top of page

Pitkos vir die week - 21 April 2020

Pitkos 11

Inleiding: wat is ’n erediens?

Die erediens – vir baie is dit die heilige oomblik van die week. Vir ander is dit net nog ’n gebeurtenis of byeenkoms wat af en toe bygewoon moet word om net die gewete te sus. Wanneer die vraag gevra word – wat is ’n erediens, dan gaan die antwoorde verskil rakende aan wie die vraag gerig is. As jy dit vir ’n prediker vra, dan gaan dit groot en deels verskil van die antwoord van ’n lidmaat. So ook gaan die antwoord verskil van iemand wat in die platteland woon en iemand wat in Centurion woon. Die vraag gaan vanuit 3 hoeke benader word:

  • Wat is ’n erediens volgens die HANDLEIDING VIR DIE EREDIENS saamgestel deur Bybel-Media vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk?

Die erediens is die sentrale gebeurtenis in die voortgaande lewe van ’n Christelike gemeente. In die erediens gaan dit immers oor die ontmoeting tussen God en sy gemeente: God nader tot die gemeente en die gemeente nader tot God. In hierdie ontmoeting neem God die inisiatief. Hy roep sy gemeente om uit die normale gang van die lewe terug te tree; Hy bring hulle saam met die oog daarop om hulle geloof op te bou en te versterk; en Hy stuur hulle weer terug na die gewone gang van die lewe om tot sy eer te lewe. God se inisiatief word beantwoord deur die reaksie van die gemeente: Hulle tree bewustelik terug uit die gewone gang van die lewe; in die ontmoetingsgebeure van die erediens word daar by hulle ’n nuwe perspektief op die lewe gevorm; en dan tree hulle weer toe tot die volheid van die lewe. Die God wat sy gemeente in die erediens ontmoet, is die God wat deur sy Woord met mense praat. Omgang met die Woord is daarom van besondere belang in die erediens en kom veral tot uitdrukking in die Skriflesing en die prediking. Deur die lees en die verkondiging van die Woord ontdek die gemeente opnuut wie God is, wie hulle self is en wat die betekenis van die lewe is. Die God wat met mense praat, is egter ook handelend in die erediens teenwoordig. Wanneer die Woord gelees en verkondig word, is God self besig om deur die werking van die Heilige Gees die geloof van die gemeente te vorm. Net so is die bediening van die sakramente middele wat deur God gebruik word om geloof in sy verlossingsdade te bevestig en te versterk. Saam met Woord en sakrament word ook die ander handelinge wat in die erediens uitgevoer word, deur God in diens geneem om van die erediens ’n ware ontmoeting met Hom as lewende God te maak. Die reaksie van die gemeente op God wat met hulle praat en handel, neem ’n verskeidenheid van vorme aan: verwondering, dankbaarheid, verootmoediging, erkenning van skuld en belydenis van geloof. In die erediens word daar aan hierdie reaksie van die gemeente uitdrukking gegee in gebede, gemeentesang, die uitspreek van die geloofsbelydenis en die gee van offergawes. Die erediens is ook bedoel om uitdrukking te gee aan die gemeenskap van die gelowiges. Die gemeente kom nie bloot as losstaande individue saam nie, maar as gelowiges wat onderling aan mekaar verbind is. Al die gemeenskaplike handelinge in die erediens, soos die gebede en die gemeentesang, maar ook die Woordverkondiging en die bediening van die sakramente is bedoel om die onderlinge gemeenskap te vorm en te versterk. Die erediens is ’n openbare byeenkoms. God roep sy gemeente en rus hulle in die erediens toe om lig vir die wêreld en sout vir die aarde te wees. God wil egter ook hê dat al meer mense Hom sal ken en dien. Daarom is die uitnodiging tot deelname aan die erediens ook bedoel vir diegene wat hulleself nog nie as deel van die gemeente van die Here beskou nie. Dit plaas die verantwoordelikheid op die gemeente om in die inrigting van die erediens ’n oop en verwelkomende benadering na te streef sodat die wêreld kan glo dat dit vir mense moontlik is om tuis te kom in die teenwoordigheid van God.

  • Wat is ’n erediens volgens my as Prediker?

Die bogenoemde is ’n volstrekte definiëring van ’n erediens. Ek ondersteun die definiëring dat ’n erediens ’n openbare byeenkoms is rondom die Woord van God. Let egter op dat dit nie ’n byeenkoms van gelowiges is nie, maar ’n openbare byeenkoms waar gelowiges sowel as die vreemdeling welkom is. Die erediens word bygewoon deur ryk en arm, gesondes en siekes, die skynheiliges en regverdiges, die bedrieërs en leuenaars, mans en vroue, oud en jonk, CEO’s en werkloses, stil denkers en lof hartige sangers, leiers en volgelinge, geleerdes en die wat ongeletterd is, verslaafdes, depressielyers, atlete en kreupeles, egbrekers en verliefdes, alkoholiste en vroueslaners, onderwysers en sakemanne en so kan hierdie lys vir bladsye aangaan. Dit moet baie duidelik gestel word dat ’n erediens nie net bestaan uit ’n “preek” nie, maar klomp verskillende liturgiese bewegings. Daar sal volgende week in meer detail na die verloop van ’n erediens gekyk word. Ek as prediker beleef egter ook ander emosies en ervaringe. Eerstens, vir my as prediker begin ’n erediens nie op ’n Sondagoggend om 09H00 nie, maar reeds die eerste keer wanneer ek met die Skrif begin werk (en die Skrif met my) en wanneer die voorbereiding gedoen word. Daar word dae bestee ter voorbereiding vir ’n erediens. Elke prediker moet met eerbied en respek die erediens benader, want dit is nie die geleentheid waar jou stem gehoor moet word nie, maar eerder die van God s’n. Daar moet ’n versigtigheid wees vir uitwissing van God op die kansel. Die prediker is net die mondstuk tot die Heilige woorde van God. So Spreek die Here, Here. Die verhaal van Moses se roeping speel gedurig in my kop af, veral waar Moses die vraag aan God rig: “Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag...” en later “ek praat swaar, die farao sal nie na my luister nie.” In ’n uitstekende boek getiteld “Die lewende stem van die evangelie” deur Johan Cilliers skryf hy die volgende: “Uitgekrap teen ’n muur van wat eens die majestueuse paleis van Caesar in Rome was, tref ’n mens vandag nog, ná duisende jare, ’n provokatiewe prentjie aan, waarskynlik deur ’n kind geteken. ’n Prentjie van ’n esel wat soos ’n mens teen ’n kruis oopgespalk is. Iemand – ’n onbekende Christen – staan voor die kruis en aanbid die Esel. Dwarsoor die uitbeelding is in groot letters uitgekrap: Aleksamenos aanbid sy God.


God? ’n Esel? Aan ’n kruis? Hoe kan jy so ’n God aanbid? En ook nog oor Hom préék? Paulus was al van mening dat hierdie vreemde evangelie, waarvan die Kruis in die sentrum staan, vir sommige geheel en al absurd en belaglik sou wees, vir ander ’n struikelblok, ’n irritasie (1 Kor. 1:18-31). Onsin. Volledige en volslae dwaasheid. Dis wat die prediking is. Want, stel jouself nou die volgende prentjie voor: hier staan ’n man of vrou voor ’n groep mense met verskillende geskiedenisse, behoeftes, persoonlikhede en verwagtings, en maak die mond oop met die veronderstelling of ten minste hoop dat sy of haar woorde op een of ander manier in God se woorde omskep gaan word, woorde wat moet heelmaak en verlos, moet vertroos en rigting gee, en uiteindelik die diepste sin van ons bestaan moet uitspel. Alhoewel ek dae bestee ter voorbereiding vir ’n erediens, is daar nie ’n enkele “perfekte” erediens nie, want ek is mens. Die genade is dat die “sukses” (hoe ook al dit bepaal word) van ’n erediens nie van die prediker afhang nie, maar deur die beweging van die Heilige Gees. Daar was al tye tydens eredienste waar ek in my feilbaarheid gedink het “SJOE, dit was nou great. Die wêreld gaan veranderd wees na die erediens!” en dan gebeur daar niks. Ander kere tydens ’n erediens wens ek, daar is ’n knoppie iewers op die kansel wat ek kan druk wat my kan insluk en iewers vêr weg uitspoeg, want sjoe “ek dink nie die boodskap het oorgekom nie” en dan hoor en sien jy die veranderinge wat die Heilige Gees gebring het, juis deur daardie “onsuksesvolle” erediens. Die erediens moet en is nes vir my as prediker net soos vir u, ’n spesiale ontmoeting met God.

  • Wat is ’n erediens vir ’n lidmaat volgens my waarneming as Leraar?

Hoe definieer jy as lidmaat die erediens? Is dit vir jou ook ’n spesiale samekoms saam met ander, rondom die Woord van God? Ek as leraar neem waar dat daar verskeie gesindhede is rondom die erediens:

  • Die erediens is ’n stil heilige uur van die week en niemand durf dit verbreek of steur nie.

  • Die erediens is ’n plek waar ek gevoed word vir die week.

  • Die erediens is ’n plek waar iemand (die prediker) die dinkwerk vir my doen.

  • Ek het nie ’n erediens nodig nie, want God praat deur en op ander maniere met my soos die natuur, die predikers op televisie of in my slaap, want Sondae is my enigste laat slaap geleentheid van die week.

  • Ek het geen behoefte aan ’n erediens nie, want “Ek sit nie in die kerk saam met ’n klomp skynheiliges nie.” of “ek hou nie van die dominee nie”. Ek as leraar wil jou vandag aanmoedig om nooit van ’n erediens af weg te bly omrede jy nie van ’n dominee hou nie. Die dominee is nie die persoon waar rondom die erediens draai nie.

Waarom ’n erediens?

Wat is jou motivering om ’n erediens by te woon en self deel te neem? ’n Erediens vorm ’n groot gedeelte van tot ons verhouding met God omdat die Here nie net in die “binnekamer” gedien wil word nie, maar ook in die openbaar. Dit sien ons van die Ou Testamentiese tye af al in die reëlings wat God getref het sodat daar openbare Godsverering by die tempel sou wees. Die Here rig ook spesifieke opdragte aan Sy skepping wat gesamentlik uitgevoer moet word soos:

  • Om saam te bid (1 Tim. 2:1)

  • Om saam te sing (Ef. 5:19)

  • Om saam na die Woord te luister (1 Kor. 14:29)

  • Om saam nagmaal te vier – die gemeente moet saamkom om die nagmaal te vier (1 Kor. 11:24)

  • Om saam die liefdegawes (vrygee) vir die armes in te samel (1 Kor. 16:2)

Die afgelope weke is die “normale erediens” tot stilstand gebring en dit het my op ’n stadium laat wonder: word die erediens gemis? Indien daar nooit weer ’n erediens gehou gaan word, gaan daar ’n leemte in die samelewing gelos word? Daar waar eredienste in die wêreld nie gehou word nie, is daar ’n behoefte? Beslis, soos wat ek gedurende hierdie tyd telefoniese kontak met die gemeente het, is dit duidelik dat die samekoms tydens ’n erediens gemis word. Hierdie tyd is vir my as prediker en ek hoop ook vir u as lidmaat die bevestiging dat die erediens ’n baie besonderse plek in die samelewing en tot ons verhouding met God en mekaar het. Daar waar eredienste nie gehou kan word nie, is beslis armer af. Hierdie tyd is ons egter gedwonge om nuut te dink oor die erediens. Ek glo dat elkeen van ons in die tyd verryk word oor die funksionaliteit van ’n erediens.

Waarheen is die erediens oppad?

Die gesig van die erediens het die afgelope klompie jare drasties verander. 30 Jaar gelede kon jy in enige erediens, by enige gemeente instap en jy sou bekend wees met die verloop daarvan. Dit is glad nie meer só vandag nie. Church hopping is die orde van die dag. Ek gaan waar ek gevoed word, waar my vriende is en die gemeente wat die populêrste is. Het die erediens haar stem en plek in die samelewing verloor? Daar is gewoonlik 3 soorte eredienste wat “vol” gesit word: die eerste diens van die nuwe jaar (almal se Nuwejaarsvoorneme om hulle geestelike lewe reg te ruk); tydens die gebruik van die nagmaal en gewoonlik by die Kerssangdiens. ’n Erediens is soveel meer as om gevoed te word, om saam met vriende te verkeer en om deel te wees van ’n populêre gemeente. ’n Erediens is ’n plek waar ek veilig moet voel. Die plek waar ek verhoudinge met ander opbou en heel laas waar ek deel raak van iets veel groter as myself. Dit laat ons by die laaste gedeelte van die week se tema: is dominee KykNET Kanaal 144 op ’n Sondag genoegsaam?

Is dominee KykNET Kanaal 144 op ’n Sondag genoegsaam?

Ek is baie dankbaar vir die “publieke” samekoms rondom die Woord van die Here op televisie en self oor ’n radio, want daar is tye wanneer ek nie ’n erediens kan bywoon nie. Die afgelope weke se lockdown is die perfekte voorbeeld. Dit is egter na my mening nie genoegsaam nie, want soos reeds genoem, is ’n erediens meer as net om na die Woord te luister. Dit is om deel te wees van iets groter as myself.

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

7 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page