Pitkos 31 Wat is die mens?
Wat is die mens (ek)? Hoe is ons (ek) gemaak? Wat is ons (my) doel en bestemming? Dit is vrae waarmee die mens vir duisende jare al worstel en gaan bly worstel tot die dag van die wederkoms. Nie net binne die teologiese kringe nie, maar ook in antropologies en filosofies kringe. Hoe dink jy oor die mens? Ter voorbereiding vir hierdie week se Pitkos het ek baie vinnig agtergekom dat die navorsing en debatte rakende hierdie dogmatiese vraag oor “wat die mens is” baie divers en wyd van mekaar is. Dus is hierdie week se Pitkos ’n platform vir vrae, eerder as antwoorde, daarom nooi ek elkeen van julle uit om saam met my die reis te onderneem.
Gen. 1:26: “Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld...” 27 “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”
Om onsself te beskerm teen die uiteenlopende debatte is dit belangrik om hierdie reis te onderneem binne die bou pilare van ons Gereformeerde identiteit: die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) en die Heidelbergse Kategismus (HK). Vanuit die NGB en die HK kan ons verdere vrae vra.
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 14 - Die Skepping Van Die Mens Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem.
Aangesien ons in die beeld van God geskape is, maar ter selfde tyd vol sonde is kom ’n vraag na vore: het God sonde geskep en is die mens verkeerd geskape?
Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 6 - Het God Die Mens Dan So Sondig En Verkeerd Geskep? Antwoord: Nee, God het die mens goed (a) en na sy ewebeeld geskep (b). Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys (c).
Vanuit die die HK blyk dit vir my dat die doel van die mens se skepping is om in ’n verhouding te staan. Prof Johan Buitendag skryf in sy artikel: “wat is die mens”, dat die mens geskape is om in ’n driedubbele verhouding te staan: God, medemens en die natuur. Prof Buitendag motiveer dat hierdie drie verhoudings nooit van mekaar geskei moet word nie.
Tot God, as die eerste verhouding, moet ons die God wat “gepraat het en dit was so, wat beveel het en dit was daar”, raaksien. Die mens is geskep om op God se woord te antwoord. So vorm die hele Bybel ‘n getuienis van hierdie dialoog tussen God en mens.
Tweedens die mens se verhouding tot die medemens, is duidelik in die meervoud - “man en vrou het Hy hulle geskape”. In die begin het God die mens gemaak om met Hom ooreen te stem. Hy het die mens volgens sy eie beeld geskep sodat die mens sy verteenwoordiger op aarde kan wees. Hy het die mens manlik en vroulik geskep, want Hy wou nie hê dat die mens alleen sou wees nie. God het daarom die vrou as metgesel vir die mens geskep. Derdens hoor ons ook dat die natuur ter sprake is “heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip”.
Wat is die gehalte van die verhoudings waarin jy staan? Mag hierdie week se Pitkos ’n paar gedagtes in jou losmaak en jou meer laat wonder oor wie en wat jy is. Daar is meer omtrent die mens as net die gewone “nine to five working day” verhouding.
Seën vir julle Ds. Ryno Hurn
Comments