top of page

Pitkos vir die week - 7 April 2020

Pitkos 9 Wat beteken Jesus se kruisdood en vergifnis van sonde?

Inleiding:

Ons is in die Groot Lydensweek van die kerklike kalender. Dié week vra van elkeen van ons dat ons stil en afgesonder moet word sodat ons kan nadink oor die lyding van Christus. Die Groot Lydensweek het reeds Sondag, 05 April 2020 afgeskop met Palmsondag. Die dag wat herdenk word toe Jesus, Jerusalem binnegekom het op die rug van die donkie. Donderdag, 9 April vier ons die instelling van die nagmaal, waar baie gemeentes die gebruik het om self ook die nagmaal te gebruik. Vrydag is Goeie Vrydag, die dag waar ons moet rou en in smart moet ingaan. Dis die dag waar ons Verlosser gemartel, gekruisig en gesterwe het. Saterdag, 11 April is bekend as Stil Saterdag. Stil, want Christus het ter helle neergedaal en die rumoer op Golgota is verby. Opstanding Sondag is na regte die belangrikste dag in ons geloof, want dis die dag waar die dood oorwin is. Hierdie week se Pitkos handel oor die tema: Wat beteken Jesus se kruisdood en vergifnis van sonde.

Kruisdood:

Die kruisdood en vergifnis van sonde is vir elke persoon ’n unieke en persoonlike gebeurtenis. Daarom is hierdie skrywe vanuit my perspektief en hoop ek dat jy ook hierby sal baat vind. Aan die einde word daar ook gekyk na die Geloofsbelydenisse, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls Daar is 5 betekenisse wat Jesus se kruisdood vir my inhou, wat diepgewortel is in my denke en waardes, wat uitloop op die vorm en verstaan van my geloof.

1. Bewys van genade

Die dood van Jesus aan die kruis is vir my die grootste bewys van God se genade. Die Ou Testament is vol verhale waar God wraak neem op die sonde en in baie gevalle ook op die sondaar. Die storielyn het nie in die Nuwe Testament verander nie. Dit het egter net van gesig verander. In die Nuwe Testament neem God nog steeds wraak op die sonde, maar as bewys van Sy liefde en genade, word die sondaar nie meer gestraf nie, maar in stede, Sy Seun, Jesus Christus. Die vlekkelose, neem die plek van die vlekkevolle in. Dit word so mooi verwoord in die Geloofsbelydenis van Athanasius 38: “wat ter wille van ons saligheid gely het, wat die angste van die hel tot in die dood ondergaan het, op die derde dag uit die dood opgestaan het...”

2. Sonder straf

Alhoewel ek nie die las en dood van my sonde hoef te dra nie, beteken dit nie dat ek nie soms die gevolge van my sondige natuur gaan beleef nie. Hierdie besef roep my op tot ’n lewe van gehoorsaamheid en dankbaarheid. Paulus skrywe in Romeine 6 dat ons nie moet aanhou sonde doen sodat die genade moet toeneem nie, maar dat ons in die diens van die wil van God moet staan.

3. Ingaan van die Hemelse Heiligdom

Hebreërs 10:19-22 “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.” Danksy deur die bloed van Jesus mag ons die volle vrymoedigheid neem om in die hemelse heiligdom in te gaan. Omdat ek in en deur die vrygespreekte genade van God lewe, is ek nie gebonde tot die dood van die sonde nie, maar is die Weg vir my oopgebaan na die Hemelse Heiligdom.

4. Tempel se voorhangsel is geskeur

Ek het direkte toegang tot God. Ek het nie een of ander menslike, tydelike middelaar nodig nie, want die volmaakte Middelaar tree elke dag vir my in.

5. Ek is deel van iets veel groter as myself

Die kruisdood maak my bewus dat ek deel is van iets veel groter as myself en my aardse planne. Ek is deel van ’n Koninkryk familie. Die Kruisdood van Christus bied vir my die ruimte om deel te wees van ’n geloofsgemeenskap. Sy Kérk, Sy Geméénte.

Vergifnis:

1. Nuwe mens

Efesiërs 2: 10 “...God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Ek wil soms glo dat die persoon wie ek gister was, dieselfde is as vandag en môre. Deur die vergifnis van my sonde, is dit nie moontlik om dieselfde persoon te wees nie. Ek is uit genade en nie deur my eie verdienste, elke dag ’n nuwe mens.

2. Daar is vrede

Sonde se grootste uitwerking is die verstoring van vrede. Dit bring golwe in verhoudings. Die vergifnis van sonde herstel dit en bring vrede. Die vrede word bewerkstellig op drie plekke.

  • Tussen my en God

  • Tussen my en medemens

  • Tussen my en myself

3. Is een met God die Vader

Sekerlik die grootste voorreg van vergifnis is om een met die Vader te wees. Die swaard en las van die sonde is nie meer die tussenganger tussen my en die Vader nie. 4. Is Volmaak geheilig

Hebreërs 10:14-18 “Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig. Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar: ‘Dít is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel gaan sluit, verklaar die Here: Ek sal my opdragte inskryf in hulle harte en Ek sal dit in hulle verstand graveer.’ Dan voeg Hy daarby: ‘Ek sal aan hulle sondes en hulle oortredings nooit weer dink nie.’ Inderdaad, waar sondevergifnis 'n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie Om Volmaak geheilig te word beteken vir my dat God belowe om nooit weer aan my sondes en oortredings te dink nie. Hy belowe ook dat Hy sy opdragte inskryf in my hart en ingraveer in my verstand.

Geloofsbelydenisse:

Apostoliese Geloofsbelydenis 3-4 (Ek glo in Jesus Christus) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het. Geloofsbelydenis van Athanasius 37-38 37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus, 38. wat ter wille van ons saligheid gely het, wat die angste van die hel tot in die dood ondergaan het, op die derde dag uit die dood opgestaan het. Geloofsbelydenis van Nicea 4 4) Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Nederlandse Geloofsbelydenis 21 DIE VERSOENING DEUR CHRISTUS Ons glo dat Jesus Christus - kragtens 'n eed - 'n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare breed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos 'n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is' (Jes. 53:5, 7, 9); dat Hy as 'n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het uitgeroep: 'My God, my God, waarom het U My verlaat' (Matt. 27:46). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Filp. 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb. 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt. 1:21). Ps. 110:4; Heb. 5:10; Rom. 5:8-9; Kol. 2:14; Heb. 2:9, 17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5, 7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Matt. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filp. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18-19; Joh. 10:9; Heb. 9:25-26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31.

Heidelbergse Kategismus 37-41, 43-44

37 Vraag: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely? Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het (a). So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer (b) ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos (c) en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf (d). (a) Jes 53:4; 1 Pet 2:24; 3:18; 1 Tim 2:6. (b) Jes 53:10; Ef 5:2; 1 Kor 5:7; 1 Joh 2:2; Rom 3:25; Heb 9:28; 10:14. (c) Gal 3:13; Kol 1:13; Heb 9:12; 1 Pet 1:18, 19. (d) Rom 3:25; 2 Kor 5:21; Joh 3:16; 6:51; Heb 9:15; 10:19. 38 Vraag: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely? Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word (a) en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom (b). (a) Joh 18:38; Matt 27:24; Luk 23:14, 15; Joh 19:4. (b) Ps 69:5; Jes 53:4, 5; 2 Kor 5:21; Gal 3:13. 39 Vraag: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op 'n ander manier gesterf het nie? Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het (a), omdat die kruisdood deur God vervloek is (b) (a) Gal 3:13. (b) Deut 21:23. 40 Vraag: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het? Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b). (a) Gen 2:17. (b) Rom 8:3, 4; Heb 2:14, 15. 41 Vraag: Waarom is Hy begrawe? Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a). (a) Hand 13:29; Matt 27:59, 60; Luk 23:53; Joh 19:38. 43 Vraag: Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis? Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a). Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c). (a) Rom 6:6. (b) Rom 6:6, 12. (c) Rom 12:1. 44 Vraag: Waarom volg daar: en neergedaal het na die hel? Antwoord: Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a). Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het. (a) Jes 53:5. (b) Ps 18:5, 6; 116:3; Matt 26:38; 27:46 Heb 5:7

Dordtse Leerreëls 2.1.1-5

Hoofstuk 2: DIE DOOD VAN CHRISTUS EN DIE VERLOSSING VAN DIE MENSE DEUR SY DOOD 1. God is nie alleen in die hoogste mate barmhartig nie, maar ook in die hoogste mate regverdig. Sy geregtigheid - soos Hy Hom in sy Woord geopenbaar het - eis dat ons sondes, wat teen sy oneindige majesteit begaan is, nie alleen met tydelike nie, maar ook met ewige strawwe na siel en na liggaam gestraf moet word. Ons kan aan hierdie strawwe nie ontkom nie, tensy aan die geregtigheid van God voldoen word. 2. Ons self kan geen voldoening gee om ons van die toorn van God te bevry nie. Daarom het God uit oneindige barmhartigheid sy eniggebore Seun as borg aan ons gegee. Die Seun het vir ons, of in ons plek, sonde en vervloeking aan die kruis geword om vir ons te voldoen. 3. Hierdie dood van die Seun van God is die enigste en volmaakte offer en voldoening vir die sondes. Sy dood is van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen. 4. Hierdie dood het daarom so 'n groot krag en waarde, omdat Hy wat dit ondergaan het, nie alleen 'n ware en volkome heilige mens is nie, maar ook die eniggebore Seun van God. Hy is saam met die Vader en die Heilige Gees een en dieselfde ewige en oneindige Wese. So moes ons Verlosser dan ook wees. Boonop het sy dood so 'n groot krag en waarde, omdat Hy geweet het dat Hy die toorn van God en die vloek, wat ons deur ons sondes verdien het, gedra het. 5. Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof. Volgende week: Wat beteken Jesus se opstanding en hemelvaart?

Groete

Ds. Ryno Hurn

29 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page