top of page

Pitkos vir die week - 24 Augustus 2020

Pitkos 25 Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB)

Artikel 27-32: Die kerk

Inleiding:

Kerk... wat is die kerk? Hoe lyk die kerk? Moet die kerk op dieselfde manier funksioneer as die dag van gister? Al dan nie, hoe moet die kerk die samelewing bedien? Dit is vrae wat al gevra word vanaf die stigting van die eerste kerk. Hoe lyk jou prentjie van ’n kerk? Is dit ’n liggaam? Die kerk is in opsig self eintlik ’n baie eenvoudige organisme/liggaam van die opgestane Here, maar tog onder die oppervlakte broei daar soveel meer. Die kerk moet konstant vanuit die verlede lewe strek na die toekoms, ingegrawe in die hede. Sy moet ‘mark’ gedrewe wees, maar tog missionaal. In haar wese as kerk moet sy klein genoeg wees om die verlore straatlopers op te soek, maar groot genoeg om skares te huisves. Die kerk staan volgens Dr. J a. Heyns in ’n drieledige verhouding: met God, haarself en die wêreld. As ’n toring van hoop en ’n mond fluit is die kerk veronderstel om ’n priesterlike en profetiese stem in die samelewing te wees, wat eenheid skep, vrede bewaar, maar terselfdertyd in die wêreld, maar tog nie van die wêreld te wees nie. Groei die kerk of is die kerk besig om te sterf? Frits Gaum skryf in een van sy boeke getiteld ‘Fluit-fluit – die is uit?’ die volgende: Solank as vaskyk teen die kerk as instelling of as ’n “instituut” – veral as ’n organisasie met mense in ampte wat op ’n voorgeskrewe manier “kerk hou, wat sorg dat vergaderings kerkordelik korrek plaasvind en wat besluite neem ná oorweging van allerlei voorstelle en teenvoorstelle en amendemente en wat die kerk op die koop toe met ’n sterk hand bestuur – so lank sal ons teleurgesteld wees in die kerk se doen en late. Eers as ons baie sterker fokus o die kerk as “organisme”, sal ons agterkom dat die “kerk” inderdaad baie meer as formele strukture en kerkgeboue omvat en dat die kerk inderdaad ’n lewende beweging van mense is wat die opgestane Here Jesus in die praktyk van elke dag dien deur hulle diens aan mekaar en aan ander. Artikel 27 tot 32 het baie vrae vir my ontlok, rakende die hedendaagse (en selfs die ou-kerk) kerk en sodoende ook ons as gemeente. Artikel 27 die algemene christelike kerk Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms '’n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie. Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot `n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig. Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32; Ps. 89:37; 110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18; 2 Tim. 2:19; Luk. 17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32; Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt. 16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; ]oël 2:32; Hand. 2:21. Artikel 28 elkeen is verplig om by die ware kerk aan te sluit Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam - aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God. Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11-12; Hand. 4:17, 19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7; 18:13.

  • Reaksie: was die kerk se besluit om gehoor aan die regering se bevel te gee om nie te vergader nie ’n teenkanting teen artikel 28 en God?

  • Wat maak ons met die frase: “almal is verplig om aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar”?

Artikel 29 die kenmerke van die ware en die valse kerk Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toe eien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `’n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf - kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie. Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het. Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf. Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word. Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.

  • Is ons werklik ’n ware ’n kerk? Ons straf nie die sondes met die tug nie en ons vertrou met tye meer op mens as op Christus!

Artikel 30 die regering van die kerk Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim. 3). 1 Kor. 4:1-2; 2 Kor. 5:19; Joh. 20:23; Hand. 26:18; 1 Kor. 15: 10; Matt. 5:14; Luk. 10:16; Gal. 2:8; Tit. 1:5; 1 Tim. 3.

  • Hoe vergelyk artikel 30 met die insetsel van Frits Gaum?

Artikel 31 die ampsdraers van die kerk Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van `n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom. Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sovêr moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef. Hand. 6:3-4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28; Rom. 12:8; 1 Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7-8; 2 Kor. 5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef. 1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12- 13; Heb. 13:7,17. Artikel 32 die orde en tug van die kerk Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar 'n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie. En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God. 1 Kor. 7:57; Kol. 2:6-7; Matt. 15:9; Jes. 29:13; Gal. 5:1; Rom. 16:17-18; Matt. 18:17; 1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20.

Slot:

Wat is kerk? Hoe lyk die kerk in 2020?


Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page