Pitkos 3
Wat is die Vader
📷
Inleiding:
Miskien moet ons begin deur te sê dat die rol van God as Vader, Seun en Heilige Gees nie losgemaak moet word van die belangrike feit dat ons een heilige God aanbid nie. Alhoewel ons met verskeie geleenthede na die Vader, Seun en Heilige Gees afsonderlik gaan kyk, bly hulle steeds ’n heilige Eenheid. Die oomblik as ons hulle heeltemal probeer skei, loop ons die gevaar om drie gode te aanbid, en nie meer een Lewende God nie!
’n Moeilike konsep:
Om aan ’n persoon te verduidelik dat God ’n vader kant het, is ’n baie moeilike konsep. Om die konsep aan ’n persoon te verduidelik wat ’n gebroke verhouding met sy/haar aardse vader het, maak die saak amper onmoontlik. Dit is alles te verstane, want hoe kan jy glo in God die Vader wanner jou aardse vader niks minder as sleg was en nie ’n goeie beeld in jou nagelaat het nie. So, vaders wees versigtig in die manier hoe jy met jou kinders omgaan want ons loop die risiko dat dit ons kinders se godsbeeld kan beïnvloed.
God as Vader volgens die Heidelbergse Kategismus:
Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g). (a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24; 14:15; Ps 33:6; Jes 45:7. (b) Hebr 1:3; Ps 104:27-30; 115:3; Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12; Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5. (d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22. (e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12. (g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.
God as Vader volgens die Geloofsbelydenisse:
Apostoliese Geloofsbelydenis – Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. Geloofsbelydenis van Nicea – Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge. Nederlandse Geloofsbelydenis – God is een in wese en onderskeie in drie persone. Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Bybel ons leer dat die Vader, Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so 'n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie 'n eerste of 'n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
Watter soort Vader is God?
Die Bybel is vol getuienisse waar God uitgebeeld word as ’n goeie, liefdevolle Vader. Daar is egter een gelykenis wat vir my vêr bo die res uitstaan. Die verhaal van die verlore seun. Ek sou egter die verhaal anders benoem het – “Die ontvanklike vader!”. Hierdie verhaal som vir my baie mooi op watter eienskappe God die Vader oor beskik. Die eienskappe word vasgevang en omskryf in dieselfde lig as die van ’n aardse vader, maar tog weet ons dat wanneer God, Homself op ’n ander manier as ’n Vader gaan openbaar, dan gaan ons dit nie begryp nie.
Hoekom nie as Moeder nie?
Beskik God oor ’n seksuele oriëntasie? M.a.w. kan ons ook na God verwys as Moeder? Hoe sou ons Godsbegrip gelyk het indien ons geloofsbelydenis soos volg gelei het: “ek glo in God die Moeder”, in stede van “ek glo in God die Vader”. Een van my Nuwe-Testamentiese dosente, Prof. Hermie van Zyl was lank gelede gekonfronteer oor hierdie vraagstuk: hoekom word daar slegs na God verwys as Vader/manlik en nie ook as moeder/vrou nie? Prof. Van Zyl is van mening: “ons moet onthou dat die Bybel in ’n man-gesentreerde kultuur en konteks ontstaan het, en hierdie omgewing het ‘afgeskuur’ op die inhoud van die Bybel... ons moet onthou dat die manier waarop die Bybel oor God praat, eintlik in beeldspraak gehul is. Wanneer God as Vader, Seun en Heilige Gees voorgestel word, is dit eintlik menslike pogings om die wese en aard van God vas te vang. Die Bybel gebruik as ’t ware aardse begrippe-apparaat om dit wat eintlik onsêbaar is, te beskryf. “Vader” en “Seun” is maniere om iets te sê oor hoe God is – dat Hy skep, voortbring, versorg, beskerm en beplan (Vader), maar ook dat Hy aan sy eie wese gehoorsaam is, naamlik dat Hy as Seun die wil van die Vader getrou uitvoer (vlg. Joh 5:19,30; 8:28). Daarom is daar ’n innige en onverbreekbare eenheid tussen God die Vader en God die Seun; hulle is inderdaad ’n Goddelike Twee-eenheid. En as mens die Heilige Gees byvoeg, dan word dit die Goddelike Drie-eenheid, soos die kerk later bely het.” “Teoloë noem hierdie manier van praat oor God antropomorfe spreke, dit wil sê daar word op ’n mensvormige manier oor God gepraat. Ons kan nie anders as om dit te doen nie, want ons is gebonde aan tyd, konteks, kultuur en taal, ook in ons heiligste uitinge, byvoorbeeld wanneer ons oor God praat. Dit beteken nie dat God ’n blote projeksie van menslike denke is nie; wat in die Bybel staan is ook geopenbaarde kennis, maar dit bly Gods Woord in mensetaal... Hoewel die manlike beelde en beskrywings van God in die Bybel oorheersend is, hoef ons dus nie net in manlike en vaderlike terme oor God te dink nie. God is inderdaad ook moeder. Trouens, ons kan sê dat die moederlike beelde van God ook die vaderlike beelde interpreteer.”
Groete Ds. Ryno Hur
Comments