Pitkos 40
Jesus, waarlik God, waarlik mens
📷 In al drie sinoptiese evangelies, is daar die verhaal waar Jesus aan sy dissipels die vraag rig: “Wie sê die mense, wie is die Seun van die mens?”
Matteus 16: 13-17 “Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.”
Die christelike geloof berus op die identiteit van Christus. Baie sien Jesus as ’n merkwaardig historiese figuur, ander as ’n goeie leermeester of ’n morele voorbeeld, waar ons as christene bely dat Jesus van Nasaret as die lang verwagte Messias is, Wie die Ou Testament kom vervul in die mees aangrypende manier: as die Seun van God.
Die debatte rondom die menslikheid en terselfdertyd die goddelikheid van Jesus is reeds van sy geboorte af aan die gang. Dit is eers in 451 n.C. tydens die kerklike beslissing op die konsilie van Chalcedon waarmee daar ’n bepaalde eindpunt op die Christologiese denkweg bereik is.
Is Jesus halfmens halfgod? Is Hy vol mens? Is Hy vol God? Waarvan is jy oortuig? My oortuiging is begrond deur Pous Leo I (450 N.C. ) in sy beroemde Tomas ad Flavianum verklaring waar hy verklaar dat Christus twee nature het, omdat Hy twee maal gebore is: uit die Vader voor alle tye en uit die maagd Maria in die tyd. Tog is dit dieselfde persoon van die Woord wat albei hierdie geboortes ondergaan en daarin dieselfde bly. Jesus bly waaragtig God en word waaragtig mens. Dit is daarom nie korrek om van Jesus as halfmens en halfgod te dink nie. Hy is ten volle God en ten volle mens.
Waarom moet hy 'n ware en regverdige mens wees?
Hoekom moes Jesus, mens geword het? Kon God nie die sonde straf sonder om vir Jesus aarde toe gestuur het nie? Nee, omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal (a). Maar die mens wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie (b). (a) Esegiël 18:4, 20; Romeine 5:18; 1 Korintiërs 15:21; Hebreërs 2:14-16. (b) Hebreërs 2:26, 27; Psalm 49:8; 1 Petrus 3:18:
Waarom moet hy terselfdertyd ware God wees?
Om deur die krag van sy Godheid (a) die las van die toorn van God (b) aan sy mensheid te kon dra (c) en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee (d).
(a) Jesaja 9:5; 63:3; (b) Deuteronomium 4:24; Nahum 1:6; Ps 130:3. (c) Jesaja 53:4, 11; (d) Jesaja 53:5, 11.Romeine 5:15-17
Die menslikheid van Jesus word nie in die Nuwe Testament bevraagteken nie, want Hy het menslike neigings gehad: Jesus was uit ’n vrou gebore, Hy het honger en dors geword, Hy was versoek, Hy het kwaad geword en die belangrikste – Hy het gesterf! Jesus se Goddelikheid word tot vandag toe bevraagteken. Ons moet egter vandag vir mekaar sê dat die Nuwe Testament genoegsame getuienis bied dat Jesus wel God was. Behalwe die bogenoemde teks verwysings, moet Jesus se opstanding uit die dood die oorhoofse oortuiging wees. Groete Ds. Ryno
Comments