Pitkos 12
‘n Stukkie van God in my
Om geloof te beskryf is alreeds baie moeilik, maar om dit te verstaan is eintlik onbegryplik. Hoe beskryf jy die oortuiging dat die lewende God in ‘n mens, in ‘n sondige mens behae gevind het en hom as kind aangeneem het. Die kind wat dag vir dag alles verkeerd doen en dan ten spyte daarvan nog steeds bereid is om te sê: “Jy is My kind in wie ek ‘n behae, ’n toegeneentheid vind.” In menslike taal het ek dit al ervaar dat ouers met dwelmafhanklike kinders, moed opgee en naderhand hulle opstraat sit en sê: ”Tot hier toe en nie ‘n tree verder nie”. Dit is nie God nie, Sy liefde is groter, omvattender wat nooit moed opgee nie.
Johan Cilliers skryf dat ons as gewone mense sukkel om die wonder van Jesus, wat God is, en tog mens geword het, onder woord te bring. As jy woorde probeer kies, stotter en stamel jy. Hoe kon Jesus volledig God bly en tog tussen ons as mense geleef het. Ek verstaan die rede want ons sou nie in ‘n soort ”Godspook” (vergewe my asb my stamelende woordgebruik) kon glo as Jesus as mens en God tussen ons kom woon het nie. Sigbaar as volledige mens.
Die vroeë kerkvaders het die wonder probeer verwoord met die twee terme adoption (aanneming) en assumption (toevoeging). Daarmee wou hulle min of meer sê: “Jesus is nie aangeneem as God se Seun nie (omdat Hy so ’n besonderse mens was nie) maar dat Hy van altyd af, van ewigheid af, God se Seun was, een van die Drie-eenheid.” Hierdie Seun is dan op aarde geïnkarneer met die geboorte van Christus op Kersdag. (Wanneer dit ook al is.)
Wat gebeur het, is dat die Seun se menslike natuur by die van Sy Goddelike natuur gevoeg is (assumption). Anders gesê, die menswees van Jesus is by sy geboorte tot sy Godwees toegevoeg, sodat Hy tussen ons as mense kon lewe op aarde, maar ten volle God. Daarmee is ons terug by die wonder: waarlik God in die gestalte van ‘n ware mens. (Cilliers)
Wat beteken al die moeilike redenasies vir ons: Jesus is nie deur die Vader aangeneem nie maar wel ons (adoption). Paulus sê dit so mooi: ”Julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep Abba Vader.” (Rom 8: 15) Ons word dus saam met Christus, God se erfgename. (Rom 8:15)
Hoe gebeur dit? Ons het nou al baie keer vir mekaar gesê dat geloof is die werk van God se Gees. Ek ontdek op ‘n dag dat ek glo. Dit is nie my goeie werke nie, dit is die Gees van God wat in ons werk. Daarom is geloof so ‘n geweldige groot wonderwerk, want wie anders kon jou dan oortuig om te glo. Net God se Gees. Daarom is een van die beste maniere om geloof te beskryf as ‘n stukkie van God (Gees) wat in ons ingebore word, geïnkarneer word (Wedergeboorte), sodat ons kan glo. Dit is hoekom jy ‘n kind van God is en erfgenaam van al die beloftes wat God gee. (Vrede, opstanding, geesvervuldheid, sondevergifnis, ens ens.)
Maar dit is nie die volledige storie nie. Om as kind aangeneem te word, moet jy van al die skuld en sonde skoongemaak word. Dit het aan die kruis gebeur.
Wil jy nie tydens die Paastyd opnuut verwonder raak oor jou kindskap, ‘n stukkie van God in jou menswees nie? Is dit moontlik? Ja, dit het gebeur.
Aanneemkind maar erfgenaam. Optelkind maar met ‘n Vader. Omdat Jesus geen aangenome kind is nie, kan ons dit wees. Dankie Vader!
Van Huis tot huis.
Geseënde Paastyd
Piet Marais 0832590023
Commentaires