top of page

Pitkos vir die week - 21 Februarie 2019

Pitkos 7

Wat maak jou gelukkig

Die Powerball boerpot is op die oomblik oor die R200m.  Vir baie mense is dit die toppunt van geluk.  Wat kan ek nie alles doen met R200m nie.  Daar is nie verniet die liedjie, ”Ek kan doen met ‘n miljoen” nie. Ek kan my huis betaal, op ’n oorsese vakansie gaan, ‘n nuwe huis by die see koop en wie weet wat nog.  Is dit geluk, sal dit vreugde bring? Gaan dit my depressie wegneem? Gaan dit my lewenskwaliteit verbeter?  Gaan dit my huwelik red?   

Daar is groot gesprekke aan die gang oor wat maak mense gelukkig. So ‘n ruk gelede het ‘n Superintendent van ‘n baie groot hospitaal in ‘n lesing gesê dat 50% van die pasiënte in die hospitaal nie daar hoort nie.  Dokters weet dit en voer hulle plasibo pille want dit hou al die angs en psigoses bietjie op hok.  Almal is op soek na geluk.  As ek net weer geluk kan vind.  Nou die dag sê iemand vir my, ek wil net vir ‘n jaar weggaan dat ek myself kan vind. Ons tegnokratiese wêreld is ingestel op sukses en daarmee saam geld.  Baie mense dink dat sukses en geld dieselfde begrip is.

In ‘n studie van die Harvard University saam met die Cambridge College of Sociological Studies na wat mense gelukkig, suksesvol en tevrede maak is daar  onverwagse dinge ontdek. Dit is seker een van die langslopende studies oor menswees en oor wat vreugde in die lewe bring, wat tot nou toe gedoen is. Dit is gedoen met ‘n groep studente uit die twintiger jare van die vorige eeu.  Van die studente was onder andere Pres John F Kennedy.

Al die studente is nou al ouer en in aftreefase van hulle lewe.  Baie van hulle is dood of het hulle lewensmaats verloor.  In die beginjare was geluk en sukses gedefinieër as geld en ‘n suksesvolle loopbaan.  Nou dat hulle ouer geword het, en baie van die gegradueerde studente is baie welaf, sê hulle dit is net my familie en my vriende.  Geld koop nie geluk nie of gesondheid of sukses nie.  Net my vriende en familie en hulle teenwoordigheid bring vreugde.  Ek het dit persoonlik ontdek toe ek ‘n paar dae gelede verjaar het. My kinders, vriende en familie, selfs die van wie ek nie so baie hou nie, was hier en skielik was ons geselskap kosbaar en innig.

Hulle teenwoordigheid en nabyheid het net die radikale verskil gemaak, en ek het my voorgeneem om met almal weer moeite te doen want ons het mekaar nodig en vriendskap is nie moeite nie.  Dit is eintlik net vreugde.  Ons weet mos nie (gelukkig ook) hoe lank nog nie.

Dit is hoekom daar die gemeenskap van die gelowiges is, want eintlik is ons mos almal familie.  Ons is familie van Christus.  Dit bind ons aan mekaar al hou ons nie altyd van almal nie.  Ons leef in die wêreld waar mense hulleself voor hulle TV afsluit van die wêreld.  Ek het niemand nodig nie en as ek kerk of geloof nodig het, is die remote mos daar.  Die studies het gewys dat ons besig is om in ‘n verarmde geïsoleerde gemeenskap te ontaard. Dit is hoekom die begrafnisondernemers al hoe meer vertel dat hulle liggame moet gaan haal wat 6-10 dae al oorlede is sonder dat iemand weet.  Dat die hond se honger geblaf die enigste teken was dat daar fout is.

Geloof bring ons bymekaar en net om saam met ander mense te wees, al hou jy nie van die dominee of pastoor nie, is die nabyheid van ander eensames, partykeer die enigste hulp.

Ek het julle by die naam geroep, jy is Myne.

Van Huis tot huis

Piet Marais 0832590023

1 view0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page