top of page

29 Maart 2020 – Preek Ds Ryno Hurn

Votum: Psalm 1: 1-3 Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Lied: – F318 Nader Tot Die Here – F189 Vul My Hart, O Heer Refleksie vrae ter voorbereiding vir die Woord Met wie omring jy jouself? Waarmee hou jy jouself besig? Skuldbelydenis: Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede (uit Rom 8:6). Gebed: Jesus Losser, wees ons genadig oor vandag en ons verlede. Wees ons genadig …Dankie vir ’n vergeefse verlede. Christus Gesalfde, lei ons in die onbekendheid van môre en oormôre. Lei ons …Dankie vir ’n geborge toekoms. Immanuel, God by ons, sluit ons in van agter en van voor. Sluit ons in … Dankie vir U omhelsing – nou. Skriflesing: Johannes 19: 23-24 “Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat 'n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. Hulle sê toe vir mekaar: ‘Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.’ Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê: ‘Hulle het my klere onder mekaar verdeel, en vir my kleed het hulle geloot.’ Dit is wat die soldate gedoen het.” Tema: Jesus se kleed word verdeel – Waarop fokus ons? Prediking: Daar was nou-nou aan elkeen van ons die vraag gerig: Met wie omring jy jouself? Wanneer ons na die gedrag en optrede van die soldate terwyl hulle vir Jesus gekruisig het dan merk ons op dat hulle ’n baie goeie tyd gehad het. Hulle het as groep vir Jesus geslaan, bespot, gespoeg en toe sommer ook ’n man van die publiek, ’n tydelike militêre opdrag gegee. By die kruis het hulle Jesus se kledingstukke gevat en dit verdeel en ’n lotery gehou om te bepaal wié Jesus se onderkleed sou kry. Elke Jood is gewoonlik in vyf verskillende kledingstukke geklee: Skoene, tulband, belt, ’n tuniek en ’n onderkleed. Daar was vier soldate en vyf kledingstukke. Omdat ’n onderkleed waardeloos was indien dit opgesny sou word, het die soldate besluit om te loot om te bepaal wie dit sou kry. Ons kry die gevoel dat hierdie optredes van die soldate so normaal was. Dat hierdie gebeurtenis wat afspeel ’n blote roetine is waarmee hulle besig was. Die soldate was nie goeie geselskap vir mekaar nie. Die skares wat die kruistog gevolg het, was ook beïnvloed en opgestook deur die soldate visa versa. Daar is ’n gesegde in die kerk wat lui: “Die beste plek om by te wees is by die voete van die kruis.” Die soldate was by die voete van die kruis. Hulle was egter nie besig met aanbidding of truer nie, besig met hulle eie goed. Hulle was besig om te kyk wat hulle kon aas van die sogenaamde misdadiger wat besig is om te sterf. Soldate was gefokus op gierigheid. Op aardse dinge. Hulle het gemis wat aan die gebeur is. Christus wat aan die kruis vir hang soos ’n misdadiger vir die sondes van die hele skepping. Ek wonder: Watter emosies moes Jesus beleef het toe Hy aan die kruis gehang het en die soldate loot oor sy klere? Ek weet watter emosies ek beleef wanneer ek iets vir iemand doen en daar word nie ag geslaan daarop nie of enige waardering betoon nie. Ek voel vernederd, minder werd, so asof dit waarmee ek besig is, nie saak maak nie. Dalk is dit van die emosies wat Jesus beleef het? Wat het die soldate gemis terwyl hulle besig was met hul eie dinge? Wat was aan die gebeur? Die hoë priester hang aan die kruis. Hoëpriesters het ’n onderkleed gedra wat nie ’n soom ingehad het nie. Dit was ’n gebruik dat die moeders van die hoëpriesters dit vir hulle gemaak het. Onder die teologiese stemme is daar ook ’n sterk ondersteuning dat Maria vir Jesus so ’n kleed gemaak het, die dag toe Hy met sy bediening begin het. Die hoëpriester is ’n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word volgens Eks. 28. God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep. Die hoëpriester se funksie was om versoening vir die sondes van die volk asook sy eie te doen deur eenmaal per jaar in die heiligdom van die tempel te verskyn voor die Here. Jesus is egter nie ’n Hoëpriester volgens die orde van Aäron nie. Hy het wel van dieselfde funksie as die Aäronitiese hoëpriester om versoening te doen gehad, maar daar is vier baie groot verskille.

  1. Jesus doen nie vir sy eie sonde versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, want Hy is sonder sonde. Daarom is Hy vir ons die bron van ewige verlossing.

  2. Jesus doen nie net vir die sondes van die volk versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar vir die sonde van die hele wêreld. Só lê Johannes die Doper dit ook uit op grond van die belofte in Jesaja 53:11: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”. Daarom kan Jesus nie maar net ’n Aäronitiese hoëpriester wees nie – Hy was in elk geval nie ’n direkte afstammeling nie – maar moet Hy dit wees as deel van ’n orde wat alle mense insluit.

  3. Jesus is nie net ’n menslike priester wat uit die mense aangestel word soos Aäron se nageslag nie, maar ’n Goddelike priester wat as Seun van God verwek is daarvoor, en daarom vir ewig as ’n priester volgens die orde van Melgisedek aangestel is.

  4. Jesus tree nie net een keer per jaar in vir sy mense soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar elke oomblik van elke dag vir ewig en altyd. Hy is “die bron van ewige verlossing” wat te alle tye ontferming en genade kan gee sodat sy mense op die regte tyd gehelp kan word.

Die soldate het al hierdie dinge gemis. Alhoewel hulle by die voete van die kruis was, het dit hulle verbygegaan. Dit beteken nie, net omdat jy by die voete van die kruis is, jy is besig met die dinge van die Here nie. Verkeerde kringe kan ons fokus laat verloor van wat werklik aan die gebeur is. Ek onthou as kind het Die Huisgenoot tydskrif van tyd tot tyd reg in die middel van die tydskrif ’n prent gehad wat 3D is. Dan moet jy jou oë skrefies maak en probeer sien wat weggesteek is in die prent. Wys so ’n prent. Waarop fokus ek en jy tans in die lewe? Paniek, vrees, angs? Ons fokus op die onbekende en donker toekoms. Die wonder oor hoe gaan Suid-Afrika en die res van die samelewing oor ’n jaar lyk. Hoe gaan my finansies wees? Gaan my vriende en familie, my kinders okay wees? Gaan ek nog ’n werk hê? Met die ekonomie wat nou so tuimel: gaan ek nog ’n pensioen hê? Is ons nie dalk in hierdie tyd van pandemie ook maar net soldate nie? Besig om ons oë skrefies te maak en te fokus op ons eie goed in stede om op te kyk en te sien wat aan die kruis besig is nie? Moet my nie verkeerd verstaan nie: dit is normaal om aan ons situasie te dink en daaroor te wonder, maar dit moet nie ons fokuspunt wees nie. In stede dat ons ook net wee soldate 2000 jaar later is, moet ons as kerk en liggaam van Christus eerder mekaar aanspoor om op te kyk en ons gedagtes te rig aan die kruis. Aan die verlosser wat daar gehang het. Gebed: Herinnering aan ons Vrygee Lied: Daar staan ’n kruis

7 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page