top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 22 Oktober 2019

Pitkos 42

Die wat, waaroms en hoe’s van die Wet

📷Daar was ’n tyd in die kerk waar daar elke Sondagoggend tydens die erediens ’n liturgiese moment vir die wet was. Die dominee het elke Sondag die 10 gebooie gelees, waarna die gemeente dan kans gekry het om daarop te reageer. Dit is nie meer vandag ’n algemene gebruik binne die erediens om die wet as sodanig te lees nie. Alhoewel daar nog die behoefte (of miskien meer ’n verlange na God se aanwysings of die bloot voortbestaan van ’n tradisie) onder die ouer lidmate van die kerk nog is, moet ons vandag opnuut vra oor die sin en inspraak van die wet op my lewe. Het dit nog ’n plek in my lewe?

Wat is die wet van God en hoekom is dit belangrik?

Hoekom is die Tien Gebooie, die wet, so belangrik? Die vraag kan op baie maniere beantwoord word, maar Psalm 119 is dalk die beste plek om by te begin. Psalm 119 is ’n loflied op God se openbaring waarin uitvoerig op die betekenis van die wet ingegaan word. Hoekom is dit wet belangrik?Die wet (volgens Ps. 119) is een van die kragtigste werkinge van God in die lewe“18Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar.” (Ps. 119:18) “55Selfs in die nag dink ek aan U, Here, en is ek gehoorsaam aan u wet.” (Ps. 119:55) “165Vir dié wat u wet liefhet, is daar groot sekerheid; niks kan hulle laat struikel nie.” (Ps. 119:165) “174Ek smag na u hulp, Here, in u wet vind ek my vreugde.” (Ps. 119:174)Die wet is God se geskenk aan onsDie belangrikste geskenk van God aan die volk Israel was nie hulle verlossing uit Egipte nie. Dit was nie die land Kanaän wat Hy aan hulle gegee het nie. Dit was die wet van God wat God met sy eie hand geskrywe het. Tien woorde van God wat die riglyn nie net vir hulle lewe sou word nie, maar vir alle gelowiges regdeur al die eeue.

Die oorsprong en sin van die wet

Binne die teologiese kringe word daar al vir ’n geruime tyd geworstel met die vraag of Israel vir die eerste maal by Sinai met die Wet van God kennis gemaak het en indien nie, wáár moet ons na die diepste oorsprong van die wet gaan soek? As die wet eers ongeveer 430 jaar (volgens Galasiërs 3:17) na die sluiting van die verbond met Abraham gegee was, waarvolgens het Israel hulle lewe ingerig? Verder, was daar vir die mense voor die verbond en voor die ontstaan van die volk enige wet vir die inrigting van hul lewe?

Dr. J.A. Heyns (’n gerespekteerde teoloog en reus binne die Suid-Afrikaanse teologiese instituut) was van mening dat God deur die wet regeer het. Vanuit hierdie standpunt was Dr. Heyns sterk van mening dat die mens as sodanig nooit sonder die wet was nie. Abraham Kuyper se stelling was ook baie uitdruklik dat God nie eers die mens geskape het en daarna die wet uitgedink het nie, so ’n skeiding tussen mens en wet is ondenkbaar. Kan ons dan aanvaar dat reeds by die skepping van die mens, God sy wil as wet met betrekking tot die mens lewenspatroon aan hom geopenbaar het?

Waarom hou God almal aan die wet as niemand dit volmaak kan onderhou nie?

Dink jy God is regverdig om almal aan die wet te hou as niemand dit volmaak kan onderhou nie? Hoekom dink jy so? Hoe laat dit jou voel? Hierdie vraag kan slegs beantwoord word vanuit die oorhoofse doel van die wet.

Doel: God wou ons reeds van die begin af bewus maak van die liefdesverhouding tussen Hom en ons asook die liefdesband tussen mens en sy naaste (kan ons die natuur oor byvoeg). Vanuit die oorhoofse bedoeling van die wet as geheel is ek van mening dat God vir die mens deur sy wet ons wil heilig maak! God wil ons terugbring na vlekkeloosheid en ’n verhouding sonder gebrek. Gehoorsaam die wet en leef vanuit die geloof en redding van Christus en die doel is bewerkstellig!

Teologies is daar ook van mening dat die wet ons sonde uitwys. Nie sodanig die sonde as spesifiek nie, maar eerder die aard/ gevolg van sonde.

Die Heidelbergse Kategismus het ook hierdie vraag gevra:

Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom? Antwoord: Nee (a), want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat (b). (a) Rom 3:10, 20, 23;1 Joh. 1:8, 10. (b) Rom 8:7; 2:3; Tit 3:3; Gen. 6:5; 8:21; Jer. 17:9; Rom 7:23.

Vraag 9: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie? Antwoord: Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b). Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

(a) Ef. 4:24. (b) Gen. 3:13; 1 Tim 2:13, 14. (c) Gen. 3:6; Rom 5:12.

Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?

Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe kan leer ken (a), en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek (b). Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik (c).

(a) Rom 3:20; 1 Joh 1:9; Ps 32:5. (b) Matt. 5:6; Rom 7:24, 25. (c) 1 Kor. 9:24; Fil 3:12-14.

Wat is die verband tussen Jesus en die wet?

Jesus was grootgemaak onder die leerstellings van die wet en Hy het die wet baie goed geken. Dit is ’n baie waardige vraag om te vra: wat is die verband tussen Jesus en die wet? Daar is vir my, 4 noue bande tussen Jesus en die wet:Jesus ontbind nie die wet nie, maar vervul dit;Die wet van Moses, die profete en die psalms verkondig nie net die bediening van Jesus nie, maar word daarin vervul;Jesus gebruik die wet om mense te leer;Jesus bevestig sy eie oordeel aan die hand van die wet;

Wat verwag God van my in Sy wet?

Om vry te leef! Ek is hiervan oortuig dat die primêre doel van die wet nie is om my in te perk of my vryheid te beperk nie, maar dat God juis van my verwag om die vryheid wat daar is te geniet en vanuit dit te lewe.

Die volgende Pitkos is die 6de Nov. Die eerste 3 gebooie gaan dan in meer diepte bespreek word. Groete Ds. Ryno Hurn

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page