top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 6 November 2019

Pitkos 43

1ste – 3de Gebod

Inleiding tot die 10 Gebooie

📷 Die sprekende GodDeur die verloop van die Bybel, lees ons gereeld waar God met sy volk in gesprek tree. Die gedagte van ’n sprekende God is nie veronderstel om ’n vreemde konsep vir ons te wees nie. Wat Eksodus 20 egter anders maak as die ander spreek geleenthede is dat God die keer nie deur ’n profeet praat nie, maar dat God, self praat: “...toe het God al woorde gespreek en gesê” (Eksodus 20:1).

Hierdeur wil God vir ons kom sê dat Hy in gesprek met ons wil wees en nooi Hy ons terselfdertyd ook uit om in gesprek met Hom te wees. Onmiddellik van die staanspoor af kan ek my net indink hoe ‘anders’ hierdie openbaring van God aan die volk moes wees. Die volk kom uit ’n land van afgodedienste en waar die gode nie terugpraat nie. Hier openbaar God Homself as die Een wat praat, maar nog meer, die Een wat eerste praat.

Die 1ste Gebod

Heidelbergse Kategismus94 Vraag: Wat gebied God in die eerste gebod? Antwoord: Ek moet ter wille van my siele heil en saligheid alle afgodery (a), towery, waarsêery, bygeloof (b), aanroeping van heiliges of ander skepsels (c) vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken (d), Hom alleen vertrou (e), my slegs aan Hom met alle nederigheid (f) en geduld onderwerp (g) en van Hom alleen alle goeie dinge (h) verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê (i), vrees (j) en eer (k). Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel (l).

(a) 1 Joh 5:21; 1 Kor 6:10; 10:7, 14. (b) Lev 19:31 Deut 18:9, 10, (c) Matt 4:10; Op 19:10; 22:8, 9. (d) Joh 17:3. (e) Jer 17:5, 7. (f) 1 Pet 5:5. (g) Heb 10:36; Kol l:11; Rom 5:3, 4; I Kor 10:10; Fil 2:14. (h) Ps 104:27; Jes 45:7; Jak 1:17. (i) Deut 6:5; Matt 22:37. (j) Deut 6:2; Ps 111:10; Spr 1:7; 9:10; Matt 10:28. (k) Matt 4:10; Deut 10:20. (l) Matt 5:29; 10:37; Hand 5:29.

95 Vraag: Wat is afgodery? Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel (a).Ef 5:5; 1 Kron 16:26; Fil 3:19; Gal 4:8; Ef 2:12; 1 Joh 2:23; 2 Joh 9; Joh 5:23.Hoe weet die mens dat hy die een ware God aanbid?’n Vraag wat al verskeie kere aan my gerig is: dominee, hoe weet ons dat ons reg is? Die Jode glo dat hulle reg is, die Moslems is toegewyd asof hulle die ware geloof het. Hoe weet die mens dat hy die een ware God aanbid? Die antwoord kan alleenlik in Skrif gevind word. Die God wat die volk uit Egipte gelei het, Hy is die één ware God. Die God van die geskiedenis is die ware God. In Hosea 12:10 bevestig God Homself as die God van daad. In die geskiedenis van sy volk het God getoon dat Hy waarlik God is. Dit was God wat op die berg Karmel met vuur geantwoord het dat die volk uitgeroep het: “die Here, Hy is God.” (1 Konings 18:39).

Toe Naäman genees was, het hy gesê: “nou weet ek dat daar is geen God op die hele aarde nie, behalwe in Israel” (2 Konings 5:15). Wat vertel die geskiedenis vir ons? Elke vreemde god, wat buite die heilsdaad van die uittog gestaan het, was die ander gode, die nie-gode aan wie Israel niks te danke gehad het nie.Geen mens sonder aanbidding nie!Dr. Willie Marais in sy boek getiteld “Die tien woorde van God” skryf dat elke mens die behoefte het om ’n god te aanbid. Hy gaan vêrder en deur te sê dat “as ongelowige mens rig die mens hierdie behoefte aan ’n god, egter nie op die een ware God nie, maar op enige iets anders wat die plek van die ware God moet inneem. Dit is dan wanneer die mens self vir ’n stuk hout sê: ‘jy is my vader; en vir ’n klip; jy het my gebaar’ (Jeremia 2: 27)

Ek ondersteun vir dr. Marais. Elke persoon het die behoefte om ’n God te aanbid. Hierdie behoefte is deel van wie ons is. God moedig ons egter aan om nie hout, klip of onsself te aanbid nie, maar die één ware God. Die God van die uittog.

Die 2de Gebod

Heidelbergse Kategismus96 Vraag: Wat eis God in die tweede gebod? Antwoord: Ons mag God op geen enkele manier afbeeld nie (a) en Hom op geen ander manier vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie (b). (a) Jes 40:18, 19, 25; Deut 4:15, 16; Rom 1:23; Hand 17:29. (b) 1 Sam 15:23; Deut 12:30; Matt 15:9.

97 Vraag: Mag ons dan glad nie beelde maak nie? Antwoord: God kan en mag op geen enkele manier afgebeeld word nie (a). Die skepsels mag wel afgebeeld word, maar God verbied dat ons van hulle afbeeldings maak en besit om dit te vereer en Hom daardeur te dien (b).Jes 40:25. (b) Eks 34:17; 23:24; 34:13; Num 33:52.Die manier van aanbiddingDie eerste gebod leer ons wie ons moet aanbid, die tweede gebod leer ons hoe om te aanbid. Israel, deur nie beelde in hul aanbidding te hê nie, het die godsdiens van Israel van al die ander godsdienste verskil en hulle hul God as die gans andere verklaar.

Mag ons beelde maak van God/Jesus soos ’n kruis met Jesus op? Die antwoord op hierdie vraag is te vind in die Skrif. So is die koperslang wat Moses gemaak het, toe ’n plaag van giftige slange die volk bedreig het, deur Israel bewaar, maar later deur koning Hiskia stukkend gekap toe die volk daarvoor offerrook laat opgaan het. Die maak van die koperslang was nie die probleem nie, want God het self vir Moses gesê om dit te maak, maar toe die volk aan hierdie voorwerp offers bring, het dit ’n afbeeldsel van God geword. Vanuit hierdie verhaal is dit duidelik dat dit nie verkeerd is om ’n beeld of skildery van Christus te maak nie, mits dit nie verheerlik of aanbid word nie.  Vanuit die hele Skrif is baie duidelik dat ons geen beelde nodig het om God te aanbid nie, want die één ware God kan nie afgebeeld word nie.

Die 3de Gebod

Heidelbergse Kategismus99 Vraag: Wat eis die derde gebod? Antwoord: Ons mag die Naam van God nie laster of misbruik deur te vloek (a), deur 'n valse eed (b) of deur onnodig te sweer nie (c). Verder mag ons nie deur stil te bly of dit toe te laat ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie (d). Kortom, ons mag die heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik nie (e), sodat Hy deur ons reg bely (f), aangeroep (g) en in al ons woorde en werke geprys word (h).Lev 24:15, 16. (b) Lev 19:12. (c) Matt 5:37; Jak 5:12. (d) Lev 5:1; Spr 29:24. (e) Jer 4:2; Jes 45:23. (f) Matt 10:32; Rom 10:9, 10. (g) Ps 50:15; 1 Tim 2:8. (h) Kol 3:17; Rom 2:24;1 Tim 6:1.God en sy naam. Die realiteit, God se bestaan word gekenmerk deur sy naam. Wanneer Hy Homself aan mense openbaar dan doen Hy dit deur sy naam. Soos genoem in Sondag se erediens, wanneer ons God se naam misbruik, dan verkondig ons ’n God wat vals is.

Hoe moet ons die naam van God gebruik? Hoe gebruik jy die naam van God? Daar is ’n gesegde wat sê “wegkyk is ook sien”, hiermee in gedagte die volgende: wanneer ons stilbly vir God se naam, hetsy dit wanneer iemand iets doen of iets sê of wanneer ons nie die naam van God gebruik soos nodig nie, misbruik ons nie dalk ook die naam van God nie? Stilbly is ook praat. Geseënde week Ds. Ryno Hurn

11 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Kommentare


bottom of page