Pitkos 15
Lof Inleiding:
As jy aan die term “lofprysing” dink, wat kom by jou gedagtes op? Dromme? Hande wat in die lig is? Sang? Musiek? Elkeen van ons dink anders oor lofprysing, weens ons unieke omstandighede, styl en agtergrond – soms kan dit frustrerend raak. Die doel van hierdie week se pitkos is dat ons die basiese beginsels van lofprysing sal hersien, sodat lofprysing nie ’n frustrasie is nie.
Hoe “moet” ek die Here loof?
Lofprysing is nie vreemd in ons lewe nie, dit is ’n integrale deel daarvan. Dit is deel van die menslike aard om dít wat ons van waarde ag spontaan te prys. Die teoloog Lewis het geglo dat wanneer die psalmdigter ons oproep tot lofprysing en danksegging dit eenvoudig ’n beroep is om dit te doen wat alle gesonde, normale mense doen wanneer hulle vir iets omgee en dit bewonder. Daar was ook in die vroeë 90’s ’n siening dat lofprysing ’n mondelingse aktiwiteit is wat deur middel van die gesproke woord of sang ’n buitengewone kwaliteit of daad erken. Lofprysing is meer as ’n houding van waardering of ’n emosie van genot, alhoewel dit gewoonlik albei elemente insluit. Lofprysing is die uitdrukking daarvan. As ’n mondelingse erkenning is lofprysing ’n reaksie op dit wat ons sien of ondervind. Dit druk nie ’n wens of behoefte uit nie, maar reageer op iets wat aan ons gegee is. Ek ondersteun die beredenering dat lofprysing die uitdrukking van emosie en die waardering deur mondelingse erkenning is, maar ek dink nie die vraag “hoe” moet ek die Here loof is ’n baie goeie vraag nie. Die woord “hoe” verander die basiese konsep van lofprysing. Die “hoe” wil vir my aandui dat ek iets spesifiek moet doen, of ’n bepaalde manier moet hê, maar na regte is lofprysing nie iets wat ek doen nie, maar meer iets wat ek is. Lofprysing is nie ’n aktiwiteit wat ek moet begin en voltooi nie, maar ’n lewenstyl. ’n Lewenstyl van lof verander die konsep van lof. Dit is nie meer ’n handeling wat op Sondae geskied nie en daar is ook nie meer ’n soeke na rede (goeie) om ’n oomblik van lofprysing te hê nie, maar eerder ’n aaneenlopende waarde wat nie ’n begin en ’n einde het nie. Dit beteken dat lofprysing elemente van klag, hartseer en vertroue het. Gewoonlik word daar probeer om klag en lof van mekaar te skei, hartseer en vrolikheid, ongeloof en vertroue. Maar ek kan die Here loof vanuit klag, hartseer en ongeloof. Lofprysing gaan nie oor die mens nie (al maak ons dit baie keer oor ons, veral oor die hoe), maar oor God. Lofprysing is die verheerliking van God. God, en nie die mens nie, staan sentraal daarin. Brueggemann skryf in een van sy boeke ‘Israel’s praise. Doxology against idolatry and ideology’ dat imperatiewe of gebiedende lofgesang die kenmerkendste wyse van lofprysing in Israel was. Die geloofwaardigheid van die oproep was afhanklik van die betroubaarheid van die motivering. Wanneer die motivering oortuigend was, sou ook ander nasies God loof en die nuwe wêreld van Israel se liturgie onderskryf. Die motivering moes egter die getuienis wees van God se transformerende krag te midde van menslike nood, pyn en weerloosheid. Dit is die besonderhede van God se aksies in die alledaagse lewe wat mense tot die oortuiging lei dat Hy getrou, lojaal en lof prysenswaardig is. Merk julle op dat self onder die volk van Israel daar ’n oortuigende rede moes wees vir lofprysing. Vir die volk van God, was lofprysing ’n doen handeling, i.p.v. ’n wees handeling. Lofprysing is die aanbidding en verering van God in jou hart en met jou verstand. Wie is God dat ons Hom sal aanbid en eer aan Hom bring? Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige” (Gen.17:1). God, die Almagtige het die hemel en die aarde geskape, die see en alles wat daar in is – die mens het Hy geskape na Sy beeld.
Seën vir julle
Ds. Ryno Hurn
Comments