Pitkos 9
So baie van ons vriende is besig om hulle van die formele kerk te distansieër en nog ander is baie krities teenoor die kerk. Die formele kerk is vir lank nie meer die tema by geselskappe nie en mense is krities oor die kerk en oor doninees, pastore en priesters. Die Katolieke priesters help ons nou nie veel in die opsig nie (alhoewel dit verseker nie almal is nie). Die formele kerk is onder beleg. Ek persoonlik dink nie dat God in die laaste loopgraaf lê nie, maar geloof is besig om ‘n totale gedaante vewisseling te ondergaan. Ons kan nie meer met ou antwoorde na die mense toe gaan nie. Moet die kerk verander? Dalk. Ek het die vermoede dat die produk waarmee die kerk na die samelewing toe gaan, dateer uit die vorige eeu toe die kerk nog alles geweet het en alles beheer het. Van Sondagsheiliging tot wie mag met wie trou en wie gaan in die hemel kom en wie gaan hel toe. Alles natuurlik mensgemaak.
In gesprek met jongmense byvoorbeeld was dit so interessant om hulle beskouïnge oor seksualiteit te hoor. Hulle dink anders en die andersheid van hulle denke word geïllustreer deur die feit dat ek die afgelope drie jaar geen egpaar getrou het, wat nog nie saam gewoon het nie. Is die wêreld meer sondig? Hulle sê vir my, die feit dat 1.75 uit elke 3 huwelike in die skeihof beland en omdat baie van hulle ouers geskei is, wil ons nie dieselfde fout maak nie. My pa wat my ma verneder en aanrand, maak dat ons twee keer dink oor wat ‘n huwelik is. Ons kyk eers die kat uit die boom uit! Daaroor is die kerk maar bra stom, maar o wee, laat een gay persoon dit in die kerk waag, ontbrand die helse woede.
Ons wêreld vra nuwe antwoorde van die kerk, dit is te sê, as hulle nog enigsins na die kerk kyk vir antwoorde. Mense het hulle eie denkpatrone en dit stem nie noodwendig meer ooreen met die kerk nie. Dit is vir my so hartseer as ek die verduideliking van die Afrikaanse kerke hoor oor dalende getalle. Dit is emigrasie en daar word minder kinders gebore. Ek dink doodeenvoudig dat die kerk (nie geloof nie) nie meer die Bybel kan oopmaak en Hom interpreteer vir die moderne mense se behoeftes nie. Wat sê ons vir jong gelowiges wat albei moet werk, in twee aparte plekke bly en nog geld moet bymekaar maak vir ‘n huwelik of motor of nog moeiliker vir ‘n gesin? Praat ons boodskap nog van die liefde van Christus met mense of is dit verstar in reëls en regulasies? Mensgemaakte reëls. Ek vra net dat daar eerlike opregte gesprekke moet plaasvind oor geloof en sosiale sake waar mense onbevange na die Woord kan luister en God hoor praat.
Ek het net weer onder die indruk gekom van hoe baie mense in ons gemeenskap stil-stil suffer”. Hulle stoei maar op hulle eie, dra die pyn en ontmensliking met medelye. Die geloofsgemeenskap (lees Kerk) het stom geword. Ons het verleer om weer langs mense te gaan sit en woordeloos te huil. Ons het te veel Bybelversies wat ons soos soetkoekies uitdeel en te min van die Samaritaanse man wat stilhou by mense. Ons het so professioneel geword dat die kerk irrelevant geword het. Georganiseerde godsdiens maak my benoud, sê, vra ‘n vriendin.
Geloof moet weer ‘n reddingsboei word. Wanneer iemand ‘n reddingsboei uitgooi is dit die laaste hoop. Hy of sy vra nie: “Kan ek die boei vertrou nie en wie het dit uitgegooi nie?” Ons wêreld is nou daar waar mense smag na reddingsboeie, na lewensredders, na Jesus wat nie vra wat het jy gemaak om so diep in die see te swem nie. Hy red. Hy vra nie hoeveel kos dit nie, Hy red. Ons moet dan ook ten minste na lewensredders lyk, fiks en gesond anders vertrou die drenkeling jou ook nie. Die kerk lyk nie vir my na die lewensreddersboot nie, dit lyk eerder na ‘n ou stukkende vissersboot. Ons sal hom moet oordoen anders sink hy met ons almal aanboord.
Geloof het een belangrike uitvoerproduk: God se liefde en vrede. Dit is waaraan die wêreld behoefte het, nie ‘n klomp mensgemaakte reëls nie.
Van Huis tot huis
Piet Marais 0832590023
Komentarze