Pitkos vir die week 28 Julie 2020 Pitkos 22 Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB)
Inleiding:
Ek is baie opgewonde om saam met julle in meer diepte deur die 3 Protestante Geloofsbelydenisse te werk. Ons gaan eerste stilstaan by die Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB 4 weke), dan by die Heidelbergse Kategismus (HK 3 weke) en laastens by die Dordtse Leerreëls (DL 4 weke). Die oorspronklike beplanning was om elke belydenis afsonderlik in ’n bepaalde week te behandel, maar vanweë die belangrikheid en dors na ’n beter verstaan van ons eie Geloofsbelydenisse gaan ons 3 tot 4 weke by elke belydenis stilstaan. Dit bied vir ons die geleentheid om in meer besonderhede na elke belydenis te kyk en kritiese vra te vrae. Ons gaan die reis deur die belydenisse afsluit met die Belydenis van Belhar.
Die ontstaan die NGB:
Hierdie is een van die oudste belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke. Die hoofskrywer daarvan is Guido de Bres, predikant van die Gereformeerde kerke in die Nederlande. Hy het in 1567 as ’n martelaar vir die geloof gesterf. Gedurende die 16de eeu was die Gereformeerde kerke in Nederland en België, toe een staat, wreed deur die regering van die dag vervolg. Teen einde teen hierdie vervolging protesteer hulle tem bewys hulle dat hulle nie rebellie teen die koning wou wees nie, maar wetsgehoorsame burgers van die staat wat die Christelike geloof ooreenkomstig die heilig Skrif bely, het Bres in die jaar 1561 hierdie dokument opgestel. In die dokument het die Protestante die volgende verklaar: “Hulle gewillig en gereed is om die regering in alle wettige sake te gehoorsaam / onderdanig te wees, maar dat hulle liewer hulle rûe sal blootstel aan die kats, hulle tonge aan die mes, hulle monde aan die mondklem en hulle liggame aan vuur, as om die waarheid wat in hierdie belydenisskrif opgeteken is, te verloën. Met hartseer is Bres en talle ander gelowiges wel vervolg vir hul steun aan die NGB. Desondanks was daar ’n skerp reaksie van owerheidskant teen die brief en belydenis. De Bräs moes vlug, maar sy studeerkamer word ontdek al sy geskrifte asook ’n aantal kopieë van die belydenis word verbrand. In 1566 word hy gevang en opgehang.
Die opbou van die belydenis:
Die belydenis bestaan uit 37 artikels waarvan verreweg die meeste met die woorde “ons glo” begin. Net in enkele gevalle word daar afgewissel met die uitdrukking “ons ken”, “ons aanvaar”, “ons weet”, terwyl daar telkens op beslissende punte verklaar word: “daarop verwerp ons”.
Artikel 1-11 handel oor die drie-enige God en sy openbaring;
Artikel 12-17 oor die Vader en sy werke in die skepping en onderhouding;
Artikel 18-21 oor God en die Seun en sy werk in die versoening;
Artikel 22-35 oor God die Heilige Gees en sy verlossingswerk, waarby dit in Artikel 22-26 gaan oor die verlossing van die indiwidu; in Artikel 27-32 oor die kerk as vrug van die verlossingswerk van die Gees; en in Artikel 33-35 oor die heilsmiddele wat deur die Gees gebruik word: die sakramente van die doop en nagmaal. Onder die werk van die Heilige Gees kom ook die verhouding tussen kerk en staat ter sprake (Artikel 36), asook die laaste oordeel (Artikel 37).
Artikel 1-11
Die drie-enige God en sy openbaring
’n Volledige uiteensetting en beskrywing volg van elk van die artikels. Daar sal oor ’n reaksie (vrae) geloods word op die inhoud van elke artikel. Artikel 1DIE ENIGE GOD Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ’n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die aller oorvloedigste fontein van alles wat goed is. 2 Kor. 3:17; Joh. 4:24; Jes. 40:14.
Reaksie: Waar kom sonde vandaan? Fontein van alles wat sleg is? Indien wel, hoekom is daar so fontein en wie hou toesig oor die fontein: God? Engele? Mens?
Artikel 2 DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ’n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort. Ps. 19:2; Ef. 4:6; 1 Tim. 2:5; Deut. 6:4; Mal. 2:10; 1 Kor. 8:4, 6; 1 Kor. 12; 1 Kor. 1.
Reaksie: Hoe kan iemand God ken wanneer daar inperking soos sig, gehoor, verstand en liggaamlik?
Artikel 3 DIE GESKREWE WOORD VAN GOD Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet. 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif. 2 Pet. 1:21; Ps. 102:19,. Eks. 17:14 (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.
Reaksie: Die wêreld van die teks en die wêreld van die leser verskil radikaal: Moet ons die Woord van God letterlik lees en toepas op ons lewens?
Artikel 4 DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg: Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi; Die boeke van die Nuwe Testament, nl.: die vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.
Reaksie: Moses se hand as skrywer in die totstandkoming van die Pentateug word dus deur die OT self bevestig, soos die oortuiging ook in die NT gevind word. Ons kan dit in Jesus, Filippus en Paulus se uitsprake nagaan. Jesus praat van “die boek van Moses” (Mark. 12:26). Jesus beskou ook “Moses en al die profete” as “die Skrifte” (Luk. 24:27). Filippus beskou Moses as die skrywer van die wet (Joh. 1:45). Paulus noem Moses as die een wat in die wet oor die geregtigheid skrywe met ‘n aanhaling uit Lev. 18:5 (Rom. 10:5). Paulus gebruik die naam “Moses” as ‘n aanduiding van die Tora (2 Kor. 3:15). Dit beteken uiteraard nie dat Moses alles in die Pentateug kon geskrywe het nie. Hy kon nie oor sy eie dood geskrywe het aan die einde van Deuteronomium nie. Hy was ook nie ‘n ooggetuie van die skeppingsverhale en die verhale van die aartsvaders nie. Hy moes dus self van bronne gebruik gemaak het. Maar dat hy vir groot dele van die Pentateug verantwoordelik is, staan onteenseglik vas.
Artikel 5 DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
Reaksie: “Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is” – glo jy alles wat in die Bybel staan? Indien ek nie alles glo wat in die Bybel staan nie, staan ek dan onder enige oordeel? Kan ek daardie Skrifgedeeltes reïnterpreteer soos ek wil of selfs dit uitlaat?
Artikel 6 ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeërs. Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sovêr hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
Reaksie: Geld die reël ook vir hedendaagse boeke en outeurs?
Artikel 7 DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: '...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is' (1 Joh. 4: 1), en: 'As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie...' (2 Joh. :10). 2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11-12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal. 1:8-11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2. Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut.12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes. 1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1 Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps. 12:7; 19:8-9, 12; Deut. 4:6; 6:9,. Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16, 18; 1 Kor. 8:6.
Reaksie: Artikel 7 stel dit baie duidelik dat ons mense moet verwerp wat valse leerreëls vir ons bring: wat is die verhouding tussen die verwerping van so ’n persoon die verbod op naasteliefde?
Artikel 8 GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid. 1 Kor. 1:24; Joh. 1:14; 1 Joh. 1:1; Op. 19:13; Spr. 8:22; Kol. 1:15; Matt. 28:19; 3:16-17; Joh. 1:14; Mig. 5:1. Artikel 9 SKRIFGETUIENIS OOR DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: 'En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis... En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape'; Genesis 3:22: 'Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons'. Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: 'Dit is my geliefde Seun' (Matt. 3:17). Die Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: 'Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees' (Matt. 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word' (Luk. 1:35); eweneens: 'Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal' (2 Kor. 13: 13), en: 'Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig' (1 Joh. 5:7-8). Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet. Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart. Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is. Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicea en Athanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het. Gen. 5:1. Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh. 5:7; Hand. 2:32-33; 1 Pet. 1:2; 1 ]oh. 4:13-14; Gal. 4:6; Ef. 3:14, 16; Tit. 3:4-6; Jud. :20-21; Rom. (6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29, 37; Joh. 14:16; 15:26; 1:33; Sp. 25:27. Artikel 10 DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy 'n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb. 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Filip. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: 'Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid' (Miga 5:1), en sê die apostel: 'Hy is sonder begin van dae of lewenseinde' (Heb. 7:3). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien. Joh. 1:18, 34 en 49; 1: 14; Kol 1:15; Heb. 1:3; Matt. 3:17; 17:5; Joh. 8:24; 10:30; 9:36; Hand. 8:34; Jes. 7:14; Rom. 9:5; 1 Tess. 3:11; Filip. 2:11; 2 Kor. 5:19; Hand. 20; Ef. 3:9; Rom. 14; Tit. 2; 1 Kor. 8:6; Heb. 1:1; 3:4; Joh. 1:3; 1 Joh.5:7, 14, 20; Op. 1-6; Joh. 8:58; 17:5; 1 Kor. 10:9,. Gal 4:4; Miga 5:2; Kol 1:15; Ps. 2:7, 12; Heb. 13:8. Artikel 11 DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer. Gen 1:1; Heb. 1:3; 11:3; Joh. 1:3; Ps. 33:6; Jer 32:17; Mal. 2:10; Joh. 1:3; 16:26; Ps. 104; Amos 4:13; Joh. 14:16, 26.
Seën vir julle
Ds. Ryno Hurn
Comments