top of page

Pitkos vir die week - 30 Mei 2019

Pitkos 22

Die verskil 2

Daar is al baie boeke geskryf en studies gedoen oor die mens se basiese behoeftes.  Hieronder is die nou reeds oorbekende Maslow se teorie.  Binne die teologie word daagliks geskryf oor die mens se godsdienstige behoeftes.  Wat is ons diepste geloofsbehoeftes?  Is ons geloofsbehoefte dat God elke gebed moet verhoor?  Is dit dat die “Groot Kruidenier” net elke dag se behoeftes sal aflewer?  Ek dink die mens het deesdae ander behoeftes, om dieper te leef, intenser te beleef.  Ons wêreld is nie meer tevrede met ou godsdienstige terme soos “Jesus maak ons hartjie rein” nie.  Die teologiese taal het verskuif van die jare 50 en 60 van die vorige eeu.  Daarom dat mense baie meer rasioneel oor godsdiens en geloof dink en praat.  Ons leef in ‘n wêreld waar wetenskap en tegnologie ‘n radikale verskil maak. 

Daarom dat ons spook met terme soos aborsie, genadedood.  Kan ons maar nie lewe beëindig nie?  Sê nou ons weet, en die wetenskap help ons, dat ons vooraf weet, ons ongebore baba is hoogsgestrem, Trisomie 13 en erger, kan ons nie hier ingryp nie?  Of die 100 jarige wat so erg ly en begeer om te gaan, of die terminale kankerpasient, hoe moet ons daaroor dink?  Die Bybel het nie aborsie geken nie en ook nie Chemo of bestraling nie, en mense in Jesus se tyd het nie ouer as 40 geword nie (die Ou Testament se getalle is ‘n ander dag se gesprek). Hoe reageer geloof op die sake?

Al die sake sê maar net die mens is baie meer in beheer as toe die Isrealiete deur die woestyn getrek het.  Ons het so onafhanklik geword en God ‘n bysaak in ons wêreld.  Kan ons nie maar terugkeer na naïwiteit van vroeër nie?  Dit weet ek verseker dit sal nooit weer gebeur nie en geloof moet nou op ‘n ander toonhoogte vir die wêreld sing.  Maar dit kan alleen gebeur as ons ons taak as gelowiges in die wêreld verstaan.

Vandag is die herdenking van die Hemelvaart.  Dit is ook die begin van Pinkster.  Dit kan net datums op die kalender word of dit kan vir ons as mense, ingrypende insigte bring.  Hemelvaart is wanneer God (Jesus) na God terugkeer sodat God in ‘n ander “vorm” by ons kom bly.  In en deur sy Gees kom bly Hy in ons lewe.  Nou is God nader aan ons as die klere aan ons liggaam, nog nader, Hy word deel van my gees.  Dit word so treffend in die nagmaal geïllustreer.  Soos die wyn en brood deel van elke selletjie in ons liggaam word, so word Hy deel, vervoer deur die bloedstroom van Golgota, deel van my lewe. Maar dit sal eintlik selfsugtig wees, om nou so naby aan God te leef maar om dit net vir myself te hou. Pinkster kom sê God:  ”Ek bemagtig jou met my  Gees” sodat jy strome lewende water kan word (Joh 7) wat die wêreld natmaak en besproei. Hy gee vir ons die vermoë om aan ander mense te raak en met hulle ‘n pad te loop. In die “in die pad loop” met mense, sal, moet hulle, iemand raaksien wat besonders is soos Hy en wat by die Leermeester geleer het hoe om met mense te wandel.

Pinkster gaan nie soveel oor myself as wat dit oor die wêreld gaan nie. Pinster gaan oor die gawes waarmee God ons bemagtig, toerus, om as mens in die wêreld te kan leef.  Daarom is Hy naby, nee, in jou en bring Hy die beste in jou na vore.  Jy sal weet wat jy goed kan doen, doen dit dan.

Nou maak jy ‘n verskil.  Jy is die verskil.

Geseënde Pinkster.

Van Huis tot huis.    

Piet Marais 0832590023

1 view0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page