Pitkos 36 SondeDominee, wat is sonde? Dit is ’n vraag wat op ’n gereëlde basis aan my gerig word. Dit is ook ’n vraag wat ek, myself op ’n gereëlde basis afvra. Wat is sonde? Is daar iets soos groot sonde en klein sonde? Is daar sondes wat so erg is dat God dit nie gaan vergewe nie? Indien ek ’n sonde herhaaldelik doen, gaan God my nog steeds daarvoor vergewe? Wat is die verwantskap tussen sonde en lyding? Is daar iets soos erfsonde en word ek gestraf vir oortredinge wat ander gedoen het of doen? Waar het sonde begin? Díe vrae beliggaam onvermydelik die waarom-vraag: waarom het God sonde toegelaat? Vir die volgende drie weke gaan ons saam gesels oor drie verskeie onderwerpe wat baie nou aan mekaar verbind is: sonde, afgodery en vergifnis. Hierdie week se Pitkos is ’n platform waar ons die basiese beginsels en verstaan van sonde gaan ondersoek.
Wat is sonde en hoe het dit ontstaan?
Daar is talle “waarom”-vrae wat ons denkwyse van God en die lewe gekompliseerd maak. Hierdie vrae staan beken as teodisee vrae (die begrip: teodisee is afgelei van die twee Griekse woorde: Theos (God ) en díke (geregtigheid). Teodisee fokus op die “verdediging van die geregtigheid van God ten aansien van die kwaad”
Daar is twee definisies wat met die jare gevorm is waarby ek aanklank vind: Augustinus en Adrio König.
Augustinus (tydens die vroeë kerk) definieer sonde as: “privatio boni – ’n Berowing van die goeie. Die sonde kom te voorskyn wanneer een of ander van God se skepsels nie meer sy spesifieke rol vervul nie en gevolglik ophou om te wees wat dit bedoel was om te wees.”
Ongeveer 1600 jaar later definieer Adrio König (’n Gerespekteer Suid-Afrikaanse teoloog) sonde as “iets wat sinloos, chaoties en onbegryplik is. Dit pas op geen manier in God se skepping en sy doel met die skepping nie.”
Per definisie kan van ons ook sê dat sonde die stryd tussen lig en duisternis is, waar duisternis die oorhand kry. Ander is weer van mening dat dit die oortreding van God se wet is (na watter wet verwys hulle? Die 10 gebooie? Of na Matteus 22?)
Wanneer ek retrospeksie doen oor my eie lewe en dit tot verhaal bring met die Bybel dan beskou ek sonde as iets wat ’n skeiding veroorsaak. Iets wat afbreek en nie opbou nie. Sonde is ’n vernietiger. Dit maak nie saak of dit in my oë groot sonde of klein sonde is nie (daar bestaan nie ’n onderskeid tussen sonde nie. Sonde is sonde. Jesus het nie aan ’n kruis gehang vir sekere sonde en ander sonde bly onvergewe nie). Sonde breek af en bring skeiding of dit in verhoudinge, vertroue, godsbeeld of selfbeeld is.
Wat is jou definisie van sonde?
Die teodisee worstel al van die vroeë kerk af met die vraag: “Hoekom is daar iets soos sonde, aangesien ons ’n God van liefde en goedheid aanbid?” Afgesien van die vraag na die ontstaan van sonde, spits die teodisee-probleem hom ook toe op die vraag na die bestaan van sonde naas die almagtige en goeie wil van God: indien God volkome liefde en goedheid is, kan Hy nie anders as om ontslae te wil raak van die sonde nie. Maar nou: die sonde bestaan, dus God is óf nie volkome goed nie, óf Hy is nie almagtig nie. Si Deus Est, unde malum (indien God bestaan, van waar kom die sonde?)
Dit is werklik amper onmoontlik om sekerheid te hê, rakende waar sonde vandaan kom. Is dit iets wat deur God geskape is, of is dit ’n leemte wat deur die Skepper gelaat is, wat gevul word deur die mens en sy wil? Ek wil graag König se standpunt ondersteun deur te sê dat dit onmoontlik is om sonde op enige manier sinvol met God in verband te bring soos dat Hy dit gewil of voorbeskik of toegelaat het. Al ‘verhouding’ tussen God en die sonde, is dat Hy dit haat (daar is nie so ‘n Skrifgedeelte nie. Maar die hele Bybel is vol van God wat die sonde haat, vgl. bv. Hebr. 1:9 ‘U het die reg lief en U haat die onreg’, wat ’n aanhaling is uit Psalm 45:8.), dit versoen en vergewe (En dat God die sondaars liefhet, spreek uit baie Skrifgedeeltes, maar nie sonder ’n voorwaarde daarby nie, nl. om te glo in Jesus Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem Johannes 1:29), en dit uit die wegruim sodat daar op die nuwe aarde niks sal kom wat onrein is nie (Openbaring 21:27).
Die gevolge:
Een aspek van sonde waarvan ons oortuig is, is dat sonde gevolge dra. Dit wil in ’n mate die vrae - wat is die verwantskap tussen sonde en lyding asook die erfsonde – beantwoord. Indien iemand teen 180km/h onder die invloed van alkohol in ’n straat afjaag en hy tref my motor, is dit nie God se manier om daardie persoon te straf nie, maar is dit ’n gevolg van die sonde. Indien ek te nagekom word deur sy onverskilligheid, is dit ook ’n voorbeeld van hoe iemand anders se sonde ook gevolge vir my kan inhou. Alhoewel ek ook self nie daardeur gestraf word vir sonde in my eie lewe of in daardie persoon se lewe nie. God het ons geskape en daarom weet Hy baie goed wat die implikasie van jou sonde op jouself én jou naaste is. Dus, moet ons van sonde wegbly omdat dit vir ons sleg is en omdat dit slegte gevolge vir ons naaste kan inhou. God se genade maak nie sonde veilig nie, al is dit ’n leuen wat vir ons gefluister word.
Dominee, hoe weet ek dat iets sonde is?
Deur te weet watter “dinge” sonde is, beperk nie ons vryheid nie, maar is juis die vryheid tot die lewe self. Daar is o.a. drie maniere hoe bepaal kan word of iets sonde is: deur die wet, kerk en die Heilige Gees. Aangesien sonde nie net jouself beïnvloed nie, maar ook jou verhouding met God en jou medemens moet ons eerstens sonde “bepaal” deur die wet van God soos vir ons aangedui in Matteus 22: “liefde vir God, jouself en naaste”. Tweedens maak God ook gebruik van sy kerk (nie net fisiese gemeentes nie, maar ons as gelowiges) om vir mekaar uit te wys wat sonde is (al het ons as kerk ook verskillende meninge oor wat sonde is) en laastens (en dit is die mees betroubaarste bron) moet ons die Heilige Gees vertrou om vir ons uit te wys wat teen die wil van God is.
Wat vereis sonde?
’n Skuldbelydenis! Deur ’n skuldbelydenis probeer ons bewus te bly van ons eie nietigheid, onwaardigheid, eindigheid en sondigheid teenoor God se ewige heiligheid.
Ten slotte:
Die ene wat weet om te hy se mond toe te maak, die Jirre sal nou innie nag by hy se deer sit waak, ma met dies wat altoos hille se monde gat rek, met hille sallie Jirre laterhand ongeduldig kan raak. Jy meen die pad wat jy self loop is goed, marrie Jirre toets dieperder binne innie bloed; lat los nou net jou werklikeit virrie Jirrie en jy sal gat sienie plan lyk nou sos hy moet. Dis beterder lat jy min het, ma jy lewe reg as lat jou se sakke knopstaan vannie sleg; dink jy nou ma jou se eige pad ma sonnerie Jirre loop raak jou se voetspore innie sand weg.
(“Spreke 13: 3; 16:2-3; 16:8-9, Hans du Plessis Uit: Innie skylte vannie Jirre)
Wie mag klim op die berg van die Here? Here, my God, U is heilig en ek is vuil. Ek verlang na U. Ek wil by U wees, rein wees. Dit is my hoogste ambisie. Dit is ook my grootste frustrasie. Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is. Wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Here, is hierdie standaarde nie verskriklik hoog nie? Ek kwalifiseer nie. O, my God, ek kwalifiseer nie! Ussa het aan die ark gevat en U het hom neergeslaan. Here ontferm U oor my. O, Vader, U wat regverdig oordeel, ontferm U oor my! O, Seun, Paaslam, geslag, ontferm U oor my! O Gees, wat alle dinge ondersoek, ook die dieptes, ontferm U oor my. Ek vra genade. Amen (Uit: Manna oor die duine – Isak de Villiers)Groete Ryno Hurn
留言