top of page

Pitkos vir die week - 5 April 2019

Pitkos 13

Strome Lewende Water

Om vry te wees is iets wat ons nie elke dag waardeer nie.  Ons aanvaar dit as vanselfsprekend en ons leef asof dit normaal is.  Eintlik is vryheid vir ons almal so iets kosbaar wat ons moet koester.  Paastyd kom sê  vir my en vir jou dat ons vrygekoop is.  Daar is nou geen veroordeling vir die wat in Christus is nie.  Alle sondes wat in die verlede so swaar op ons gelê het, al die skandes, al die verleentheid, is finaal van ons weggeneem.  Kan ek byvoeg, ook die sondes van môre en oormôre is reeds, in beginsel, weggeneem.  Dit is wat vryheid beteken in geloofstaal.  Om weer God in die oë te kan kyk, om nie weer met “‘n verskoon my dat ek leef” houding voor God te verskyn nie, maar as kind van God, regop, maar met dankbaarheid te leef.

Richard Foster skryf in sy boek “Sex Money and Power”, dat die drie die grootste verlawers is in die wêreld en dat dit net so gevaarlik is as al die dwelmmiddels saam.  Dit verwoes mense se lewens, vernietig huwelike, verwoes kinders.  Ons kan maar net die TV aanskakel en in ons eie oë beleef wat in ons eie land aan die gebeur is.  Dit is soos ‘n baie lang rolprent wat oor en oor vertel van korrupsie, van magsmisbruik en geld, asof dit soos water deur mense se vingers loop.  Wat het van integriteit geword? Wat het van verantwoordelikheid geword?  Waar het ons land se mense, waarvan baie Christene is, die draad van die storie verloor?

Dit is nou maklik om ander te beskuldig maar eintlik het ons almal in ons geloofwêreld die draad van die storie verloor.  Ons het almal ons toewyding aan die Lewende God verloor, ‘n soort van, ek sal later daaraan aandag gee.  Ek is op die oomblik te besig. ‘n Mens moet darem met toewyding aandag aan my geloofslewe gee. Ek is nie nou op ‘n goeie plek nie en geloof is nie nou vir my ‘n prioriteit nie.  Dit is nie dat ek ongelowig is nie, maar………So versand baie dinge in my lewe.

Jesus sê dat geloof beteken om ‘n lewe in oorvloed te hê.  Baie dae wonder ek hoekom ons al die ander beloftes aanvaar, soos verlossing maar die belofte dat die lewe meer moet inhou as die dodelike roetine van elke dag.  Ek is op soek na die lewende water waarvan Johannes praat.  Ek wil hierdie water laat opborrel in my lewe.  Ek wil water vir ander gee wat dors is, maar die dodelike roetine in my maak van my net een groot droogte.

Dit was Jesus wat vir die Samaritaanse vrou gevra het “Sal jy vir my van jou water gee?”. Dan vra sy: “Maar wie is jy wat ‘n Jood is, om vir my water te vra?”  Dan antwoord Jesus: “Ek sal vir jou van My water gee en jy sal nooit weer dors word nie.”  Dit is God se storie - Hy gee dit onvoorwaardelik maar ek moet dit begin drink. Hy het immers eenmaal die dors van die lewe geken toe Hy aan die kruis uitgeroep het  “Ek het dors”, sodat ons nooit weer dors hoef te wees nie.  Daarom word ons eerder fonteine van lewende water wat hierdie wêreld se dors les.

Hoe kry ek die water? Deur op my maag te gaan lê en met diep teeue uit die koel fontein van God se genade elke dag te drink.

Dalk gaan julle weg vir Paasfees, dalk by familie.  Paastyd is juis die besondere tyd om jou dors te les.  Moenie dat die dors, ongemerk, by jou verbyglip sonder dat jou dors geles is nie.  

Gesëende Paastyd

Van Huis tot huis

Piet Marais 0832590023

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page