukkig is, dan sal ek vir jou luister. Dit is nie mooi as iemand gefrustreerd en kwaad is nie. S: Dominee, ek weet nie waar om te begin nie. Eerstens, ek kan nie by my ander vriende gaan speel nie, omdat ek by die simpel huis moet bly omdat mense siek is. Dit is baie onregverdig! Tweedens, al my data op my selfoon is op, so ek kan nie met my vriende op WhatsApp of TikTok gesels nie. Derdens, mamma en pappa is die hele tyd besig om van die huis af te werk en ek mag nie raas nie, maar weet dominee wat is die heel ergste: ek hou baie van popcorn en hierdie is my laaste pak! R: Skizzels, dit is darm vreeslik erg jong. Ek kan sommer hoor en sien dat dit nie vir jou lekker is nie. Ek is bly dat jy by my kom kla. Skizzels, ek wil ook baie graag by vriende gaan kuier en dit voel vir my ook party dae baie onregverdig dat ek by die huis moet bly omdat ander mense siek is, maar ons moet gehoorsaam wees. Want as ons nie by die huis gaan bly nie, dan is daar die kans dat jy ook siek gaan word. Dit is baie belangrik Skizzels, dat wanneer jy kwaad of gefrustreerd is om daardie gevoelens uit te laat en al doen jy dit partykeer deur so bietjie te kla is dit ook reg, maar kan jy vir jou een stukkie raad gee? S: Ja, dominee! R: Daar is altyd meer rede om voor dankbaar te wees, so ons moet altyd daarop ook fokus. Ek weet van ander maatjies, wat ook heeldag by die huis moet sit, maar hulle het nie eers ’n tuin om in te speel nie. Dit lyk vir my of jy ’n baie groot tuin het om in te speel. Daar is ook ander mense wat glad nie eers ’n selfoon het om met hulle vriende te gesels nie, so darm kan jy nog met slurpie en Boesman oor die foon gesels, al is dit nie so baie nie! S: Dankie, dominee. Ek voel sommer alreeds baie beter nadat ek met ds. Gepraat het. Ek gaan my bes probeer om eers te dink waarvoor ek alles dankbaar moet wees, voordat ek gaan kla. Ek is opgewonde om na ds. Se preek te luister! R: Skizzels, daar is ’n baie mooi lied wat ons in die kerk sing: kyk hoedat die voëltjies vlieg? Dit is ’n lied wat sing oor ons wat net vir die voëltjies en lelies in die veld moet kyk en hoe God vir hulle sorg. Ons moet weet dat God ons baie liewer het as al die voëltjies saam en dat Hy vir ons sorg. Daarom moet ons dankbaar wees. Skizzels, kom sing dit saam met ons! Lied: Kyk hoedat die voëltjies vlieg Seëngroet: Waar kom ons hulp vandaan? Ons hulp kom van die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van die Vader, Seun en Heilige Gees. Herkoms: Baie van ons wonder of ons mag kla. Party is vreeslik skaam en wil nie te vinnig en te veel kla nie, ander kla op ’n daaglikse basis asof daar nie ’n môre is nie. Die regte ou klakouse. Klag is ’n wesenlike deel van die Christelike tradisie en ’n belangrike deel van ’n persoonlike, volwasse, eerlike en geïntegreerde lewe van aanbidding. Die Bybel skep vir ons die ruimte om eerlike vrae oor krisisse, hartseer en lyding te vra. Dit vereis egter dat ons moet glo dat God persoonlik en toeganklik is en daarom kan ons Hom vanoggend met vrymoedigheid nader. Kom ons dien dit deur saam FLAM 318 te sing. Lied: Kom ons nader vanoggend die Here met FLAM 318 (DVD 1.1 ) Vrymoedigheid: Plak klaag woorde teen die kruis:

  • Bekommernis

  • Inperking

  • Onsekerheid

  • Vrees

  • Gedwonge verandering

Elkeen van julle word ook nou uitgenooi om julle eie klaagwoorde op te skryf en dit iewers langs jou neer te sit. Skriflesing: Psalm 13 Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang. Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. Tema: Klag gee Krag Prediking: Dit is ’n aangrypende Psalm, die noodkreet uit die hart van iemand wat swaarkry en God om hulp smeek. Uit vers 4 wil dit lyk asof hy ook ’n gebrek aan lewenskrag ervaar weens die vyand wat sy lewe soek. Vir een of ander rede leer die samelewing vir ons dat ons nie mag kla nie. Viral om nie by God te kla nie. Wat ek egter nie vanuit die leerwyse verstaan nie is: hoekom mag ek nie by God kla nie, terwyl ’n groot gedeelte van die Bybel uit klaag stukke bestaan? God wil hê dat ons na Hom toe moet kom met ons klae. Want Hy weet wat die uitwerking daarvan is indien ons dit nie doen nie. Die vrug van ’n hart wat nooit by God kla nie, word in Psalm 13 aangetref. Eerstens: Let op hoe digter die erns van sy noodkreet beklemtoon deur vier keer te herhaal: “Hoe lank nog, Here?”

  • Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here?

  • Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?

  • Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?

  • Hoe lank sal die vyand my nog oorheers?

’n Opgekropte hart het soms die vermoë dat dit vir ons voel asof tyd stil kan staan. Het julle al agtergekom – al die goeie en voorspoedige tye in ons lewens voel asof dit in ’n oogwink verbygaan, maar moeilike, kommer tye voel soos ’n ewigheid? Merk ook op hoe die digter in ’n tiepe van ’n eensaamheid en verlatenheid verkeer. Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak... Hier word die vrug van dit wat die samelewing ons leer deur nie te kla nie, gepluk! Die tye wat ek van die mees alleen in my lewe gevoel het, was wanneer ek deur diep, donker waters gegaan het en ek nie daaroor gekla het nie. Hoekom wil ons nie kla nie? Is ons te tros? Is ons bang ander sien neer op ons? Ons mag kla, ons moet kla! Ek kan ook in dieselfde asem getuig dat die kere wanneer ek by God of by my naaste so bietjie gaan afpak het, dat ek die teenoorgestelde van eensaamheid en verlatenheid beleef het: ek het gevoel, joe, hete, jitte, jislaaik, maggies, magtie – God is met my. My vrou en my vriende is met my. Ek hoef nie die ding alleen deur te maak nie. Daar is hoop in die toekoms. Dit is nog ’n rede hoekom die Here ons uitnooi na Hom toe, want die gedagte en belewenis van alleenheid, verlatenheid en tyd verlorenheid steel lewenskrag! Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Want daar is lewenskrag by God. Dink net vir ’n oomblik aan die woorde van Matteus 11: 28-30 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” In psalm 13 word die digter se klag opgevolg met ’n besluit om die Here en sy troue liefde te vertrou, om te vertrou dat Hy uitkoms sal gee en aan hom goed sal doen. Sy vertroue in die Here word dus uitgespreek terwyl hy nog in die greep van die spanning van sy omstandighede is. Dit laat my dink aan Filippense 4:4-9, waar Paulus ons uitnooi om ons begeertes in alles aan God met gebed, smeking en danksegging bekend te maak, en ons gedagtes dan te rig op die positiewe, dit wat reg is, dit wat prysenswaardig is, dit wat edel is. Hoekom het Dawid by die Here gaan kla? Hoekom het hy soos hy dit verwoord in vers 6 aan die troue liefde van die Here vasgehou? Want die verlede getuig van die toekoms! Wanneer jy terugkyk op jou lewe dan sal jy keer op keer sien hoe God uitkoms kom bewerkstellig het. Dawid sou dit in sy eie raakgesien het en indien se oë te blind was daarvoor is die Woord van God vol getuienis daarvan. Luister net na die woorde en getuienis van Deuteronomium 7: 6-8 “Jy is 'n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met 'n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. Nagmaal: Ek nooi elkeen van julle nou uit om vanoggend saam met my deel te hê aan die viering van Christus se liggaam. Ek gaan nou vir ons voortgaan in gebed, waarna ek vir ons die Nagmaal sal instel. U is dan meer as welkom om daar waar u, uself bevind, saam die res van die gemeente na te dink oor die betekenis en opoffering van die brood en wyn en dit dan te gebruik. Die gebruik van die Brood Gemeente, Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Dit is ook die hoor van ons klaag en die vereenselwiging daarmee. Breek die brood, deel dit uit, neem, eet en dink daaraan en glo dat Sy liggaam gebreek is tot 'n volkome versoening vir al ons sondes. Die gebruik van die Wyn Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Dit is ook die verligting en vertroosting van ons swaar harte. Skink dit, deel dit uit, neem die wyn, drink, dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot '’n volkome versoening vir al ons sondes. Gebed: Herinnering aan die skrywe van die klaagpsalms. Lied: Prys die Heer.

8 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page