Pitkos 11
Die groot Gesprek
Die tyd van die jaar is dit Lydenstyd. Dit is die tyd waar ons as gelowiges nadink oor die geweldige pyn en lyding wat Jesus in ons plek kom dra het vir alle mense. Dit is ‘n gelade sin want daarmee sê die Christene, en dan gebruik hulle die baie bekende teks van Joh 14, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur my nie” om daarmee te sê dat net Christene in die Vaderhuis gaan kom. Dit is dan soort van ‘n teenspraak, want daar staan Jesus het vir almal aan die kruis gesterf.
Die soort van gesprek eindig gewoonlik met woorde soos: “En wat dan van al die Chinese of Hindoes of die wat nooit die Woord gehoor het nie.” Met dit in gedagte is daar op enige dag ten minste 4 biljoen mense wat “ter dood” veroordeel is. Skielik skreeu die woorde van Joh 3:16 in my ore, “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie.” Paastyd sê mos, God het uit troue liefde sy Seun aarde toe gestuur en in ons, (hulle) plek die pyn en uiteindelik die dood verdra, sodat dit nie met ons (hulle) moet gebeur nie.
Die groot geloofsgesprek! Baie van ons kinders en kleinkinders kom nie meer, of sagter gestel, so gereeld in die kerk nie. Het ons dan per definisie hulle ook afgeskryf of uitgeskryf uit kerk en geloof? Geloof behoort gelukkig nie aan die kerk of in die kerk nie. Kerk is wel belangrik maar dit is definitief nie die poort na die Hemel nie. Geloof is ook nie ‘n item wat soos verkiesingspamflette by die straathoeke uitgedeel word nie. Dit behoort aan God se Gees en Hy bewerk dit in mense se harte. Daarom aanbid party op dié manier en ander op ‘n heel anderse wyse. Dit bly dieselfde Skepper God aan die werk. Dit was vir my ‘n asemrowende belewenis toe ek eenkeer by die destydse Kwasiza Bantoe in die Stanger-omgewing, gepreek het en die preek in 13 tale getolk is, en elkeen in sy eie taal, God hoor praat het. Almal hoef nie soos ek te glo nie en almal beleef God op sy eie manier. Almal God se kinders.
Maar dit was tot dusver die makliker deel van die gesprek. Was God se lyding deur Jesus dan so goedkoop dat dit net vir die 3 biljoen Christene goed genoeg was. Is geloof in God dan so eksklusief, of is daar ander maniere om by God uit te kom? Dit was die menseslagting in New Zeeland wat my opnuut weer onrustig maak of die duisende mense wat in ons buurlande verdrink en weggespoel het, met die vraag: ”Is hulle dalk verlore?” Moes ons nie gou almal gaan bekeer het en dan uit die bome gehaal het nie? Het God nie almal ewe lief nie, daar is mos nie witbroodjies nie? Verstaan ek God reg, hoor ek Sy stem reg?
Dit is die soort van gesprek wat deesdae op wêreld forums gevoer word. God het onvoorwaardelik lief, wat sigbaar word tydens lydenstyd en die Pase. By uitnemendheid kom sê God ek het jou lief, net soos jy is. Ek het nie allerhande teologiese vrae nie en moeilike tekse om uit te lê nie. Ek het jou lief en as jy dit hierdie Paastyd beleef en ervaar, wat ‘n onbeskryflike stuk genade! Gaan sê dit vir die mense om jou. Laat die wêreld dit sien. Vertel vir jou buurman en beleef die liefde van Christus.
En die byna 2 biljoen anders-gelowiges? Ek weet nie, ek weet ek dien ‘n barmhartige en lankmoedige God wat liefdevol is. Dalk is ons verkeerd, ek hoop immers so.
Geseënde Lydenstyd
Van huis tot huis.
Piet Marais 0832590023
Comments