top of page

12 April 2020 Opstanding Sondag

Inleiding van die erediens

Lukas 24:1-9

Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan met die reukolie wat hul reggemaak het. Daar kry hulle die klip weggerol van die ingang van die graf af; en toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan. Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: "Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was en gesê het: Die Seun van die mens moet uitgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word, en op die derde dag opstaan." Toe het hulle sy woorde onthou en van die graf af teruggegaan en al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel.

Seëngroet:

Gemeente, ek groet julle vanoggend in die naam van die opgestane Here, Genade, liefde en vrede vir elkeen van julle/

Gebed:

Verwelkoming:

Baie welkom by hierdie pragtige oggend. Dit is ’n dag van feesviering, want Jesus het opgestaan. Die Lydenstyd is verby.

Aankondigings:

Laaste week van Lockdown

Kerkraad kom Maandag die 4de Mei bymekaar

Verjaarsdae

YouTube channel

E – Bybelskool (Wat beteken Jesus se opstanding en Hemelvaart?)

Kom ons betree hierdie wonderlike oggend erediens met 2 liedboek liedere en 1 flam lied. (noem die liedere)

Liedere:

DVD3

001 Leaded

L184 Lofsing die Here

L199 Loof die Here uit die hemel

F183 Ek hef my oë (My hulp is van U)

Skriflesing: Matteus 28: 1-10

Na die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk. Skielik was daar 'n geweldige aardbewing. 'n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword. Toe sê die engel vir die vroue: “Julle moet nie bang wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. is nie hier nie, want Hy is uit die dood opgewek, soos Hy gesê het. Kom nader en kyk: daar is die plek waar Hy gelê het. Gaan gou en sê vir sy dissipels: ‘Hy is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien.’ Dit is wat ek vir julle moes sê.” Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan, bang maar baie bly, en hulle het gehardloop om dit aan die dissipels te vertel. Skielik het Jesus daar voor die vroue gestaan en hulle gegroet. Hulle het nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Toe sê Jesus vir hulle: “Moenie bang wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet na Galilea toe gaan, en daar sal hulle My sien.”

Tema: Jesus het opgestaan, dit is tyd vir Feesviering

Prediking:

Daar is min dinge in die lewe só lekker soos ’n behoorlike, geesdriftige en lekker feesviering. ’n Verjaarsdag wat gevier word, jou gunsteling rugbyspan wat gewen het, ’n huweliksherdenking en ek is taamlik oortuig dat wanneer die Lockdown verby is, gaan die braaivleisvure behoorlik hoog brand en die gees gaan een van feesviering wees. Ons as Suid-Afrikaners hou daarvan om feesvieringe te hou.

2020 Is tot op hede ’n jaar waar daar in die wêreld nog nie veel rede is om feesvieringe te hou. Die jaar is in besonder ’n uitdagende en moeilike jaar. Sportspanne kon tot dusvêr nie oorwinninge vier nie, verjaarsdae moes agter geslote deure en oor telefone gevier word. Bekommernisse, hand sanitizers, handskoene en maskers is die orde van die dag. Die kerk is die afgelope 7 weke deur Lydenstyd waar feesviering ook nie werklik die orde van die dag is nie.

Hoe lyk die feesvieringe hierdie jaar tot dusvêr in jou lewe? Waaroor het jy rede om fees te vier? Die klompie weke wat verby is, het vir baie van ons die geleentheid gebied om oor dinge te besin en ek is van mening dat een van dinge waaroor daar nuut gedink word is feesviering. Nie net oor die verlange daarvan nie, maar ook die manier en die waarde hiervan.

Ons as gemeente sou as te ware vanoggend saam feesgevier het. Die gedagte was dat elkeen van ons na die afloop van die erediens saam ontbyt moes maak. Dalk moet ons as gemeente, wanneer dinge weer tot normaal terugkeer sommer ’n behoorlike feesviering hou. Die lank beplande en beloofde boma is geskenk en gebou voor die Lockdown. Ons moet dit sommer per dié geleentheid behoorlik inwy.

Terug na ons teks. Matteus 28: 1-10 is dié teks in die Bybel. As daar een Skrifgedeelte in die hele Bybel is wat bo die res van die ander uitstaan is dit die een. As daar een gebeurtenis is wat opgeskrywe is wat uitstaan bo ander verhale van ander godsdienste dat is dit Matteus 28: 1-10. Jesus wat uit die dood uit opgestaan het. Sonder hierdie gedeelte van die verhaal van Jesus, is die geboorte verhaal, al die voorafgaande wonderwerke, optredes en kruising onvolledig. Dit is met die opstanding dat die stuur van die Seun volkome volbring is.

Iets wat ek agtergekom het ter voorbereiding vir die diens is dat dit veel makliker is om feesvieringe te hou as om daaroor te praat. Hoe sal die Engelsman sê “The proof is in the poeding”. Ons gaan kortliks na 3 dinge kyk as dit kom by feesviering:

· Die verlange

· Die hoe

· Die waarde

Verlange

Wanneer ons deur die Ou Testament werk dan sal ons sommer gou-gou opmerk hoe baie feeste daar in die Bybel is. Van Paasfees, na feeste van die eerste oes opbrengs. Jesus se eerste wonderwerk het tydens ’n fees plaasgevind. ’n Bruilofsfees waar Hy water in wyn verander het. Dit is baie duidelik dat die verlange vir feesviering baie groot in die Bybel is.

Ek glo dat daar na die kruisiging ’n somber gevoel onder die dissipels, vrouens en ander volgelinge van Jesus was. Ek glo dat dat hulle baie geïsoleerd, bang en verlore gevoel het. Vir hulle was daar op daardie spesifieke tyd geen rede om feesviering te hou nie? Hoe hou jy fees terwyl jy treur? Ek glo dit is waarom die engel die vrouens gegroet het met die woorde “moenie bang wees nie”.

In Psalm 105 is daar geskrywe “Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf

In ’n baie somber tyd mag dit dalk voel of daar met tye nie genoegsame rede is vir feesviering nie, maar volgens Ps. 105 is dit daar altyd rede, want daar mag geen einde aan die roem van die Here wees nie. Vir ons is elke dag ’n nuwe rede om fees te vier. Al voel dit nie altyd so nie. Elke keer as die son sy kop uitsteek is dit ’n triomfantlike verklaring dat Christus die dood oorwin het. Mag ons in hierdie tyd van isolasie en onsekerheid ook roem en vreugde vind in die Seun se grootste werk – die feit dat Hy uit die dood uit opgestaan het.

Hoe kan ons as gemeente, afsonderlik in ons huise saam vandag Christus se opstanding vier? Steek ’n kers aan en laat dit brand. Neem ’n foto plaas dit op ons gemeente se Facebook-blad, of stuur dit vir my aan.

Manier

Dit gaan baie interessant wees om te sien hoe die samelewing feesvieringe gaan hou wanneer die lockdown verby is. Daar gaan natuurlik dié wees wat nie die volgende oggend alles gaan onthou nie. Ander gaan die strate invaar, jy gaan die kry wat die musiek kliphard gaan speel en sommer die bure ook oornooi. Gaan, gaan omhelsings wees, die reël van social distancing gaan vir ’n oomblik vergete wees. Tog, gaan elkeen dit op sy manier doen. Die groot vraag is: behalwe die wonder oor hoe ons as kerk die oorwinning van die coronavirus gaan vier, hoe gaan ons as kerk, ons as gemeente Christus se opstanding vier? Is dit iets wat ons net een keer ’n jaar moet doen of op ’n daaglikse basis?

Beslis op ’n daaglikse basis. Ek dink egter dat ons dit nie doen nie. As ek so na die samelewing kyk dan lyk dit of die lewe baie swaar op ons druk. Glimlagte en opgewondenheid is min. Die luidrugtige speel van Christus se opstanding musiek is sag – jy kan dit skaars hoor. Omdat ons as kerk die sentrale baken van hoop en genade in die samelewing is, moet ons andér wys dat daar altyd rede is om fees te vier, want dit maak nie saak wat in jou lewe aan die gebeur is nie, of jy ryk of arms, gesond of siek is nie, Christus het die dood kom oorwin en daarmee saam al die ander negatiewe dinge. Mag die werk van die Here vir ons vreugde verskaf.

Waarde

Wat is die waarde van ’n feesviering? Wanneer ek saam met vriende kuier is ek ontspanne, dan raak ek vervul en kry energie om weer aan te gaan. Ek voel deel van ’n groep. ’n Groep mense wat vir mekaar omgee en mekaar aan die Here opdra. Daar is ook ’n onmiddellik gemeenskaplike binding. Iets wat ons almal bind: vriendskap, belangstellings, ons lewensverhale wat iewers oorkruis.

Ons as kerk kan nie die waarde van feesviering mis nie. Wanneer ons die opstanding van Christus vier, breek daar ’n nuwe aanbidding, nuwe etos, nuwe diensbaarheid aan. Daar word nuwe lewe vir die kerk gekweek. Die opstanding beteken vir die kerk die oue is verby, die nuwe het gekom. Die opstanding transformeer die mens tot ’n nuwe skepping. Hierdie nuutheid moet allereers in die erediens aanbidding geskied, van waar ons dit na buite uitleef

Amen.

Lied:

Here Jesus, U skyn oor almal

Gebed:

Vrygee:

Lied:

Daar staan ’n kruis

59 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page