Pitkos 18
Hoe help die Heilige Gees my?
Inleiding:
In verlede week se Pitkos uitgawe het ons gesels rondom die tema: Wat is die Heilige Gees? Ons het gehoor dat die Gees deel is van die Drie-eenheid. Die Gees is nie die Vader nie en ook nie die Seun nie. So is die Vader nie die Seun of die Gees nie en die Seun nie die Vader of die Seun nie. Elkeen is uniek in Sy besonderse manier, maar tog ’n Drie-eenheid. Volgens verskeie Skrifgedeeltes vervul die Heilige Gees ’n baie pertinente rol. Hy is die Een wat ons lei, bemagtig en onderrig. Hierdie week gesels verder saam rondom die tema van die Heilige Gees en spesifiek oor: Hoe help die Heilige Gees my? Om te weet hoe die Heilige Gees ons help moet ons weet hoe die Gees met ons kommunikeer. Eenvoudig gestel: Hoe praat die Gees met ons? Wanneer ek iets doen of kort leiding in die lewe hoe kan ek onderskei tussen my eie stem en die stem van God? Hierdie vraag kan baie wyd beantwoord word, maar vir die doeleindes van ons gesprek gaan ek op twee fokus: deur die Woord en in ons hart. Die Heilige Gees praat heel eerste en die mees pertinente deur die Woord. Ons moet egter nie vergeet nie dat die Woord van God onder leiding van die Heilige Gees geskrywe is en dat die Gees die Een is wat die Woord vir ons oopbreek. Paulus skrywe in 2 Timoteus “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam sodat die mens wat aan God behoort bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.”. En dit is hierdie Skrif, God se Woord in mensetaal, wat die Heilige Gees as openbaring van God aan ons deurgee. Waardeur Hy met ons praat. Dit is egter ook duidelik uit die Skrif dat die eksterne woorde wat deur die Skrif na ons toe kom, in ons harte moet grondvat, moet binnedring, sodat dit vrug kan dra (soos die gelykenis van die Saaier in Matt 13 dit grafies met die vrugbare grond illustreer). Daar is dus ook ‘n “innerlike getuienis” van die Gees wat die Woord van God vasmaak in ons harte en lewens. Calvyn verwoord dit só diepsinnig in sy Institusie: “Want soos God alleen in sy Woord 'n bekwame Getuie vir Homself is, sal die Woord geen geloofwaardigheid in die hart van die mens vind voordat dit deur innerlike getuienis van die Gees beseël word nie. Gevolglik moet dieselfde Gees wat deur die mond van die profete gespreek het, noodwendig ons hart binnedring om ons te oortuig dat Hy dit wat God verbied het, getrou aan ons oorgedra het.”. En let op dat Calvyn ook spesifiek praat van dié dinge wat God verbied. Dit bly onvervreembaar deel van die werk van die Heilige Gees in ons harte dat Hy deur ons die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig. Dat Hy ons teregwys en opvoed. Dat Hy ons onderrig en herinner aan alles wat Hy reeds aan ons openbaar het in die Skrif. Dit sien ons oorvloedig geïllustreer in die lewe van Jesus. Hy kon die duiwel telkens antwoord vanuit sy herinnering aan die Skrif, spesifiek uit die wet, soos die Gees dit deur Moses en ander skrywers neergepen is. Gaan lees sy aanhalings in antwoord aan die duiwel wat kom uit Deuteronomium 8:3, 6:16 en 6:13. Jesus volg hier die voorskrif van die Ou Testament na, soos die Psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre.” (Ps 119:11). Daarom kon Hy in die uur van sy grootste versoeking die aanslag op Hom deur die woorde van die Skrif die hoof bied. Ook Paulus eggo dit en raai ons aan: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16). Soos John Piper dit stel: “The words of Christ are the raw material that the Holy Spirit works with as he teaches us what to say.”
Heidelbergse Kategismus 1, 70, 76, 86
1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k). (a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3. 70 Vraag: Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees? Antwoord: Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a). Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b). (a) Heb 12:24; 1 Pet 1:2; Op 1:5; 7:14; Sag 13:1; Eseg 36:25. (b) Joh 1:33; 3:5; 1 Kor 6:11; 12:13; Rom 6:4; Kol 2:12. 76 Vraag: Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink? Antwoord: Dit beteken nie slegs om met 'n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie (a). Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word (b), dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is (c); al is Christus nou in die hemel (d) en ons op die aarde. Dit wil se dat ons deur een Gees - soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word (e). (a) Joh 6:35, 40, 47, 48, 50, 51, 53, 54. (b) Joh 6:55, 56. (c) Ef 5:29, 30; 3:16; 1 Kor 6:15; 1 Joh 3:24; 4:13. (d) Kol 3:1; Hand 3:21; 1 Kor 11:26. (e) Joh 6:57; 15:1-6; Ef4:l5, l6. 86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19
Dordtse Leerreëls Hoofstuk 3 en 4:
DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND
1. Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof. Daarenteen het hy in die plek daarvan oor homself gebring: blindheid, verskriklike duisternis ydelheid en verdorwenheid van verstandelike oordeel, boosheid, rebellie en hardheid van sy wil en hart, sowel as onsuiwerheid van sy hele gesindheid. 11. Verder: wanneer God sy welbehae in die uitverkorenes tot uitvoering bring en die ware bekering in hulle werk, dan laat Hy die evangelie nie net uiterlik aan hulle verkondig nie. Hy verlig ook nie net hulle verstand kragtig deur die Heilige Gees, sodat hulle die dinge van die Gees van God reg verstaan en onderskei nie. Maar deur die kragtige werking van dieselfde Gees, wat die wedergeboorte skenk, dring Hy ook deur tot in die binneste dele van die mens, open Hy die geslote hart, versag Hy wat hard is en besny Hy wat onbesnede is. In die wil stort Hy nuwe eienskappe in en maak die wil, wat dood was, lewend; wat sleg was, goed; wat onwillig was, gewillig en wat ongehoorsaam was, gehoorsaam. Hy beweeg en versterk die wil sodat dit, soos 'n goeie boom, vrugte van goeie werke kan dra. 12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer. 13. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet. Ek sluit af.
Die Heilige Gees woon in jou.
Die Heilige Gees is jou Helper.
Die Heilige Gees onderrig en herinner jou.
Hy doen dit deur die Skrif.
Hy doen dit in jou hart.
God se seën vir julle Ds Ryno Hurn
Comentarios