Pitkos 32 Die veelstemmigheid oor die Skeppingsverhaal.
📷“In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Hierdie 11 woorde is sekerlik dié bekendste openings frase van enige boek wat al ooit geskrywe is. Kan jy aan ’n meer populêre frase dink? Sedert argeologiese opgrawings begin het, was daar van die begin af baie duidelikheid dat daar meer geskrywe is oor die skeppingsverhaal as enige ander onderwerp onder die verskillende gelowe.
In Genesis kry ons twee sogenaamde skeppingsverhale. Die eerste verhaal is die bekende ses-dae verhaal. Dis die jongste van die twee verhale. Alles was woes en leeg. En God het orde gebring. ’n Gedig. Die gedig is simmetries gekomponeer, en is bedoel as 'n lied wat by tempelbyeenkomste gesing is. Die verhaal in Genesis twee vertel 'n totaal ander verhaal. Die skeppingsverhaal vertel dat die mense heel eerste geskape is, en nie op dag 6 soos wat die eerste verhaal sê nie. En in hierdie verhaal skape God nie die mens deur net 'n woord te spreek soos in die eerste verhaal nie. Hier maak God die mens uit stof en blaas lewe in hom in. Adam begin te lewe.
Tot en met die 19de eeu was daar geglo dat die Bybel die oudste boek was en sy verhale almal oorspronklik, maar met Argeologiese opgrawings sedert die 19de eeu, is daar ontdekkings gemaak dat dit wel nie so is nie. m.b.t. die skeppingsverhaal is tablette opgegrawe wat baie ouer dateer as die skeppingsverhaal van Genesis. Die Enuma Elish (wat ook bekend staan as die seven tablets of creation ) is een van hulle. Die Enuma Elish is ’n Mesopotamiese skeppings mite wat ongeveer 1124 v.C. terug dateer, tydens die Babiloniese tydperk.
Hierdie opgrawings het baie vrae ontlok, vrae wat ons vandag nog vra: is die Genesis skeppingsverhaal ’n kopie van die Enuma Elish en ander verhale? Hoe moet ons die skeppingsverhaal lees en verstaan? Is dít ’n historiese skryfstuk of wil die verhaal van Genesis vir ons iets anders kom vertel?
Lees die Enuma Elish Skeppingsverhaal en vergelyk dit met die Genesis verhaal:
Voordat die aarde geskape is, was daar net ‘n watermassa. Hierdie watermassa het uit twee soorte waters bestaan: vars water (dit is, die god Apsju), en brak water (dit is, die godin Tiamat). Uit Apsju en Tiamat is die god Ea gebore, en Ea was die vader van die god Mardoek. Mardoek rebelleer toe teen die oorheersing van die ou gode. Uiteindelik het Mardoek Tiamat doodgemaak. Toe het hy uit een helfte van haar liggaam die hemel en uit die ander helfte die aarde gemaak. Daarna het hy die son, die maan en die sterre gemaak en hulle aangestel om die tyd op aarde aan te dui. Toe het hy droë grond laat verskyn en op die droë grond het hy plante en diere geplaas. Toe het het hy Tiamat se generaal, Kingu, doodgemaak en van sy bloed het hy mense gemaak.
Indien die Genesis verhale kort na die ballingskap in Babel onder Babiloniese oorheersing geskryf is, hoe moet dit dan gelees word? Moet ons die skeppingsverhaal letterlik verstaan? Het God die aarde en alles daarop, die see en alles daarin asook die hemelruim in 6 dae geskape?
Ek wil ons graag aanmoedig om weg te beweeg van die historiese en wetenskaplike vrae en eerder na die geloofsgetuienis te beweeg. In alles moet ons die goue draad raaksien – daar is ’n SKEPPER. As ‘n mens die getuieniskarakter van hierdie skeppingsverhale verstaan, dan is die wetenskaplike en historiese vrae rondom Gen. 1 en 2 doodgewoon irrelevant. Die wetenskaplike en historiese vrae is nie die punt nie. Dát God die Skepper is (“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde”), dat Hy alles onderhou en in beheer van sy Skepping is, dat Hy sy Skepping “goed” vind en dit liefhet. Hy is alleen God. Hy het geskep deur Woord en Gees. Dat Hy vir mens, plant en dier lewensruimte wil gee en hulle wil leer om in verhouding met Hom te lewe. Dít is die boodskap van die skeppingsverhaal. Dit is dié stem wat ons ore moet prikkel.
Groete Ds. Ryno Hurn
Commenti