top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 28 Augustus 2019

Pitkos 35

Die Bybel

Hoe moet ons die Bybel lees, verstaan, interpreteer en glo?

As kind is ek (en ek glo die meeste van julle) geleer om alles te glo wat die Bybel sê. Die skepping is in 6 dae voltooi; Noag het al die diere in pare van 2-2 die ark laat ingaan; Jona was in ’n vis se maag; Homoseksualiteit is ’n sonde en mense wat drankmisbruik gaan nie hemel toe nie. As tiener het ek egter vrae begin ontwikkel of hierdie gebeure werklik waar is. My teologiese studies het vir my ’n bepaalde ruimte geskep waarbinne ek hierdie vrae kon vra (en antwoorde kon kry).

Binne-in die breë kerkverband (veral ook binne-in die NG Kerk) worstel ons oor die gesag van Bybel en hoe om dit te lees, te interpreteer en te verkondig. Hoe lees jy die Bybel? Letterlik? Hoe interpreteer jy die inhoud daarvan? Watter rol speel jou vormingsjare en verlede in jou Bybelverhaal interpretasie? Hoe pas jy dit toe? Hierdie week se Pitkos is ’n platform waar ons ’n bietjie dieper gaan delf met hierdie vrae.

Deur die verloop van die geskiedenis is die Bybel op verskillende maniere geïnterpreteer. Kom ons kyk hoe help die geskiedenis ons, om vandag die Bybel te lees.

In die vroeë kerk was daar twee gedagterigtings in die lees van die Bybel: eerstens die allegoriese leesvan die Bybel waarin die geestelike en Christelike betekenis van die teks belangrik was (2de eeu n.C.) en tweedens die literêr-histories leesvan die Bybel waarin taal en die konteks ‘n groot rol gespeel het (4de eeu n.C.).

Kerkvader, Augustinus (4de eeu n.C.) het ’n groot rol gespeel om ’n middelweg tussen dié twee gedagterigtings te vind, omdat hy geglo het dat ’n regte verstaan albei metodes nodig gehad het. Hy was van mening dat deur die lees van die teks moet die leser (ek en jy) van die wêreld vóór die teks na die wêreld ín die teks beweeg en sodoende word die leser deel van die wêreld van die teks en word die verstaan die teks volledig bewerkstellig.

Gedurende die Middeleeue in die kloosterskole het die bekende Lectio Divina (Goddelike lees) ontstaan. Dit het o.a. die Lectio lees (fokus op die taal, styl en konteks van die oorspronklike Bybelteks) asook die Oratio lees (fokus op gesprek met God as antwoord op die Bybelteks) ingesluit.

Tydens die Hervorming het Calvyn verskeie maniere ontwikkel om ’n teks te lees waarvan een die sogenaamde Usus lees is (die praktiese betekenis van die teks, wat fokus op die betekenis vir vandag).

Hoe moet ons die Woord van God in 2019 lees? Moet ons fokus op die letterlike lees en verstaan van die teks, of moet ons eerder fokus op wat God vir ons daardeur wil sê (sonder om enige gesag van die Skrif te ontneem)? ’n Hermeneutiese lees. Die term hermeneutiek is afkomstig van die Griekse woord hermēneuō ("interpreteer"). My neiging lê baie sterk in die rigting van ’n hermeneutiese lees. ’n Hermeneutiese lees kan verkry word deur ’n kombinasie van die bogenoemde lees strategieë. Die Bybel moet deeglik gelees word, met hulpmiddels byderhand wat vir ons die taal, stylfigure en historiese agtergrond verklaar. Verder moet ons die Bybel lees met die oog daarop om die lewende stem van God daarin te hoor wat ons lei tot ’n praktiese gehoorsaamheid om op God se stem te reageer. Karl Barth het gesê: “Take your Bible in the one hand and take your newspaper in the other, and read both. But interpret newspapers from your Bible.”

Dit mag dalk net wees dat wanneer ons ’n beter verstaan verkry van hoe God, Homself aan ons openbaar, soos in die geval deur Sy Woord, dat ons dit dalk makliker gaan vind om die Bybel te interpreteer. Ds. Nico Simpson en in samewerking met Communitas het in 2015 ook met hierdie vraag geworstel. Hulle het ’n illustrasie gepubliseer waardeur hulle sê dat wanneer ons die verhale en gebeurtenisse in die Bybel raaksien in die vorm van lyne, dan sal ons ook die verhale beter verstaan en interpreteer. Hierdie illustrasie het my verstaan van die Bybel baie verdiep sonder om enige gesag van die Skrif te ontneem.

📷

Die aaneenlopende lyn verhale: Dit is temas wat regdeur die Bybel na vore kom. Die liefde en genade van God is ’n voorbeeld hiervan. Is die mens se oproep om alleenlik vir God te aanbid ook ’n tema? Wat dink jy?

’n Eenmalige sirkel gebeurtenis: Dit is gebeurtenisse wat net eenkeer in die Bybel voorkom en dan nie weer herhaal word nie soos die skepping, sondeval en vloed. Is Christus se menswording en die Pinkster gebeurtenis ook ’n voorbeeld hiervan?

’n Lyn wat kleiner raak: Temas wat sterk in die begin voorkom en al hoe minder begin raak soos die offersstelsel. Kan jy aan nog so ’n tema dink?

’n Lyn wat groter word: Partykeer is dit ’n lyn wat groter word. In die begin is daar net tekens dat alle volke in God se koninkryk ingesluit word, dit begin klein maar later (in die Nuwe Testament) word dit ’n groot tema. Is om jou vyande te vervolg en ’n oog vir ’n oog nog ’n voorbeeld?

Lyne wat onderbreek: Partykeer is daar ’n breek in die verhaal waar ons vir mekaar sê: “nou dink ons anders oor vrouens in die kerk; nou herdefinieer ons die betekenis van die besnydenis anders.” Ek wonder of die kwessie rondom homoseksualiteit nie dalk ’n lyn is wat onderbreek is nie. “ons dink nou anders oor seksualiteit as voorheen.”

Stippellyne: Daar is ook stippellyne in die Bybel. Die Bybel vertel van engele in die begin, middel en die einde.Dit raak nie minder nie en dit raak nie meer nie. Dit gee vir ons ’n goeie idee oor hoe om daaroor na te dink.

I I Die is jou lyn in die verhaal. Dit help jou, om jouself te belyn met die verhaal van God.  Ons moet elke keer wanneer ons die Bybel lees, nie net die historiese gedeelte (die ander lyne) raaksien nie, maar ook hoe dit vandag in konteks gelees moet word. Dit is tussen hierdie twee lyne waar die Heilige Gees met ons werk. Die Woord van die Here sal altyd ons bron van wysheid lewe bly. Handelinge 8:30-31,35 “Filippus het nadergedraf en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra hom toe: Verstaan u wat u lees? Die Etiopiër het geantwoord: Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie? Hy het Filippus toe mooi gevra om op te klim en by hom te kom sit. Filippus het toe by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom vertel.”

Ek sluit die week se Pitkos af:

Hoe belangrik is dit dat iemand die Bybel vir ons moet verduidelik?Dink aan mense wat die Bybel vir jou al verduidelik het. Dank die Here vir hulle. Dink aan mense vir wie jy die Bybel kan verduidelik. Bid vir wysheid en geleenthede om dit te doen.Groete Ds. Ryno Hurn

16 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comentarios


bottom of page