top of page

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK)

Sondag 31

Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit. Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit? Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel. (a)Joh 20:21-23; Matt 16:19. Vraag 85: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit? Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a). (a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8. Deel 3: Oor die dankbaarheid Sondag 32 Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a)Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19. Vraag 87: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a)1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. Sondag 33 Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens? Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (a). (a)Rom 6:1, 4-6; Ef4:22-24; Kol 3:5, 6, 8-10; 1 Kor 5:7; 2 Kor 7:10. Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens? Antwoord: Dit is 'n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug (a). (a)Rom 8:13; Joël 2:13; Hos 6:1. Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens? Antwoord: Dit is 'n hartlike vreugde in God deur Christus (a) en 'n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe (b). (a)Rom 5:1; 14:17; Jes 57:15. (b) Rom 6:10, 11; Gal 2:20. Vraag 91: Wat is goeie werke? Antwoord: Slegs die wat uit 'n ware geloof (a), volgens die Wet van God (b), tot sy eer gedoen word (c), en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie (d). (a)Rom 14:23. (b) Lev 18:4; 1 Sam 15:22; Ef 2:10. (c) 1 Kor 10:31. (d) Eseg 20:18, 19; Jes 29:13; Matt 15:7-9.

Seën vir julle Ds. Ryno Hurn

9 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

Pitkos vir die week - 11 November 2020

Pitkos 33 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Vraag 60: Hoe is jy regverdig voor God? Antwoord: Slegs deur 'n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die

bottom of page