top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 20 November 2019

Pitkos 45

5de – 10de Gebod

📷

Inleiding

Ek kan nie glo ons is aan die einde van ons Tien Gebooie reeks nie. Dié reeks het weer vir my bevestig, dat God nie hierdie gebooie vir ons kom gee het, om ons vryheid in te perk nie, maar juis sodat ons vanuit Sy genade ten volle in verhouding met Hom, ons naaste en onsself kan leef.

Die Vyfde Gebod

Die Heidelbergse Kategismus104 Vraag: Wat eis God in die vyfde gebod?

Antwoord: Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp (a). Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê (b), omdat God ons deur hulle wil regeer (c).

Ef 6:1, 2, 5; Kol 3:18, 20, 22; Ef 5:22; Spr 1:8; 4:1; 15:20; 20:20; Eks 21:17; Rom 13:1. (b) Spr 23:22; Gen 9:24;1 Pet 2:18. (c) Ef 6:4, 9; Kol 3:20; Rom 13:2, 3; Matt 22:21 Die Vyfde Gebod en die VerbondEk is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei het.”

Hierdie woorde is verbandswoorde: gespreek deur ’n Verbondsgod aan ’n verbondsvolk. Wat is die verhouding tussen die Vyfde Gebod en die verbond/doop wat God gesluit het? Die gesinne se uiteensetting en funksionaliteit was baie anders in daardie tyd as vandag. Gesinne het saamgewoon en na mekaar omgesien. ’n Gesin het bestaan uit ’n man, vrou(e), kinder(s), bejaarde ouers wat nie meer gewerk het nie asook alle diensknegte. Dit was die plig van die ouers om die woorde van God aan die kinders te openbaar (Deut. 6:6) en wat die kinders gehoor het, moes hulle bewaar en in die hart omdra (Spr. 6: 20-22). Die gesin was dus ’n mini-koninkryk van God, maar nie minder Koninkryk nie!

As ouers en samelewing moet ons besef dat God se koninkryk by die gesin begin. Dit maak nie saak of jy deel is van ’n biologiese of pleegsorg gesin nie. God se koninkryk begin by die liefde en uitleef van sy genade tussen kind en ouer. Omdat God, die Verbondsgod is en ons sy verbondskinders, wil God hê dat die eenheid wat daar vanaf sy kant aan ons is, moet ons ook onderlings met mekaar hê.

Die wese van die huwelik in die Handleiding van ’n erediens lui soos volg: “die huwelik is ’n hegte eenheid.... hierdie eenheid is die diep geheim van ’n gelukkige lewe, die grondslag van gesonde gesinslewe en die hoeksteen vir ’n stabiele samelewing. Egpare wat in God hulle eenheid, geluk en toekoms vind en wat hulle lewe inrig onder die heerskappy van sy Woord en Gees, is vir mekaar hulle familie, die kerk en die samelewing ’n vreugde, krag en inspirasie.” Ek wil ’n tree vêrder teruggee deur te sê dat die wese van so ’n huwelik wat lei tot ’n gesonde samelewing reeds by die Vyfde Gebod in die ouerhuis begin.

Die Vyfde Gebod is nie gegee sodat ouers net moet regeer oor hulle kinders en dat kinders net onderdanig aan ouers moet wees nie, maar sodat God se koninkryk en die eenheid tussen God en mens herstel en weerspieël kan word.

Die Sesde Gebod

Die Heidelbergse Kategismus105 Vraag: Wat eis God in die sesde gebod?

Antwoord: Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde of gebare doen nie en nog minder met die daad (a). Ek moet alle wraaksug laat vaar (b). Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie (c). Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer (d).

(a) Matt 5:21, 22; 26:52; Gen 9:6. (b) Ef 4:26; Rom 12:I9; Matt 5:25;18:35. (c) Rom 13:14; Kol 2:23; Matt 4:7. (d) Gen 9:6; Eks 21:14; Matt 26:52; Rom 13:4.

106 Vraag: Praat hierdie gebod net van doodmaak?

Antwoord: Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan (a), soos afguns, haat (b), woede (c) en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord (d). (a) Spr 14:30; Rom 1:29. (b) 1 Joh 2:11. (c) Jak 1:20; Gal 5:19-21. (d) 1 Joh 3:15.

107 Vraag: Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê is nie?

Antwoord: Nee, terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (a). Ons moet teenoor hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees (b), alles wat hom kan benadeel, sovêr moontlik probeer voorkom (c) en selfs aan ons vyande goed doen (d).

(a) Matt 22:39; 7:12; Rom 12:10. (b) Ef 4:2; Gal 6:1, 2;Matt 5:5; Rom 12:18; Luk 6:36; Matt 5:7; 1 Pet 3:8; Kol 3:12. (c) Eks 23:5. (d) Matt 5:44, 45; Rom 12:20. Moses die moordenaar en die Sesde GebodIn Eksodus 2 lees ons die verhaal van Moses. Moses wat as Israeliet gebore was, maar wat soos ’n Egiptenaar in die paleis gewoon het. Tog vanuit die optrede van Moses is dit duidelik dat hy geweet het dat hy nie ’n Egiptenaar in bloed is, maar ’n Hebreër. Daarom kan ons aflei dat dit onder andere een van die redes was waarom Moses die Egiptenaar doodgemaak het. Daar is ’n sterk argument onder teoloë dat die bogenoemde, die moord wat Moses gepleeg het, regverdig.

Kan ons moord enigsins regverdig? Wat het deur Moses se gedagtes gegaan toe die Sesde Gebod aan hom as moordenaar geopenbaar was? Die Sesde Gebod bestaan uit ’n negatiewe woord ‘moenie’ en die werkwoord (Rasah). Die presiese vertaling van hierdie werkwoord is juis problematies (veral in vandag se samelewing met etiese kwessies soos aborsie, genadedood en om jouself te beskerm). Sommige vertalings verwys na “You shall not kill” (jy mag nie doodmaak nie), waar die Engelse woord vir ‘kill’ verwys na teregstel, aborsie, euthanasia/genadedood ens.

Die ander vertalers gebruik die woord ‘murder/moor’. In die moderne taal dra die woord ook ’n verskillende interpretasies. Die gebod is duidelik dat dit teen die vorm van lewe neem is. Die vraag is: teen watter vorme van lewe neem is die gebod? Hoe kan die gebod geïnterpreteer word, sodat die beskerming van lewe waarlik gedoen word?

Sedert 1932 (Engeland het vir die wettiging van die genadedood gevra.) is die gedagte dat die mens ’n reg op die lewe het en dus ook die oor die einde daarvan beskik, vervolgens word nie alle lewe nie, maar alleen die gesonde lewe as sinvol gesien sodat gesondheid as die hoogste waarde beskou word waaraan alle ander opgeoffer behoort te word. Wat is jou mening hierop? Die bogenoemde argument ontlok baie vrae: waaraan word die waarde van lewe/ situasie gemeet, sodat ’n lewe regverdig geneem mag word? Dr. J.A. Heyns is van mening: “Nie die mens, maar God het ’n reg op die lewe en daarom bepaal Hy nie net die tydsduur nie, maar ook die sin van die lewe. Daarom word die waarde van die lewe nie gemeet aan sy sosiale en produktiewe bruikbaarheid nie.”

Die Sewende Gebod

Die Heidelbergse Kategismus108 Vraag: Wat leer die sewende gebod ons?

Antwoord: Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b). Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d). (a) Lev 18:28. (b) Jud 1:23. (c) 1 Tess 4:3-5. (d) Heb 13:4; 1 Kor 7:7.

109 Vraag: Verbied God in hierdie gebod niks meer as net egbreuk en sulke skandes nie?

Antwoord: Omdat beide, ons liggaam en siel, 'n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat 'n mens daartoe kan verlei (c).

(a) Ef 5:3, 4; 1 Kor 6:18, 19. (b) Matt 5:27, 28. (c) Ef 5:18; 1 Kor 15:33.

Wat is egbreuk? Wanneer is ek skuldig aan egbreuk? Is dit dieselfde as skei? Wanneer kan ek egbreek en egskeiding regverdig? Hoekom het God die gebod vir ons gegee en juis ook vir ’n volk wat pas uit slawerny bevry is? Die Sewende Gebod het ’n rationale kant. Van die begin af is dit duidelik dat die Skrif na die huwelik verwys as ’n toewyding tot ’n verhouding wat nie soos enige ander verhouding is nie, so ook die uitsonderlike verhouding met God. Hierdie toewyding van die verhouding wys op intimiteit in die seksuele sphere, maar is nie beperk tot net ’n mooi fisiese verhouding nie. Dit is wel ’n fisiese verhouding wat die moontlikheid van kinders kan inhou, maar dit is ook ’n wederkerige verhouding van sorg, liefde, omgee, hulle en vriendskap. Die verhouding verwys na die verbondsverhouding wat nie net ’n fisiese eenheid simboliseer nie, maar wys op die mensheid van die partye en die lojaliteit van die verhouding en die eenheid tussen mekaar. Soos God ons nooit alleen laat en seermaak nie, moedig God ons ook aan om dieselfde binne die huwelik te doen.

Gesinne word opgebreek en verdeel deur egbreuk en vanuit die Vyfde Gebod is dit duidelik dat God die gesin as hoë prioriteit beskou. Tog, is dit gesond om in ’n huwelik te wees waar die egpaar nie goed is vir mekaar nie?

Die Agste Gebod

Die Heidelbergse Kategismus110 Vraag: Wat verbied God in die agste gebod?

Antwoord: God verbied nie slegs die diefstal (a) en roof (b) wat die owerheid straf nie, maar Hy beskou ook as diefstal al die skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die hande te kry (c). Dit kan gebeur met geweld of ‘n skyn van reg, soos deur die vervalsing van gewigte, lengtemaat, inhoudsmaat, goedere, (d), geld, deur woeker (e) of enige middel wat God verbied. Hy verbied ook alle gierigheid (f) en alle misbruik en verkwisting van sy gawes (g).

(a) 1 Kor 6:10. (b) 1 Kor 5:10; Jes 33:1. (c) Luk 3:14; 1 Tess 4:6. (d) Spr 11:1; 16:11; Eseg 45:9, 10; Deut 25:13. (e) Ps 15:5; Luk 6:35. (f) 1 Kor 6:10. (g) Spr 23:20, 21; 21:20.

111 Vraag: Maar wat gebied God jou in hierdie gebod?

Antwoord: Ek moet die belange van my naaste, waar ek kan en mag, bevorder en hom so behandel soos ek wil hê dat hy my moet behandel (a). Daarby moet ek ook my werk getrou doen, sodat ek die behoeftiges in hulle nood kan help (b).Matt 7:12. (b) Ef 4:28.As ek die 10 gebooie in my een hand hou en ek hou ons land se omstandighede in die ander hand en ek vra vir julle watter gebod word die meeste verbreek, dan sal ons almal baie vinnig sê “die 8ste gebod”. Op een of ander manier het elkeen van ons al onder diefstal deurgeloop.

Ek onthou nog goed die eerste keer wat ek diefstal op ’n ernstige manier teëgekom het – ek was nog op skool - iemand het in ons kar ingebreek. Elke keer na die inbraak wanneer ek in die kar geklim het, het dit nie meer soos ons kar gevoel nie. Iemand was hier binne wat nie hier gehoort het nie. Ook die vrees wat daarmee gepaard gaan, gaan hulle weer terugkom, wat gaan hulle volgende doen?

Wanneer ek twee sirkels teen mekaar sit dan vorm dit ’n agt. Net so het hierdie gebod twee kante, of twee groepe mense op wie die gebod gerig is. Die eerste sirkel is die voorhand liggende een: dis gerig op mense wat fisies die steelwerk doen. Mense wat goed neem wat nie hulle sin is nie. Die rede hoekom ek nie mag steel nie is eintlik baie eenvoudig: dit behoort nie aan jou nie, so moenie dit vat nie, dit behoort aan God en as Hy wou gehad jy moes dit hê, dan sou Hy dit vir jou gegee het. Jy toon ook nie respek aan jou medemens nie en deur nie respek te betoon aan sy eiendom nie, word daar ’n verhouding verbreek.

Die tweede sirkel is gerig op my en jou! Ja, alhoewel ons nie fisies die steelwerk doen nie, het ons ook ’n verantwoordelikheid tot die gebod. Dit is by hierdie tweede sirkel waar ons Suid-Afrika se kwessies kan aanspreek, soos: ek steel omdat ek honger is. Die gaping in ons land tussen ryk en arm word daagliks groter. Ons as Suid-Afrikaners, maar ook ons as gelowiges word opgeroep om ’n spiraal van mededeelsaamheid en medemenslikheid aan die gang te sit. Efesiërs 4:28, 1 Timoteus 5:18, Lukas 10:7 asook Jakobus 5:4 sê dat ons hierdie gebod eers na kom wanneer ons ook vir die armes gee en die arbeiders betaal wat hulle werd is.

Terloops: diefstal is ook wanneer ons nie vir iemand gee iets gee, wat hom moet toekom nie soos byvoorbeeld goedkoop arbeid.

Die Negende Gebod

Die Heidelbergse Kategismus 112 Vraag: Wat eis die negende gebod?

Antwoord: Ek mag teen niemand valse getuienis aflê (a), niemand se woorde verdraai (b), nie ‘n kwaadsteker of lasteraar wees nie (c), niemand onverhoord en ligtelik help veroordeel nie (d). Alle vorme van lieg en bedrieg moet ek as die duiwel (e) se eie werke vermy as ek nie die sware toorn van God oor my wil bring (f) nie. In regsake en in alle ander handelinge moet ek die waarheid liefhê, en opreg wees in wat ek sê en bely (g). My naaste se eer en goeie naam moet ek na my vermoë verdedig en bevorder (h).

(a) Spr 19:5, 9; 21:28. (b) Ps 15:3; 50:19, 20. (c) Rom 1:30. (d) Matt 7:1; Luk 6:37. (e) Joh 8:44. (f) Spr 12:22; 13:5. (g) 1 Kor 13:6; Ef 4:25. (h) 1 Pet 4:8.

Om valse getuienis te spreek is om jou nie aan die werklikheid te hou nie, maar om met woorde en dade ’n eie werklikheid te skep, of ten minste die eise en maatstawwe vir ’n eie werklikheid daar te stel. Dit mag geen mens doen nie, want God alleen is volledig los van die werklikheid.

Dr. Heyns sê “Die God van die verbond – om wie dit tog hier gaan – is die sprekende God, d.w.s. die God van die woord. En juis hierin – die feit dat Hy die God van die woord is – is Hy van ander gode, waarvan ons in die eerste gebod gehoor het, radikaal onderskeie. Hulle het geen woord om te spreek nie, maar God het wel ’n woord – nee, nie één woord nie, maar ’n verskeidenheid woorde om te spreek...”

Met die bogenoemde stelling in ag, my volgende gevolgtrekking: ons is na die beeld van God geskape, so ons kan met genoegsame geloof bely dat ons in die waarheid geskape is. Dus, wanneer ons, ons monde en dade uitleen vir vals getuies dan breek ons die waarheidsbeeld van God in ons. Ons stel en openbaar ’n God aan die wêreld voor wat nie getrou is aan wie Hy werklik is nie.

Die Tiende Gebod

Die Heidelbergse Kategismus 113 Vraag: Wat eis die tiende gebod van ons?

Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê (a).

(a) Rom 7:7.

In die Tiende Gebod word begeerte en die innerlike wense en drange van die volk aangespreek. Dit gaan oor hebsug. ’n Spesifieke lys van begeerlike sake word aan die volk gegee: huis, vrou/man, slaaf/slavin, bees, donkie, enigiets wat aan die naaste behoort. Vandag moet ons self die begeerlike sake van ons tyd identifiseer. Watter dinge begeer ons in 2019?

Hierdie gebod gaan oor die samehang tussen begeerte en daad. Die begeerte moet in die kiem gesmoor word voordat dit tot die daad kan oorgaan. Wie prooi van die begeerte word, maak die ganse lewe onmoontlik – vir hom en vir die naaste. As gevolg van die begeerte wat in my en oor my heers, kan my naaste ook nie ’n naaste wees nie – met betrekking tot alles word hy vir my ’n mededinger en ’n struikelblok; ’n vyand wat uit die weg geruim moet word. Begeerte is in alle opsigte ’n rusverstoorder en ’n verbreker van gemeenskap. Die Tiende gebod is ook uiters belangrik om na te luister: “Jy mag nie begeer nie.” Daar is ’n neiging onder mense om net al meer te wil hê. Dit bedreig en verwoes uiteindelik mense se lewe. Die Tiende Gebod vra dat ons diepste hartsbegeerte na God self sal wees. Die oproep dring ons terug na die dankbaarheid beginsel. As ons begeer verloor ons fokus op al die wonders waarmee God ons seën.

Slot

Baie dankie vir ’n wonderlike paar maande wat ons saam kon gesels en dink het oor die dinge van die geloof en die lewe. My gebed vir elkeen van u is, dat u ’n baie veilige en geseënde Kerstyd mag hê. Die volgende Pitkos uitgawe sal Woensdag die 15de Januarie 2020 beskikbaar wees.

Seën vir julle Ds. Ryno Hurn

10 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page