top of page

Pitkos vir die week - 2 Mei 2019

Pitkos 17

Vir watter party stem God?

Dit is verkiesingstyd en emosies loop hoog. Daarmee saam is dit maar ‘n tyd van onsekerheid.  Ek kan onthou, en die van u wat ouer is sal weet, dat die destydse Natte en Sappe op ‘n heel onbeskaafde manier verkiesings gevoer het.  Ek het beleef dat mense (sogenaamde ordentlike mense en sommige nogal die waardige Ooms) mekaar met stoele gegooi het en vuisgevegte het uitgebreek.  Die verlede is nie altyd so vroom nie en geskiedenis skryf sy eie oordeel.  Maar wat gemaak met Woendag 8 Mei met jou stem?

Laat ek my bona fides onmiddelik verklaar deur te sê ek behoort aan geen politieke party nie en “hierdie advertensie is nie betaal deur ‘n politieke party nie”.  Die groot vraag natuurlik is of Christene enigsins aan die politiek moet deelneem?  Is geloof nie verhewe bo die politiek van die dag nie?

Nou moet ek ongelukkig ‘n lang draai neem.  In die Ou Testament was God teenwoordig by die mense in die vorm van ‘n wolk.  Dit was die simbool van “God met ons”. Moses en die Isrealiete het dit so ervaar. Toe was Israel nie meer tevrede met ‘n wolk nie en die verbondsark word die simbool. Dit is in die tyd dat Israel aangedring het op ‘n koning, want die Godsregering was te wolkerig.  Al die volke om hulle is deur konings regeer en dan volg die tyd van Saul en Dawid en Salomo.  So dit het maar sy beperkte voordele gehad maar almal, Israel inkluis, het uitgesien na die tyd wanneer die ewige koning (Messias) sou kom, wat dan ook op Kersdag sou aankom.  Die probleem begin onmiddelik, Jesus wil nie die land regeer en die Romeine (Enemy number one) verdryf nie.  Hy kondig inteendeel die Koninkryk van die Hemele aan.  Baie Christene het daarmee die boodskap ontvang om in kloosters te bly weg van die sonde en die wêreld.

Dit kos die Pinstergebeure om die gelowiges te oortuig dat God nou weer by ons is na die kruisiging en dat Sy Gees ons toerus om die Koninkryk van die Hemele te vestig maar om juis ook die “koninkryk van die Hemele” in hierdie land te vestig.  Beteken dit nou meer kerke?  So terloops, daar word elk maand meer as 500 nuwe kerke gestig.  As dit daarvan afhang is ons die mees “gekerkste” land in die wêreld en behoort ons net so duskant die Hemel te wees.

Pinkster kom leer ons om in die wêreld te wees, deel van die wêreld.  Nie in kloosters nie, maar met ons voete stewig op die aarde.  Daarom glo ons dat elke gelowige ‘n verantwoordelikheid het teenoor die wêreld, en die aarde (wat ons so verniel), maar in besonder teenoor Suid Afrika.  Pinkster kom maak God ons Sy koningskinders, Sy priesters en Sy profete en Hy bemagtig ons om ‘n stukkie Hemel op aarde te maak.  Ons moet soos Jesus ons hande vuil maak met die wêreld.

Maar daar is nie regtig ‘n party wat my standpunt verteenwoordig nie en die politici bedrieg ons en besteel die staat (my en jou geld).  Dit wat veronderstel is om na die armes te gaan (en daar is miljoene), beland in mense (skurke) se sakke. Ek weet en ek het baie simpatie met jou.  Moet ek regtig gaan stem, moet ons nie dalk ‘n Christenparty  stig en vir hulle stem nie?  

Ek het nie al die antwoorde nie.  Een ding weet ek dat Christus saam met die Tollenaars geëet het.  Hy het met die wêreld geleef.  Hy het die Fariseërs in meer as een politieke gesprek betrek, en die Skrifgeleerdes (wat ‘n ernstige politieke party was in geloofsklere), in hulle eie redenasies vasgevang. Het ek jou nou gehelp? Nee.  Dit is nie so eenvoudig om te sê wat sou Jesus doen nie.  Kom ek maak twee slotopmerkings. Jy moet gaan stem anders kan jy nie kla nie. Vir watter party?  Die een wat na jou mening, nie vir jou die beste gaan gee nie, maar wat vir die land en sy mense die beste voordeel gaan bring. Het ek jou nou in ‘n onmoontlike posisie geplaas?  Welkom in die hoek, ek is ook daar.

Lekker stem.

Groete van stembus na stembus. 

Piet Marais 0832590023

0 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page