Pitkos 23 Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB)
Artikel 12-17: Die Vader en sy werke in die skepping en onderhouding
Inleiding:
Verlede week se Pitkos uitgawe en Bybelskool geleentheid het baie vrae ontlok rakende God en sonde. Artikel 1 bely dat God ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is. Die ewigheid vraag het egter weer op die tafel beland: Het God met die skepping misluk? Was Jesus se menswording plan “B” of was dit nog altyd deel van God se plan? Dit is wonderlik dat ons sulke vrae kan vra. Daar was ook genoem dat ons aanvaar dat daar twee maniere is hoe ons vir God kan leer ken: skepping en Woord, maar dat dit nie die enigste maniere is nie. Die getuies van gelowiges (waaronder die kerk en die individu val) kan bygevoeg word. Ons lewe ook in ’n tyd van tegnologie en daarom kan daar sekerlik ook tegnologie tot die lys bygevoeg word. Opsommend van week 1: dit is goed en nodig dat die kerk ’n geloofsbelydenis moet hê, want dit is op die ou einde die gom tot ons geloof, maar dit is ook noodsaaklik dat die kerk die geloofsbelydenisse moet her evalueer, want meer as 500 jaar het reeds verloop sedert die ontstaan van die belydenisse, daarmee saam het baie verander. Artikel 12 Die Skepping Van Alle Dinge, Veral Van Die Engele Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk - ook op elke lidmaat - om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie. Jes. 40:26; Matt. 28:19; 1 Joh. 5:15,. Hand. 5:3; 1 Kor. 3:16; 6:11; Rom. 8:9; Kol. 1:16; 1 Tim. 4:3; Heb. 3:4; Op. 4:11; 11:16; Heb. 1:14; Ps. 103:21; 34:8; Joh. 8:44; 2 Pet. 2:4; Luk. 8:31; Matt. 25:41; Hand. 23:8; Matt. 4.
Reaksie: Binne-in die Gereformeerde tradisie, word daar nie baie op engele en geeste gefokus nie. Soos vroeër in die jaar bespreek kan dit wees omdat ons onseker, bang of oningelig is rakende die sensitiewe saak. Moet artikel 12 herbesin word aangesien die artikel baie sterk meemaak dat die wat ontken dat daar engele en geeste is verfoei/verafsku moet word. Baie van ons lidmate, wat die Here van harte dien, glo nie in engele of geeste nie.
Daar kan ook by die lys van Sadduseërs en Manigeërs ander gelowe/bewegings bygevoeg word. Kan jy aan enige dink?
Laastens: dit is vir my baie interessant dat die tema van engele en geeste so vroeg in die artikels genoem word.
Artikel 13 Die Voorsienigheid Van God Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leringe van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat. Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13; Job 1:21; 2 Kon. 22:20,. Hand 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh 3:8; Gen 1:26; Kol. 1:15; 3:10.
Reaksie: Die eerste frase van artikel 13 bevestig net weer dat niks buite die beheer van God is nie en dat Jesus se menswording nie plan “B” was nie. Dit is ook duidelik dat die mens ’n groot gevaar loop om te diep te delf op soek na antwoorde oor God en die Sonde en daarom word hier bely: “Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leringe van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.”
My 21ste eeu vraag is: moet ons berus by hierdie besluit of moet die mens weer ’n nuwe soeke loots na antwoorde. Watter voordele en nadele is daar?
Artikel 14 Die Skepping Van Die Mens, Die Sondeval En Die Gevolge Daarvan Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie' (Joh. 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as `n slaaf van die sonde is nie en: `'n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie' (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: `Niemand kan na My kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie' (Joh. 6:44)? Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat '...wat die vlees bedink, vyandskap teen God is' (Rom. 8:7)? Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor. 2:14)? Kortom: Wie sal ook maar op 'n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor. 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp. 2:13). Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: 'Sonder My kan julle niks doen nie' (Joh. 15:5). 1 Pet. 2:9; Pred. 12:7; Ps. 8:5; 49:21; Jes. 59:2; Gen 3:17, 19; Pred. 7:30,. Rom. 5:12; Joh. 8:7; Ef. 4:24; Rom. 12:2; 3:10; 8:6; Hand. 14:17, Rom. 1:20-21; Hand. 17:27; Ef. 4:18; 5:8; Joh. 1:5; Ps. 37:9; Jes. 26:12; Ps. 94:11; Rom. 8:3; 1 Kon. 20:9; Ps. 28:8; Jes. 45:25; Joh. 3:27; 6:44 (1 Kor. 2:14); 2 Kor. 3:5; Filp. 2:13.
Reaksie: Hoekom het die mens nie in sy aansien sy uitnemendheid besef nie? Ons was/is immers na die beeld en gelykenis van God gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem.
Die artikel lui: “Hy het deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem.” – wat word geklassifiseer as die “klein oorblyfsels” wat gemaak het dat die mens verontskuldig is?
Artikel 15 Die Erfsonde Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is 'n verdorwenheid van die hele natuur en 'n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit '’n giftige fontein. Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word, Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie. Ps. 51:7; Rom. 3:10; Joh. 3:6; Gen. 6:3; Ef. 2:5; Job 14:4; Rom. 5:14; 7:18-19.
Reaksie: Een aspek van sonde waarvan ons oortuig is, is dat sonde gevolge dra. Dit wil in ’n mate die vrae - wat is die verwantskap tussen sonde en lyding asook die erfsonde – beantwoord. Indien iemand teen 180km/h onder die invloed van alkohol in ’n straat afjaag en hy tref my motor, is dit nie God se manier om daardie persoon te straf nie, maar is dit ’n gevolg van die sonde. Indien ek te nagekom word deur sy onverskilligheid, is dit ook ’n voorbeeld van hoe iemand anders se sonde gevolge vir my kan inhou. Alhoewel ek self nie daardeur gestraf word vir sonde in my eie lewe of in daardie persoon se lewe nie. God het ons geskape en daarom weet Hy baie goed wat die implikasie van jou sonde op jouself én jou naaste is. Dus, moet ons van sonde wegbly omdat dit vir ons sleg is en omdat dit slegte gevolge vir ons naaste kan inhou. Hier word saam met artikel 15 gestem dat God se genade nie sonde veilig/sag of lig maak nie en dat die mens hom daarna toe moet werp om skoon, rein en heilig voor God te lewe.
Artikel 16 Die Ewige Verkiesing Van God Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het. Rom. 3:12; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim. 1:9; Rom. 9:29; Tit. 3:4-5; Ef. 1:4-5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2 Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet. 1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27, 44; 17:9,12; Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34-35; Joh. 18:20; 15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3; Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.
Reaksie: Artikel 15 lui dat die mens (na die sondeval) nie gekies het om sonde te doen nie, maar dat dit deel is van wie die mens is. Artikel 16 lui: “God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.” Is artikel 15 en 16 in teenstryd met mekaar?
Artikel 17 Die Verlosser Deur God Beloof Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak – sy Seun, wat uit 'n vrou (Gal. 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel (Gen. 3:15). Gen 3:15; 22:18; Jes. 7:14; Joh. 7:42; 2 Tim. 2:8; Heb. 7:14; Joh. 1:14; Gen. 3; Gal. 4:4.
Reaksie: Die volle skepping van God is deurtrek van sonde. Is die handeling aan die kruis slegs vir die mens of is dit vir die hele skepping?
Seën vir julle
Ds. Ryno Hurn
Comments