top of page

10 April 2020 Goeie Vrydag

Matteus 27: 35 - 54 // Die kruisverhaal

Verwelkoming:

Vandag is dié donker dag in die kerklike jaar. ’n Dag wat swaar op die harte en emosies van elke volgeling lê. ’n Hartlike, maar tog ’n donker en swaar welkom aan elkeen van julle by vandag se spesiale Goeie Vrydag erediens.

Aankondigings:

Dit is gebruiklik en reg om op ’n besonderse dag soos vandag die nagmaal te gebruik. Hou asb. julle brood en wyn byderhand

Gebed:

Seëngroet

Geliefdes, wees gegroet in die Naam van Jesus Christus, die Seun van God, wat die lydensweg bewandel het tot die absolute uiterste. Tot die dood. Die dood aan die kruis.

Liedere:

Gemeente kom ons sing die volgende twee liedere saam ter voorbereiding om na die Woord van die Here te luister en so ook om ons harte voor te berei om deel te hê aan Sy liggaam met die gebruik van die nagmaal.

L512. Nader, My God, By U

Daar staan ’n kruis

Teks: Verskeie

Tema: Watter karakter van hierdie hele kruistog verteenwoordig jou?

Prediking:

Ek kan nie glo dat ons aan die einde van ons Lydenstyd reeks gekom het nie. Ek hoop dat u die afgelope weke dit saam met my geniet het.

Die tyd wat ons die afgelope paar weke deurmaak is ’n besonderse tyd in die ruimte van die kerk, kan ek ook sê die Kuberruimte van die kerk. Net nou die dag doen ek ’n bietjie ondersoek op YouTube om te sien watse stem, gemeentes, die afgelope tyd, sedert die aankondiging van Lockdown op sosiale media gehad. Wat ek agtergekom het, is verstommend. Ons sal dink, dat omdat gemeentes nie bymekaarkom, dat daar ’n afname in eredienste en Woord verkondiging sal wees, maar al mits nie. Omtrent elke gemeente het op een of ander manier nog steeds haar rol as ligdraer en baken van Hoop vervul deur die Evangelie te verkondig, ten spyt van ’n klomp dinge wat wat aan die gebeur is of altans nie aan die gebeur is nie. God het getrou wysheid en leiding voorsien. God maak gebruik van elke tyd en situasie. Hiervoor dank ons Hom.

Vir vandag se prediking is daar nie ’n bepaalde teksvers wat ons gaan lees nie, maar in stede gaan ons na die hele kruisverhaal in breë kyk. Veral na die spesifieke tyds geleenthede in Jesus se laaste 24 uur.

23 Februarie het ons Lydensreis begin waar ons saam met Jesus in die tuin van Getsemane gewandel en gebid het. Daar het ons gehoor hoe om in spanningsvolle oomblikke op te tree. Ons het geleer vanuit die optrede van Jesus dat ons ’n plek van veiligheid moet hê. Ons het gehoor van die ontsettende waarde van ’n ondersteuning basis en dat ons erkenning moet gee aan die spanningsvolle oomblikke in ons lewens. Ons moet dapper genoeg wees om dit wat ons laat struikel in die lewe, by die naam te noem, juis sodat ons perspektief kan kry en moed kan skep om dit aan te durf. Laastens is Jesus as bidder die volmaakte voorbeeld rakende die rol van gebed.

Die week daarop volgens het ons die verloënde skoene van Petrus aangetrek en eintlik gesien dat elkeen van ons die Here op ’n daaglikse basis, bewustelik en onbewustelik verloën. Daaropvolgend word ons stil in die vorm van Taizé diens. Waar ons saam met Pilatus aan Jesus die vraag gerig het: “Wie is U?”. Ek en jy kon op ’n eenvoudige manier ons uitbeelding van Jesus uitdruk in sand.

Sonder wete verkeer ons die 15de Maart as gemeente vir tyd en wyl ’n laaste keer saam as liggaam en maak ons saam met die soldate wat Jesus gekruisig het, ’n bespotting van die koningskap van Jesus. Daar word ondersoek ingestel oor die doringkroon, mantel en stok wat vir Jesus gegee was. Die kinders in die Kindermoment kon die gedrag van die soldate nie beter vasgryp nie.

Elkeen van ons word toe deur die Here voor ’n skerm geplaas. Ons moet ’n erediens meemaak sonder om mekaar te groet, saam te gesels of om koffie te drink. Dit keer ons egter nie om na die verhaal van Simon van Sirene luister nie en te hoor dat ons as kerk, alhoewel ons nie fisies bymekaar kan wees nie, steeds ’n opdrag in die tyd het en dit is om stories te vertel van hoop asook dat ons nie toeskouers moet wees in die geloof nie, maar vol werklike deelnemers.

Daarna word op saam met die soldate wat vir Jesus gekruisig het geplaas by die voete van die kruis. Ons word daaraan bewus gemaak dat alhoewel ons by die voete van die kruis moet wees, dat die moontlikheid ’n realiteit is dat ons, nes die soldate wat ook by die voete van die krus was, besig kan raak met ander dinge wat veroorsaak dat ons fokus verloor van die kruis. Ons moet ons die samelewing help om op te kyk na die kruis.

Laastens, het ons verlede week die bitter en suur van die kruisiging fisies op ons lippe geproe en besef dat die hele kruisverhaal nie buite die beheer van God was nie. Ons het daardeur hoop gevind en bemoedig geword met die wete dat nie ’n enkele ding wat vandag aan die gebeur is, buite die beheer van God is nie.

Gemeente, watter karakter van hierdie Lydensreis verteenwoordig jou? Of is daar meer as een? Want dit is ook reg. Is jy ’n dissipel wat slaap, wanneer daar gebid moet word? Is jy Petrus wat Jesus verloën? Pilatus wat wonder oor die identiteit van Jesus en ondersoek instel. Is jy dalk Simon wat ’n storie van hoop en genade het? Is jy ’n soldaat wat ’n bespotting van Jesus maak en besig is met die verkeerde dinge?

Ek wil goeie nuus met jou deel: dit maak nie saak watter karakter jou verteenwoordig nie, Christus se genade is genoeg. In Efesiërs 2:8-9 is daar geskrywe “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.” Genade is nie iets wat ons kan verdien nie. Dit is nie ’n reg nie, maar ’n voorreg. Dit is deur die dood en opstanding van Jesus Christus wat God, Sy genade vir ons beskikbaar stel. Paulus skrywe in Romeine 3: 25 “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.” Paulus skryf ook in 1 Timoteus 1: 14 “Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.

Nagmaal:

Hiermee te wete, nooi ek elkeen van julle nou uit om vanoggend saam met my deel te hê aan die viering van Christus se liggaam. Ek gaan nou vir ons voortgaan in gebed, waarna ek vir ons die Nagmaal sal instel. U. is dan meer as welkom om daar waar u, uself bevind, saam die res van die gemeente na te dink oor die betekenis en opoffering van die brood en wyn en dit dan te gebruik.

Gebed:

Gemeente kom ons buig ons hoofde in gebed waar ek vir ons sal voortgaan met gebed, daarna kan ons dan saam die onse Vader gebed, bid.

Here, ons God, dit is gepas dat ons ons dank aan U bring. Ons wil dit altyd en oral doen deur Jesus Christus ons Here. Ons dank U, want dit is U wat die hemel en die aarde geskape het en wat alle dinge altyd in stand hou. U het aan ons die vermoë gegee om U te mag ken en lief te mag hê; om U te mag vertrou en te mag dien. U het ons as mense vir mekaar gegee om lief te hê en na mekaar om te sien. U het u wêreld aan ons sorg toevertrou.

Daarvoor dank ons U.

U het u Seun, Jesus Christus, na die wêreld toe gestuur om ons sonde te kom dra, om alle dinge met God te kom versoen, om die vrede te kom herstel deur sy bloed wat aan die kruis gevloei het.

Daarvoor dank ons U.

Ons dank U vir Jesus Christus, u enigste Seun, wat vir ons gebore is, wat onder ons kom leef het, wat mense kom leer het, kom versorg het, kom dien het. Ons dank U dat Hy oorgelewer is ter wille van ons sonde, dat Hy gesterf het, en dat Hy opgestaan het, sodat ons vrygespreek kan word.

Daarvoor dank ons U.

Terwyl ons dan nou die maaltyd van die Here vier, dank ons U vir die lyding en sterwe van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, en vir sy opstanding. Ons dank U dat Hy leef en regeer, en dat Hy weer sal kom. Ons wil sy dood verkondig totdat Hy kom.

Gemeente: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in die versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Instelling

Die Here het self die nagmaal ingestel. Daarvan getuig Paulus: “Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’ Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle 1. dááruit drink, tot my gedagtenis.’ Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”

Die gebruik van die Brood

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Breek dit, deel dit en neem die brood, eet, dink daaraan en glo dat Sy liggaam gebreek is tot 'n volkome versoening vir al ons sondes.

Die gebruik van die Wyn

Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Skink dit, deel dit, neem die wyn, drink, dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot '’n volkome versoening vir al ons sondes.

Dankgebed

Barmhartige God en Vader Ons loof en prys U dat U uit genade u Seun aan ons geskenk het as Middelaar wat deur sy kruis en opstanding die straf op ons sonde gedra het en so vir ons voedsel en drank van die ewige lewe geword het. Ons dank U dat U aan ons die geloof skenk waardeur ons in hierdie weldade kan deel. Ons dank U dat ons opnuut deur hierdie nagmaal in ons geloof versterk is. Ons bid U dat U deur die werking van die Heilige Gees die gedagtenis aan ons Here Jesus Christus en die verkondiging van sy dood totdat Hy kom, sal gebruik om ons daagliks te laat groei in die regte geloof en die innige gemeenskap met Christus. Ons bid U dat U deur die werking van die Heilige Gees u Goddelike doel met hierdie nagmaal sal bereik. Amen.

Lied:

Prys die Heer

Uitstuur woord

“Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.” 1 Johannes 3:16

0 views0 comments

Recent Posts

See All

PREEK 18 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Gebed: Votum: Psalm 103:1 -2 ‘n Psalm van Dawid. Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die HERE, o my siel, en vergeet

PREEK 11 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Aankondigings: Votum: “Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het. Mag wat ons sê en wat ons dink tog vir U aanneemlik wees, Here, ons Rots en ons Verlosse

PREEK 4 OKTOBER – DS. RYNO HURN

Verwelkoming: Speel die video wat vroeër die jaar op Facebook geplaas is. Oomblik van stilte en waardering vir die saamwees. ’n Oomblik van inneem. Votum: Voorganger: Ewige God, U het ons geroep om le

bottom of page