top of page

Pitkos vir die week - 5 Mei 2020

Pitkos 13

Klag

Inleiding: Hoekom kla ons?

Wie sou in die begin van die nuwe dekade kon raai dat dít so sou begin? Hierdie jaar reeds so uniek en anders as die ander jare. ’n Besonderse jaar. ’n Moeilike jaar. ’n Jaar wat sovêr gekenmerk word deur angs, onsekerheid, bekommernis en inperking. Wat moet ons hiermee alles maak? Hoe verwoord ons dit? Hoe laat ons dit uit, sodat die emosies en bekommernisse nie soos ’n gif op jou val en jou stadig maar verseker wegvreet nie? Kla! 2020 is die perfekte jaar om klaagliedere te sing. Teoloog NT Wright wys daarop dat in die Bybelse tradisie klaagliedere en -gebede ontstaan wanneer gelowiges se vrae oor die ellende in die wêreld onbeantwoord bly. Ons sing klaagliedere wanneer ons nie meer enige rasionele verklarings of troosvolle versekerings oor het nie. Wanneer ek my oor teen die bors van die samelewing druk, dan hoor ek ’n swaar hartklop. ’n Hartklop wat gebuk staan. ’n Hartklop wat ’n uitlaat van druk soek. Kla! Ons gaan hierdie week saam gesels rondom die gesonde waarde en noodsaaklikheid van klag. Daar is ’n verskriklike gesegde onder ons as Afrikaners: “Dit is lekker om te kla, net jammer niemand luister nie!” GOD luister en sy KERK luister. ’n Groot gedeelte van die Psalms bestaan uit klaagliedere. Daar is selfs ’n boek in die Ou Testament wat getiteld is: KLAAGLIEDERE. Die kern van klaagliedere in die geheel is dat gebede gerig word tot God. Dit word gebore uit ons verbondsverhouding met God. Om ’n klaaggebed te bid of te sing is daarom meer as om net te kla dat die wêreld vol pyn en ellende is. Dit is om God direk aan te roep om iets daaraan te doen. Klaaggebede is ’n uiting van geloof in ’n tyd wat ons geloof uitdaag. ’n Geloof dat God nie afwesig is in ons lyding nie. Wat ’n ideale tyd vir klaaggebede en liedere. Daar word twee verskillende soorte klaagliedere in die Bybel opgeteken:

  1. Klaaglied van die volk (Westermann 1989:21-41;Eybers 1978:27) — Psalms wat gedig is na aanleiding van nasionale rampe soos hongersnood en aanvalle van vyandelike magte (Pss. 80; 44; 74; 79).

  2. Klaaglied van die enkeling (Westermann 1989:65-122; Eybers 1978:27) — Psalms wat deur die aanroep van die Here gekenmerk word, gevolg deur ’n gebed om hulp, sekerheid van verhoring en soms ook ’n gelofte (Pss. 6; 13; 22; 51).

Hoe moet ons kla?

Die struktuur en uitlegging van die klaagpsalms bied vir ons baie leiding rakende hoe om behoorlik te kla.

  1. Roep die Naam van die Here aan:

Die aanroep van die Naam van die Here kom voor in elke klaagpsalm en is ’n belangrike element. Die verskillende aanspreekvorme wat gebruik word in die klaagpsalms is die volgende:

  • O, God Psalm 42-43, 44,60, 74, 79

  • God Psalm 77

  • My God Psalm 22

  • Here Psalm 6,9-10,13, 35, 39, 85, 89, 90, 102

  • Here my God Psalm 88

  • Herder van Israel Psalm 88

Die aanroep van die Naam van die Here plaas hierdie klaagliedere binne die raamwerk van gesprek tussen mens en God. Hierdie klaagliedere is nie meditasies, alleenspraak of persoon-tot-persoon-gedagtewisselings nie. Ons moet hier in gedagte hou wat Anderson (1983:103) skryf: “In the psalms of lament, then, we do not find people shaking their fists in protest at a cold and brassy heaven or resigning themselves grimly to impersonal fate, but people who testify, even in times when they walk through the valley of dark shadow, that God is faithful and concerned.

  1. Ontbloot jou hart

In die klag wat verwoord word, word die probleem wat ontstaan het, beklemtoon. Kenmerkend van hierdie beklemtoning is die harde en veroordelende vrae (Waarom? of Hoe lank nog?). Hierdie vrae verwoord die ervaring van dit wat verkeerd verloop het in die lewe van die digter. Hierdie klag is nie ’n klag van onderwerping of oorgawe nie, maar is klag in die volle sin van die woord, naamlik ’n klag van protes. In sterk taal lê die digter sy hart bloot voor God en formuleer hy sy probleem. Sy ervaring en emosie speel ’n belangrike rol in die uitdrukking van die intensiteit van smart en lyding. Die klag moet beskou word as ’n vorm van regshandeling waarin die bidder ’n beroep doen op God se regverdigheid.

  1. Bely jou vertroue in God

Hierdie gedeelte van ons klag is die belangrikste! Ons staan binne-in ’n vertrouensverhouding met God. Vertroue en geloof is die basis van ons verhouding en daarom moet dit ook die basis vorm van ons klag. Wanneer mense vir my vra of hulle vir God kwaad mag wees, dan moedig ek dit altyd aan, mits dit binne vertroue gebeur. Die volgende riglyn tot klag lei die gesprek se volgende opskrif in: Wat is die waarde van kla?

Wat is die waarde van kla?

Nadat ek die Naam van die Here aangeroep het, my hart voor Hom ontbloot het en my vertroue in Hom bely het, spruit daar iets waardevol en essensieel voort: HOOP en LOF.

  1. Ek moet na God se vroeëre reddingsdade verwys

Die teoloog sê: “Keeping in mind the fundamental saving acts and ordinances constantly inspires God’s people to trust in Yahweh. In this way the expectation is kept alive that he will again intervene, rescue, and help his people in the same way that he showed himself in the past as the God who rescues and helps Juis die blote feit dat God in die verlede uitkoms bewerkstellig het, bied vir my ’n veilige ruimte om God te nader. Dit skep hoop en vertroue in God vir die onsekere toekoms. Dit moet egter duidelik gestel word dat die funksie van die verwysing na God se vroeëre reddingsdade nie is om lof aan God te bring weens my huidige lyding nie, maar om te wys op die kontras tussen die glorieryke verlede en die ellendige hede.

  1. Klag vorm die wegspring blok vir my lof

Op mens kan daar net soveel vertrou word, maar op God kan ons 100% volkome vertrou. Omdat God ’n uitmuntende “track record” het van sorg, omgee en uitkoms, nooi ons klaag ons uit om alreeds in lof in te gaan (voordat die uitweg nog gekom het). Hoekom? Want God is die God van karakter. Karakter van betroubaarheid en liefde. ’n Karakter wat herdenk moet word in lof.

Covid-19, inperking en klag

Soos vroeër genoem, is hierdie jaar een vir die boeke. Ons word gekonfronteer met uitdagings en struikelblokke wat vir die skepping nuut en onbekend is. Die kerk en haar lidmate word ook met die uitdagings gekonfronteer, maar vir een of ander rede is die kerk bang om te kla. Moet ons nie juis in hierdie tyd sterk oorgaan in ’n klaaglied nie? Kla oor die dinge wat seermaak en waarin ons, onsself bevind: ons vryheid is kwyt, ons sekuriteit in ’n funksionele samelewing is in gedrang, ons toekoms vir onsself, ons kinders en hulle nageslagte word in gedrang gebring. Ek is van oortuiging dat daar vir ons nie ’n beter tyd en platform is om te kla nie, want net soos wat ons treur oor die dood, kla ons ANDERS as die res van die samelewing. Ons kla met HOOP, VERTROUE en GELOOF. Daarom liewe broer en suster in die geloof: kla! Kla julle harte uit. Skryf en sing julle harte skoon.

Hoe lank nog, Here? Psalm 13

Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring? Hoe lank sal die vyand my nog oorheers? Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag. Ek wil nie sterwe nie, anders sê my vyand hy het my oorwin en juig my verdrukkers oor my ondergang. Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

10 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page