top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 21 Julie 2020

Pitkos vir die week 21 Julie 2020 Pitkos 21 Geloofsbelydenis

Inleiding:

Tydens my eerste drie jaar op universiteit was ek nie ’n baie goeie akademiese student nie. Dit was veral in vakke soos Kerkgeskiedenis, Grieks en Hebreeus, dogmatiek en Ou Testament waar die wil maar min was. Dit is egter vandag vir my baie ironies hoe gereeld ek weer my boeke en artikels wat ek eens op universiteit as “onnodig” verklaar het weer raadpleeg. Ek het ’n uitmuntende dosent in Kerkgeskiedenis gehad wat spesifiek die Geloofsbelydenisse met ons behandel het. Ek wens hy kon hierdie Pitkos vir julle skrywe.

Wat is ’n geloofsbelydenis?

Geloof moet bely word. Dit geld van die geloof van die enkeling (Rom. 10:9-10) en dit geld ook van die geloof van van die gemeenskap van gelowiges wat deur hulle eenheid in belydenis en diens aan mekaar verbind is (Hand. 1: 42-47). Die kerk is na sy wese ’n belydende gemeenskap. Die inhoud van die gemeenskaplike geloof is die evangelie van God se genade soos dit in en deur Christus aan ons geopenbaar is en in die en die gemeente bely word. Om eenstemmigheid te verkry oor wat presies die inhoud van die evangelie is, het daar in die geskiedenis van die kerk beslissings geval wat die inhoud van die evangelie omlyn en betekenis daarvan dien. Hierdie beslissings word verwoord in die belydenisse van die kerk. ’n Geloofsbelydenis is ’n samevatting van die essensiële inhoud van die Christelike geloof.

Waar kom ’n geloofsbelydenis vandaan?

Daar is verskeie Skrifgedeeltes wat die aansporing tot ’n formulering van ’n belydenis aanmoedig, maar belydenisskrifte het eers grondgevat tydens die Reformasie. Die kerk het onder leiding van die sentrale leergesag in Rome gestaan en daar was geen behoefte aan meer as dit nie. Met die Reformasie ontstaan daar egter ’n totale ander situasie. Dit is gebore uit die ontdekking wat Martin Luther van die Pauliniese boodskap van die regverdiging deur die geloof gemaak het. Daardeur is die hele Skrif in ’n nuwe lig geplaas. So ontstaan die verskynsel belydenisskrifte. Die “nuwe kerk” moes wegbreek van die pouslike leergesag en was dit nodig om die Christelike geloof opnuut te formuleer.

Belydenisgrondslag

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (NG Kerk) sien homself as ‘n deel van die Christelike geloofsgemeenskap. Hierdie godsdiens het wêreldwyd versprei sedert die begin van die Christelike era aan die begin van ons jaartelling. Aanvanklik was daar net een Christelike kerk, met gemeentes verspreid in Noord-Afrika, Midde-Ooste, Asië en Wes-Europa. In hierdie tydperk het die drie (Ekumeniese) Geloofsbelydenisse tot stand gekom, wat toe deur die kerk gebruik is om uitdrukking en inhoud te gee aan die Christelike geloof. Die NG Kerk onderskryf dan ook hierdie drie kort belydenisse oor God Drie-enig wat deur die meeste kerke wêreldwyd aanvaar word, naamlik die:

  • Die Apostoliese Geloofsbelydenis

  • Die Geloofsbelydenis Athanasius

  • Die Geloofsbelydenis Nicea

In die jaar 1054 het die Christelike kerk finaal in twee geskeur met die totstandkoming van die Oosterse Ortodokse kerk (met Konstantinopel – die huidige Istanbul – as hoofkwartier) wat van die Westerse (Katolieke) Kerk weggebreek het. Vanuit die “ou” Westerse kerk, met Rome as die hoofkwartier, het die Protestantse-kerkbeweging (Hervorming) in die 15de en 16de eeu ontwikkel. Talle Protestantse gemeentes het in die lande van Wes-Europa tot stand gekom. In Wes-Europa het daar dus tot die 17de eeu, ‘n groot verskeidenheid van Protestantse gemeentes ontstaan waarin ‘n hele aantal (anti-Roomse) geloofsbelydenisse gefunksioneer het. Die sinode van Dordrecht (1618-1619) was onder andere ‘n poging om hierdie Protestantse uitdrukking van die Christelike geloof te konsolideer. By hierdie sinode is die Drie Formuliere van Enigheid aanvaar. Dit vorm ook die belydenisgrondslag van die NG Kerk, omdat dit in ooreenstemming met die Bybel is. Daarin word ons gereformeerde verstaan van die Christelike geloof geformuleer. Hierdie Formulier van Enigheid bestaan uit drie geloofsbelydenisse, naamlik:

  • Die Nederlandse Geloofsbelydenis (opgestel deur Guido de Brés 1547-2552)

  • Die Heidelbergse Kategismus (19 Januarie 1563 deur die Sinode van die Gereformeerde kerke aanvaar)

  • Die Dortse Leerreëls (opgestel op die sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande van 1618 - 1619 in Dordrecht)

Die NG Kerk fundeer sy leer op die Bybel. Die Bybel is die onfeilbare Woord van God. In dié Woord openbaar God Hom as Vader, Seun en Heilige Gees. Die Kerk verklaar dus haar onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die wil van God soos dit in sy Woord geopenbaar is.

Vroeë kerklike uitdrukkings van die Christelike geloof

“Be deaf, therefore, whenever anyone speaks to you apart from Jesus Christ, who is of the stock of David, who is of Mary, who was truly born, ate and drank, was truly persecuted under Pontius Pilate, was truly crucified and died in die sight of beings of heaven, of earth and the underworld, who was also truly raised from the dead...”

  • Ignatius van Antiogië ± 107 n.C.

“In the Father, the Ruler of the Universe, and in Jesus Christ, our Redeemer, In the Holy Spirit, the Paraclete, in the Holy Church and in Forgiveness of Sins.”

  • Epistula Apostolorum ± 150 n.C.

Bybelse gestaltes van ’n Geloofsbelydenis

Deuteronomium 6:4-9 Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees. Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.” Deuteronomium 26: 5-10 “Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My vader was 'n Arameër wat van plek tot plek getrek het. Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon. Daar het hy 'n groot, sterk en talryke nasie geword. Die Egiptenaars het ons sleg behandel. Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen. Ons het na die Here die God van ons voorvaders om hulp geroep, en Hy het ons gehoor. Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word. Die Here het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade, kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders. Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die rede waarom ek nou die eerste opbrengs van die land wat deur die Here aan my gegee is, gebring het.’ Dan moet jy dit neersit in die teenwoordigheid van die Here jou God en Hom aanbid.” Matteus 16:16-19 “Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” Matteus 28: 19-20 “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” 1 Korintiërs 15:3-8 “Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.”

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

5 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page