top of page

Pitkos vir die week - 23 Mei 2019

Pitkos 21

Die Verskil 1

Dit is die tyd van Hemelvaart.  Baie mense weet nie mooi wat om van Hemelvaart te sê nie.   Dit is ook binne kerklike kringe en in preke dat jy die ongemak kan voel. Die eerste groot vraag is natuurlik waar is die hemel?  Is dit in die wolke bo ons koppe, is dit agter Saturnus, of elders ver weg in die diepste duistenis? Voeër jare was dit maklik, ons het so min of meer gesê dit is in die Stratosfeer, maar na die maanlanding is die hemel soek.  Die dissipels sou met ons empatie gehad het, want vir hulle is Hy in ‘n wolk weg.

Om die Hemelvaart te verstaan is dit nodig dat ons die hemel moet soek! In die Ou Testament is Israel begelei deur ‘n wolkkolom (Sy teenwoordigheid).  Moses beleef dat wanneer hy met God in gesprek is, is daar ‘n wolk wat hulle omring (Sy teenwoordigheid) en daarom is die simboliek baie duidelik dat tydens die Hemelvaart Hy in God se teenwoordigheid in, opvaar (wolk).  Dit antwoord nog nie die vraag waar God nou is nie of anders waar die hemel is nie.  Die hemel is immers waar God is, en nie andersom nie, met ander woorde God is nie waar die hemel is nie.  So ons is nog steeds op soek na die hemel.

Op Kersdag sing die engelekoor dit met trompetgeskal uit, van nou af kom woon die Seun van die Mens by die mensekinders.  Immanuel, God met ons.  Jesus sê self, ek laat julle nie as wees agter nie maar ek stuur die Voorspraak, die Trooster om by julle te bly.  God bly by ons deur sy Gees.  Ons bely dit dan elke Sondag en dit is wat Pinkster beteken, dis wanneer die Gees van God op allle vlees uitgestort word.  God is dus nou nader aan ons as die klere aan ons liggaam, nee nog nader - Hy is in ons.  Ek dra dus elke oomblik ‘n stukkie van God saam met my.

Waar is die Hemel dan?   Hier waar ek saam met God is.  Nou verstaan ‘n mens iets van Hemelvaart, Jesus moet “plek” maak sodat die Heilige Gees uitgestort kan word, anders was Jesus nog in Jerusalem vasgekeer terwyl ons nou almal ‘n stukkie van Jesus en van God en van die Heilige Gees met ons het. Maar dit kan tog sekerlik nie die hemel wees nie. Die een met goue strate en groen grasse. Het die droom dan verdwyn? Nee, dalk is die droom waar wanneer ons na Pinkster, na die uitstorting van die Heilige Gees so bekragtig (empower) word dat ons elke oomblik met Sy hulp in die wêreld dit tog ‘n stukkie hemel moet maak. Elke dag maak ‘n verskil, elke dag word ‘n stukkie hemel wanneer ek in my swakheid aan iets of iemand raak, want ek doen dit namens Christus.  Gelowiges is mense wat met hulle voete plat op die aarde staan soos Jesus en wat tog reeds ‘n stukkie hemel belewe.  Hemel is toe nie altyd die luilekkerland van niks doen nie.  Die verskil is jy is die hemel en JY IS DIE VERSKIL.

Hemelvaart kondig die begin van die hemel op aarde aan en ons moet dit hemel op aarde maak. Maar wat dan van die gelowiges wat oorlede is, want hulle is mos in die hemel. Dit is ons enigste troos. Ja, hulle is in Sy arms en Hy woon by ons.

Maak ‘n verskil want dit is die opbou van die Koninkryk van die hemele.  Elke dag is die verskil.

Groete van Huis tot huis.       

Piet Marais 0832590023

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page