Pitkos 8 Wat beteken Jesus se menswording vir jou? Inleiding:
Ek lees onlangs in ’n artikel dat 4 uit elke 10 persone tans in die wêreld geïsoleerd is weens die Coronavirus. Dit is asof die samelewing tot stilstand gekom het. Geen menslike interaksie, sport, daaglikse roetine of byeenkomste nie. Dit voel of die aarde wat rondom sy as wentel die enigste normaliteit van die dag is. Op een of ander manier moet ons probeer so normaal as moontlik voortgaan, al is ons onder lockdown. Daarom dié vraag: wat beteken Jesus se menswording vir jou? Ek gaan hierdie vraag vanuit 3 verskillende hoeke bestudeer:
Lukas 2: 21-38
v.C. en n.C.
Geloofsbelydenisse en Heidelbergse Kategismus
Lukas 2:21-38 Daar het destyds 'n man met die naam Simeon in Jerusalem gewoon. Hy was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op Simeon en het aan hom bekend gemaak dat hy nie sou sterwe voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê: “Here, laat u dienaar nou in vrede gaan volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het wat U gereed gemaak het voor die oë van al die volke: 'n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.” Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is. Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy moeder, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, 'n swaard sal deur jou siel gaan.” Daar was ook 'n profetes, Anna, 'n dogter van Fanuel uit die stam Aser. Sy was al baie oud. As jong vrou was sy sewe jaar getroud, en na haar man se dood het sy weduwee gebly. Sy was nou al vier en tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het. Ek moet bely: dit is asof dit die eerste keer is wat ek hierdie verhaal teëkom. Wat tref jou in hierdie verhaal? Hier is 3 kernpunte wat uitstaan wat ons behoort te help met tema van die dag:
Verlossing
Vervulling
Verligting
Beide Simeon en Anna het die verlossings opdrag van Jesus se menswording geïdentifiseer. Vir elkeen van ons moet die verlossing wat Jesus as mens kom bewerkstellig het heel bo die lys wees wat sy menswording vir ons beteken. Ons moet op ’n daaglikse basis herinner word hoe verlore en afhanklik ons van die verlossing en Verlosser is. Simeon en Anna was getroue tempelgangers en het die Here van harte gedien. Dit is daarom nie vreemd dat die Gees op hulle was nie. Hulle het geweet Wie Jesus was, die oomblik toe hulle Hom gesien het. Ons moet net in gedagte hou: Jesus is op die stadium nie besig met ’n wonderwerk of prediking nie. Hy is in die arms van sy moeder. Simeon en Anna het geweet hierdie Kindjie is die vervulling van die beloofde Messias. Ek vind vertroue en hoop in Jesus se menswording. Vertroue in God die Vader omdat Hy sy Belofte nagekom het om Sy Seun te stuur en hoop dat God met my is. Laastens, Jesus is die Een wat verligting bewerkstellig. Verligting in die sin dat Hy, Homself met die mens kom vereenselwig het. Jesus se menswording beteken vir ons dat ek en jy met elke gedagte, emosie, kommer en traan voor die voete van Jesus kan neerlê, juis omdat Hy ook mens was. Ek weet dat ek dit al van te vore genoem het maar gun my wéér die geleentheid: die oomblik toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy elke denkbare emosie, kommer en vrees van elke persoon op Homself geneem en dít reeds vooraf beleef en deurgemaak. v.C. en n.C. (voor Corona en na Corona) Het jou siening rondom Jesus se menswording verander in die tyd van voor die Coronavirus en na die Coronavirus? Moet dit verander? Ek hoop dit hét! Want die manier hoe ons na die wêreld, siekte, dood, vrees, higiëne, isolasie, gesondheid en ons naaste kyk het beslis verander. Ons weet dat ons wêreldbeeld/begrip beïnvloed ook ons Godsbeeld/begrip. Wat beteken Jesus se menswording juis vir ons as samelewing wat nou meer hande was as ooit vantevore? Ek merk op hoe die breë spektrum van die mensdom nou meer na God uitroep. Ons kyk ook nou anders na sekere gedeeltes en optredes van Jesus se lewe soos om mense te besoek wat in “isolasie” was. Ek dink aan die verhaal van die melaatses. Ek wonder: indien Jesus gedurende hierdie tyd fisies op aarde was, wat sou Hy gedoen het? Sou Hy die reëls en regulasies gehoorsaam het? Sou Hy uitgaan en hande oplê? Sou Hy ’n YouTube channel skep en dit gebruik as platform? Die kerk het ’n basiese opdrag in hierdie tyd: ons moet steeds die essensiële betekenis van Jesus se menswording aan die wêreld verkondig.
Geloofsbelydenisse en Heidelbergse Kategismus
Apostoliese Geloofsbelydenis 2 Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria. Geloofsbelydenis van Nicea 4 Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Nederlandse Geloofsbelydenis 26 CHRISTUS ONS VOORSPRAAK Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons 'n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van 'n mens en van 'n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Fil. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na 'n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk. Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: 'Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word' (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: 'Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus ... laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid...' (Heb. 10:19, 22). En voorts: 'maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree' (Heb. 7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: 'Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie' (Joh. 14:6)? Waarom sou ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander een te neem of liewer 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23). Heidelbergse Kategismus 48 48 Vraag: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie? Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig (a). Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid (b) is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.
Jer 23:24; Hand 7:49. (b) Kol 2:9; Joh 3:13; 11:15; Matt 28:6.
Seën vir julle Ds. Ryno Hurn
Comments