top of page

Pitkos vir die week - 28 April 2020

Pitkos 12

Die verloop van die erediens

Inleiding:

In die erediens kom ’n verskeidenheid mense saam: hulle verskil in ouderdom, in opleiding en sosiale agtergrond, in Bybelkennis en in kerklike betrokkenheid. En tog is hulle saam die huisgesin van God, één gemeente wat God se teenwoordigheid erken en vier (Zwaan, 1998: 388). In hierdie huisgesin is die een nie belangriker as die ander nie en nie een lid van die God se gesin mag in die erediens afgeskeep of eenkant geskuif word nie. Die erediens is ’n ontmoeting van God met sy gemeente, sy gemeente met Hom en die gemeente met mekaar. God neem die inisiatief en maak dit moontlik vir die gemeente om Hom en mekaar in Christus te ontmoet. Met “ontmoeting” word ’n lewende, dinamiese gemeenskap bedoel waarin God sy gawes aan die gemeente gee om Hom te kan dien en verheerlik. God ontmoet die gemeente as versamelde groep en dit sluit alle lidmate, belydende én dooplidmate, in. Die erediens het met die lewensiklus van elke deelnemer te doen en kinders en volwassenes beeld die volle lewensiklus van jeug tot ouderdom aan mekaar uit. Die hart van die gemeente is die erediens waaruit energie, motivering en vreugde kom om God in die wêreld as mense van sy Koninkryk te dien. In die erediens word die dinamiek van God se Woord geaktiveer en kry die gemeente geleentheid om op die dinamiek van die Woord te reageer in aanbidding, lofprysing, geloofsbelydenis, verootmoediging en deelname en viering van die sakramente, die gebed, liefdegawes en diensbetoon in en buite die samekoms (Victor, 1996:241). In die erediens gebeur kragtige dinge: God praat en sy Woord is in staat om lewens te verander en sy Woord gee krag aan gelowiges om Hom, mekaar en die wêreld te dien. Klein en groot staan daarom verstom oor die wonder van die versterking van geloof deur die Heilige Gees. (Gordon, 1992:193).

Hoekom moet die erediens ’n verloop hê?

Die erediens het ’n verloop, ’n begin en ’n einde. Dit staan bekend as die Liturgie van ’n erediens. Die verloop/liturgie van ’n erediens wat in hierdie Pitkos beskrywe word, is die van my as leraar se beskrywing en nie van al die leraars nie. Juis die bogenoemde inleiding dien as my motivering waarom ’n erediens nie net moet bestaan uit ’n “preek” gedeelte nie, maar dat daar verskeie elemente/momente moet wees. Elke handeling wat in die erediens plaasvind, vanaf die votum wat gelees word, die liedere wat gesing word, tot die wet en aankondigings, moet met mekaar gesels en in eenstemming wees van die oorhoofse tema van die dag. God praat elke dag, elke erediens, op ’n ander manier met sy kinders en daarom is dit van kardinale belang, dat daar ’n wye spektrum van stemme teenwoordig in die erediens moet wees. Wanneer daar net ’n “preek” is, met ’n paar liedere voor en na die prediking, is die sentrale stem (na my mening) dié van die prediker. Wanneer daar egter ander stemme teenwoordig is (wet, skuld, doop herinnering) dan verskuif die fokus weg van die leraar en die “inhoud” van sy preek, eerder na die groter fokus van die volle erediens. Die ontmoeting tussen God en die mens in die erediens of by ’n ander aanbiddings geleentheid soos ’n begrafnis, troue of Kersdiens is een van die mens se grootste behoeftes. Die konteks waarin mense hulle bevind en wat voortdurend verander, beteken die ruimte van die liturgie moet hierdie voortdurende verandering in ag neem. Byvoorbeeld: Die erediens voor, tydens en na die lockdown moet van mekaar verskil. Die aanslag, verloop, vloei en inhoud, moet anders wees, weens die omstandighede wat verskil. Liturgie is die stem van die tyd en die stem van God wat mekaar ontmoet.

Hoe lyk die basiese verloop van ’n erediens?

Dertig jaar gelede was die basiese verloop van ’n erediens vas. Ek kon in ’n erediens instap in Ballito tydens my vakansie en ek kon tuis en gemaklik voel met die diens, want dit stem ooreen met die erediens wat in Valhalla gebeur. Hierdie standvastigheid het gemak, veiligheid en bekendheid onder die lidmate geskep, maar tog het dit uniekheid en kreatiwiteit agtergelaat. Die basiese verloop was/is: Aanvangswoord Die Aanvangswoord is ook bekend as die votum en het ’n baie lang tradisie in die geskiednis vandie christelike erediens. Die Latynse woord vir “votum” beteken ‘begeerte’ of ‘gebed’ en kan as ’n uitroep aan die begin van die erediens verstaan word. Die mens roep uit na God. Ons hulp is in die Naam van die Here, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat trou bly tot in die ewigheid en nooit die werk vans y hande laat vaar nie” (Ps. 124:8; 138:8; 146:6). Seëngroet Die seëngroet aan die begin van die erediens is ’n groet in die Naam van die Here waarmee Hy aandui dat Hy met guns en genade gemeenskap met die gemeente soek. God antwoord die mens se uitroep! Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, deur die werking van die Heilige Gees. Lof en aanbidding Die oomblik waar die Here verheerlik word met die sing van Psalms en liedere. Aanbidding kan ook gesien word as meer as musiek. Dit is ’n lewenstyl waar God in alles geëer word. Stilte Die stilte help om die mens se nietigheid, God se grootheid te beleef en Sy stem te hoor. Die Wet Die wet word in die gereformeerde liturgieë op verskillende plekke aangewend met die oproep tot skuldbelydenis, riglyne vir die lewe van dankbaarheid en as heenwysing na Christus. Die lees van die Tien Gebooie. Skuldbelydenis Die skuldbelydenis probeer die gemeente om bewus te bly van hulle eie nietigheid, onwaardigheid eindigheid en sondigheid teenoor God se ewige heiligheid. Genadeverkondiging Die genadeverkondiging bedek die skuldbelydenis deur die rykdom van God se barmhartigheid te laat opkom. Toewyding Die klem val op die herverbintenis van die mens tot die Here. Geloofsbelydenis Die uitdrukking van ons geloof. Skriflesing Prediking Gebede Offergawes Aankondigings Verwelkoming van nuwe lidmate Lief en leed Seën Die laaste woord van die erediens behoort aan God.

Wat beïnvloed die vloei van ’n erediens?

Kan die erediens se liturgie egter afwyk van die bogenoemde voorbeeld? Beslis en dit moet! Die week se struktuur van ’n erediens kan nie dieselfde vloei hê as verlede week sin nie. So wat beïnvloed die liturgie? Eerstens: die teks; tweedens, die konteks van die dag; derdens; die boodskap; vierdens die soort of tiepe erediens wat plaasvind (is dit ’n lofprysingsdiens, getuienisdiens, stildiens ens.)

Die goue draad in die erediens!

Die belangrikste element vir my met die hele liturgie is dat elke aspek, elke vloei, elke beweging, elke woord wat lees, gesing en gespreek word met mekaar in verbinding moet tree. Daar moet ’n goeie draad van die begin van die erediens tot die einde deurgetrek word. Wanneer die oorhoofse tema gasvryheid is, laat die mens in die begin wonder, wat gasvryheid is, dan vat hulle na die bevredigende gevoel van gasvryheid, dan vloei dit oor na die skade van afwesige gasvryheid en laastens die oproep tot gasvryheid want ons was eens vreemdelinge in die oë van die Here.

Ten slotte

Die liturgie is die vangnet vir die hele erediens. Indien ’n bepaalde aspek van die erediens nie tot jou spreek nie, is daar die ander elemente wat jou vang.

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

0 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page