top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 28 Februarie 2019

Pitkos 8

Kan mense opstaan uit die dood?

Die sosiale media gons behoorlik oor die pastoor wat iemand opgewek het uit die dood.  Op instagram en ander elektroniese media word gewys hoe die man wat toe al sedert die Vrydag oorlede is weer “lewend” word en opstaan uit sy kis.  Vir party is dit die bewys dat dit kan gebeur en die pastoor se aanhang sal waarskynlik aansienlik groei (en sy beursie daarmee saam).  Vir ander is dit ‘n bewys dat dit wat in die Bybel staan vandag nog kan gebeur.

Die vraag is, as verantwoordelike gelowiges, hoe reageer ‘n mens op die aansprake, want dit veroorsaak ‘n oproering in die geloofswêreld?  Dalk het die pastoor die gawe om mense uit die dood op te wek?  As dit waar is, is die vraag:  waarom is daar dan nog hospitale en baie duur onbekostigbare mediese skemas? Dalk het ons dan net gebedskamers nodig met spesialis voorbidders wat die stroom mense wat toustaan met lyke, kan hanteer. 

Verder wat maak ons dan met die wat opgewek is? Gaan hulle dan vir ewig lewe? Is almal dan gesond en siekte iets van die verlede en wat van die mense wie se liggame in padongelukke verwoes is, sal hulle ook as heel mense kan opstaan?  So sou ons net meer en meer vrae kan vra.

Terug by die Bybel het Jesus mense opgewek om daarmee te sê dat Hy die Christus is.  Hy as die Seun van God het beheer oor lewe en dood.  Hulle sou weer sterf, dit was maar net ‘n tydelike opwekking want dit was God se manier om Homself deur sy Seun bekend te maak as dat Hy beheer het oor alle gesag en mag.

Jesus sou dit finaal demonsteer, die Sondagoggend tydens die opstanding.  As ware aan eie lyf, bewys Hy: Ek het opgestaan dat julle kan opstaan.  Ek het die dood oorwin en julle saam met my.  Die bewys is nou finaal afgehandel maar dit is nie beperk tot enkeling nie, dit is finaal vir julle almal.  Daarom is ons sterwe nie die dood nie.  Die dood is dood.  Dit is ‘n opstanding uit die dood, party noem dit oorgaan, verhuising ensovoorts.  Noem dit wat jy wil. Dit is die oorgang van een bestaanswyse na ‘n ander.  Ons moet ophou praat van sterfdatums, dit is opstandingsdatums. Hy leef en ons met Hom.

Die probleem met die pastoor is soos met ander soortgelyke aansprake, dat dit baie keer oor die instrument gaan en nie die wonderwerk self nie.  Dit word ‘n geloofsdemonstrasie van “groot” geloof.  Net twee mense in die Bybel kry die titel “Groot geloof”. Beide was heidene. Eers die Romeinse soldaat en toe die vrou wat aan bloedvloeïng gely het.  Ek dink dit was grotendeels omdat hulle met geloof gewaag het.  Dit was nie ‘n demonstrasie en ‘n bewys van sterk geloof nie, maar ‘n nederige: ”Here spreek die Woord en dit is genoeg".  Uit genade alleen, uit genade alleen!  Dit gaan nie oor die mens nie dit gaan oor God, en Sy mag en Sy heerlikheid.

Kan mense in ons tyd opgewek word? Ek wil dit nie totaal buite rekening laat nie. Dit is moontlik, maar ek is baie, baie skepties oor die aansprake.  Ek jubel eerder in my eie opstanding wat gaan plaasvind die dag wanneer ek (sterf) opstaan. 

Leef kerk.

Van Huis tot huis. 

Piet Marais 0832590023

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page