Pitkos 30
Aanbid ons almal, maar tog nie dieselfde God nie?
In vandag se tyd wil elke persoon uniek wees. Met reg ook, want ons is unieke individue, besonders, een van ’n soort. Dit merk ons op in die manier hoe onsself uitdruk: haarstyl, tattoos, kleredrag en selfs die diëte wat ons volg. Wat maak vir God uniek? Anders as die God wat die Moslems en die Jode aanbid. Daar word al hoe meer gesê dat ons almal maar eintlik net dieselfde God aanbid, net in verskillende vorme. DIT IS NIE WAAR NIE!!! Daar is net een God en Hy moet alleen aanbid word (Eksodus 20).
God openbaar Homself egter in drie persone. Vader, Seun en Heilige Gees. Die Jode glo net in een God. Hulle verwerp die Messias, die tweede persoon van die Drie-eenheid, Jesus Christus. Hulle prentjie van God is dus onvolledig. Die Islam ken ook net een god, ‘n afsydige god, ‘n god wat gelowiges oproep om alle ongelowiges uit te wis. Hulle verwerp nie net vir Jesus as God nie, maar maak Mohammed 'n belangriker profeet as Jesus.
Die vraag word weer aan die orde gestel: wat maak die ware God uniek? God openbaar Homself in drie persone.
God die Vader is die oorsaak en oorsprong van alles. Hy is die Voorsienigheid. Die Een wat vir alles en almal sorg. Die Allerhoogste. Die Skepper.God die Seun is die Woord en Beeld van die Vader. Hy is die Verlosser. Die Een wat God vir ons die beste verduidelik. Die Een wat vir ons bid. Die Eerste Voorspraak.Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag van die Vader en die Seun. Hy is die Vertrooster. Die Tweede Voorspraak. Die Een wat die naaste aan ons is. Die God in ons.
God is Vader, maar die Vader is nie die Seun nie. God is Seun, maar die Seun is nie die Heilige Gees nie. God is Heilige Gees, maar die Heilige Gees is nie die Vader nie. Vader, Seun en Heilige Gees is saam een God. Ons staar egter sekere uitdagings in die gesig wanneer dit kom by die aanbidding van God drie-enig. Onder andere fokus party kerke meer op die Vader as die Seun. Ander meer op die Gees. Dit verskaf ook een van vele redes hoekom daar verskillende denominasies is. God moet in Sy volle totaliteit aanbid word. Dr. Christiaan (Chris) van Wyk van Somerstrand bied vir ons nog ander uitdagings:
As jy net met God as die Allerhoogste werk het jy niemand wat jou kan verlos nie.
As jy nie op een of ander manier Jesus se menswees beklemtoon en dat Hy daarby God is nie, het jy nie ‘n Middelaar tussen jou en God nie. Het jy nie iemand wat tussen jou en God kan staan en vir jou versoening van jou sondes kan bewerk nie.
As jy byvoorbeeld net met Jesus as mens werk, het jy wel iemand met wie jy kan identifiseer wat vir jou ‘n voorbeeld kan wees, maar jy het nie ‘n Verlosser nie.
Want, dit is in Jesus se gelyktydige goddelikheid wat Hy versoening tussen jou en God kan bewerk. As jy Jesus net as mens beskou, dan is Hy dood aan die kruis en het Hy nie opgestaan nie.
Dieselfde geld as jy na die ander kant toe net Jesus se Godheid sou beklemtoon, maar ontken dat Hy regtig mens geword het.
Só ‘n Jesus kan nie regtig medelye hê met jou sonde en gebrokenheid nie, en kan Hy jou eweneens nie verlos nie, want Hy verstaan dit nie van binne af as mens nie.
En as jou prentjie van die Gees vervlugtig tot net ‘n gedagte van God, het jy nie Iemand wat in jou bly en vir ewig by jou sal wees nie.
Het jy al ooit gewonder hoe jy dit gaan maak om enduit gelowig te bly? Wel, dit is die Gees wat daarvoor instaan. Het jy al ooit gewonder hoe jy dit in die ewige lewe gaan maak sodat jy nie die geskenk van God sal verloor weens jou mensheid nie? Wel, dit is die Gees wat daarvoor instaan. Hy is vir ewig by jou.
Ek ondersteun die gesegde van dr. Chris: “Die belangrikste lering oor God waaraan jy moet vashou is die openbaring van God as die Drie-eenheid. Daarin lê die rykdom van God self vir jou opgesluit.”
Groete in die naam van Vader, Seun en Heilige Gees. Ds. Ryno
Comments