top of page

Pitkos vir die week - 7 Julie 2020

Pitkos 19

Waar kom geloof vandaan?


Inleiding:

Vir die volgende sewe weke gaan ons stilstaan by die tema van geloof en geloofsbelydenisse. Ons gaan ondersoek instel rakende wat geloof is en waar dit vandaan kom. Is geloof genoeg? Wat sê die boek van Jakobus vir ons? Daar gaan ook afsonderlik gekyk word na die drie verskillende Geloofsbelydenisse wat ons in die NG Kerk het, (Nicea; Apostolies en Athanasius) asook die Belydenisskrif van Belhar.

Wat is geloof?

Geloof is ’n baie moeilike konsep om te definieer. Wat is geloof? Daar word so maklik vir iemand gesê: “Man, jy moet net glo”. Wat is geloof? Hebreërs 11:1 “Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie. Hebreërs 11:1 is vir my die definiëring en samevatting van wat geloof is: sekerheid, hoop en oortuiging. Sekerheid – ek ’n kind van God is, hoopvol – dat Christus weer gaan terugkom en oortuig – dat Christus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het. Hoe sal jy geloof definieer?

Waar kom geloof vandaan?

Waar kom geloof vandaan? Drie verskillende Skrifgedeeltes is geraadpleeg en die volgende staan vir my uit: Efesiërs 1:13 Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het. (NLV) Dade van Christus Galasiërs 5:5-6 Wat ons betref, die Gees laat ons uitsien na dit waarop ons hoop: vryspraak deurdat ons glo. Vir mense wat met Christus verenig is, is dit nie belangrik of jy besny is of nie besny is nie. Wat egter wel belangrik is, is geloof wat deur liefde dade word. (NLV)

  • Die Heilige Gees

  • Vooruitsig

  • Hoop

  • Vryspraak

  • Om verenig te wees met Christus (God Drie-eenheid)

  • Liefde

Kolossense 1:3-6 In al ons gebede dank ons God, die Vader van ons Here Jesus Christus, vir julle, want ons het gehoor dat julle in Christus Jesus glo en van julle liefde vir al God se mense. Julle doen dit omdat julle hoop om dit te ontvang wat in die hemel vir julle gereed lê. Julle het daarvan gehoor toe die waarheid van die Goeie Nuus aan julle verkondig is. Dieselfde Goeie Nuus wat julle bereik het, gaan ook oor die hele wêreld uit. In die hele wêreld dra dit goeie vrug en versprei dit, net soos dit by julle gebeur het vanaf die dag toe julle die waarheid oor God se genade gehoor en verstaan het. (NLV)

  • Om in Christus te glo

  • Om te hoop

  • Om die evangelie te hoor

  • Om die evangelie te verkondig

Heidelbergse Kategismus 65

Vraag: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord: Die Heilige Gees werk dit in ons harte (a) deur die verkondiging van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van die sakramente (b). (a) Ef 2:8; 6:23; Joh 3:5; Fil 1:29. (b) Matt 28:19; 1 Pet 1:22-23.

Dordtse Leerreëls 2.1.6-7; 3-4.1.12-14

Hoofstuk 2: DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENSE DEUR SY DOOD 6. Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld. 7. Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is. Hoofstuk 3 en 4: DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND 12. Dit is die wedergeboorte, die nuwe skepping, die opwekking uit die dood en die lewendmaking waarvan die Skrif so heerlik spreek wat God sonder ons in ons werk. Dit alles word glad nie deur die uiterlike prediking alleen, deur morele oorreding of op enige ander wyse in ons gewerk nie, sodat, na die voltooiing van God se werk, dit dan in die mens se mag sou lê om weergebore te word of nie, om bekeer te word of nie. Dit is 'n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike, verborge en onbeskryflike daad van God. Volgens die getuienis van die Skrif wat deur Hom, die Outeur van hierdie werkinge, geïnspireer is, is dit in sy krag nie minder of geringer as die skepping of die opwekking van die dooies nie. Die gevolg is dat almal in wie se harte God op hierdie wonderlike wyse werk, sekerlik, onfeilbaar en kragdadig weergebore word en daadwerklik glo. Dan word die wil, wat nou vernuwe is, nie alleen deur God gedryf en beweeg nie, maar omdat dit deur God beweeg word, werk dit ook self. Daarom word ook tereg gesê dat die mens, deur die genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer. 13. Die aard van hierdie werking kan die gelowiges in hierdie lewe nie volkome begryp nie. Intussen is dit vir hulle 'n gerusstelling dat hulle weet en oortuig is dat hulle deur hierdie genade van God van harte glo en hulle Verlosser liefhet. 14. So is die geloof dan 'n gawe van God, nie omdat dit deur God aan die vrye wil van die mens aangebied word nie, maar omdat dit aan die mens inderdaad geskenk word en vir hom ingegee en ingestort word. Ook is dit nie so dat God net die vermoë om te glo gee nie en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die daadwerklike geloof verwag nie. Sowel die wil om te glo as die geloof self word in die mens tot stand gebring. Immers, Hy wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk, bewerk alles in almal.

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

0 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page