Pitkos 24 Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB)
Artikel 18-26: die Seun en sy werk in die versoening
Die verlossing van die indiwidu Artikel 18 die menswording van Jesus Christus Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Filip. 2:7) deur werklik ’n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ’n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook ’n egte menslike siel om so ’n werklike mens te wees. Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om al twee te red, aangesien beide verlore was. Teenoor die kettery van die Wederdopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb. 2:14), dat Hy wat die vlees betref, ’n nakomeling van Dawid is, as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand. 2:30 en Rom. 1:3), ’n vrug van die moederskoot van Maria (Luk. 1:42), gebore uit ’n vrou (Gal. 4:4), ’n spruit van Dawid (Jer. 33:15), ’n loot uit die wortels van Isai (Jes. 11:1), van die geslag van Juda afstam (Heb. 7:14), uit die Jode as mens gebore (Rom. 9:5), uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte – maar sonder sonde - aan sy broers gelyk geword het (Heb. 2:17 en Heb. 4:15). Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Emmanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt. 1:23). Filip. 2:7; 1 Tim. 3:16; Luk. 1:55; Gen. 26:4; 2 Sam. 7:12; Ps. 132:11; Hand. 13:23; 1 Tim. 2:5; 1 Kor. 12:3; Deut. 29:2; Ps. 119:34; Rom. 7:19; Jer. 33:15; Heb. 7:14; Rom. 9:5; Gal. 3:16; Heb. 2:16; Matt. 1:16. Artikel 19 die twee nature van Christus Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is; dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie, maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy onderskeie eienskappe behou. Net soos die Goddelike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb. 7:3) en hemel en aarde vervul, só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel ’n begin van dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by ’n ware liggaam behoort. Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is. Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur sy dood nie van mekaar geskei was nie. Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus ’n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitgegaan het. Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het. Die Godheid het nie opgehou om in Hom te wees nie; dit was in Hom toe Hy ’n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ’n kort tydjie nie geopenbaar nie. Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees vir ons te kon sterwe. Matt. 28:20; Joh. 10:13; Ef. 4:8, 12; Heb. 7:3; Matt. 26:11; Hand. 1:11; 3:21; Luk. 24:39; Joh. 20:25; Hand. 1:3; Matt. 27:50. Artikel 20 God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen en die straf vir die sondes deur sy aller bitterste lyding en sterwe dra. So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het, en só sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het. Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê. Heb. 2:14,. Rom. 8:3, 32; 4:25. Artikel 21 die versoening deur Christus Ons glo dat Jesus Christus - kragtens ’n eed – ’n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek. Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het. Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos ’n lam na die slagplek gelei en by die misdadigers gereken is' (Jes. 53:5, 7, 9); dat Hy as ’n misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar. Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps. 69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet. 3:18); Hy het die verskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk. 22:44), en Hy het uitgeroep: 'My God, my God, waarom het U My verlaat' (Matt. 27:46). Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely. Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor. 2.2); dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here, te ken oortref alles in waarde (Filip. 3:8); dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is, waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb. 10:14). Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt. 1:21). Ps. 110:4; Heb. 5:10; Rom. 5:8-9; Kol. 2:14; Heb. 2:9, 17; Rom. 4:25; Joh. 15:13; Hand. 2:24; Joh. 3:16; Rom. 8:32; 1 Tim. 1:15; Jes. 53:5, 7; Heb. 9:14; 1 Pet. 2:24; Matt. 15:28; Joh. 18:38; Ps. 69:5; Eks. 12:6; Ps. 22:16; Dan. 9:26; 1 Kor. 2:2; Rom. 5:6; Filip. 2:8; Heb. 9:12; 1 Pet. 1:18-19; Joh. 10:9; Heb. 9:25-26; 10:14; Joh. 5:10; Matt. 1:21; Hand. 4:12; Luk. 1:31. Artikel 22 ons regverdiging deur die geloof Ons glo dat die Heilige Gees ’n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie, maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ’n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry. Ps. 51:8; Ef. 1:17-18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20, 28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29, 33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3, 5, 9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24, 27; Filip. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2. Artikel 23 ons geregtigheid voor God Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Dit leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps. 32:2 en Rom. 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom. 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is, en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie, maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: 'En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor U aangesig regverdig nie' (Ps. 143:2). Heb. 11:7; Ef. 2:8; 2 Kor. 5:19; 1 Tim. 2:6; 1Jjoh. 2:1; Gen. 3:7 (Rom. 5:19); Rom 4:6; Hand. 4:12; Eseg. 36:23, 32; Deut. 27:26; Jak. 2:10; Ps. 143:2; Luk. 16:15; Job 1; 1 Kor. 4:4; Ps. 18:28; Sef. 3:11; Heb. 10:20. Artikel 24 ons heiligmaking en goeie werke Ons glo dat hierdie ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees, dat die geloof hom weergebore laat word en tot ’n nuwe mens maak, hom ’n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry. Daarom is daar geen sprake van dat hierdie regverdigende geloof die mens vir ’n vroom en heilige lewe onverskillig sou maak nie; inteendeel, hy sou daarsonder nooit iets uit liefde tot God doen nie, maar slegs uit liefde tot homself en uit vrees vir die verdoemenis. Dit is daarom onmoontlik dat hierdie heilige geloof niks in die mens tot stand sou bring nie; ons praat mos nie van ’n dooie geloof nie, maar van wat die Skrif noem ’n geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6), wat die mens beweeg om hom voortdurend te oefen in die werke wat God in sy Woord beveel het. Hierdie werke is, as hulle uit die goeie wortel van die geloof voortspruit, goed en vir God welgevallig omdat hulle almal deur sy genade geheilig is. Tog geld hierdie werke nie vir ons regverdiging nie, want ons is deur die geloof in Christus geregverdig nog voordat ons goeie werke doen. Hulle sou anders mos nie goed kon wees nie, net so min as die vrug van 'n boom goed kan wees voordat die boom self goed is. Ons doen dus goeie werke, maar nie om iets te verdien nie - wat sou ons tog kon verdien? Veeleer is ons die goeie werke wat ons doen, aan God verskuldig, terwyl Hy aan ons niks verskuldig is nie, aangesien dit Hy is wat in ons werk. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filip. 2:13). Laat ons daarom let op wat geskrywe staan: `...wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen' (Luk. 17:10). Tog wil ons nie ontken dat God die goeie werke beloon nie, maar dit is deur sy genade dat Hy sy gawe bekroon. Verder, al doen ons ook goeie werke, maak ons dit glad nie die grond van ons saligheid nie, want ons kan geen werk doen wat nie deur ons sondige natuur besmet en ook strafwaardig is nie. En al kon ons ook één goeie werk lewer, is die herinnering aan net een sonde vir God genoeg om dit te verwerp. Op hierdie manier sou ons altyd in twyfel verkeer, heen en weer geslinger sonder enige sekerheid, en ons arme gewete sou altyd gekwel word as dit nie op die verdienste van die lyding en sterwe van ons Verlosser steun nie. Rom. 10:17; Joh. 5:26; Ef. 2:4; Joh. 8:36; Tit. 2:12; Joh. 15; Heb. 11:6; 1 Tim. 1:5; Gal. 5:6; Tit. 3:8; Rom. 9:32; Tit. 3:5; Matt. 7:17; Rom. 14:23; Heb. 11:4; Gen. 4:4; 1 Kor. 4:7; Filp. 3:13; Jes. 26:12; Gal. 3:5; 1 Tess. 2:13; Luk. 17:10; Rom. 2:6; Op. 2:13; 2 Joh. :8; Rom. 11:5 (6-7); (Ef. 2:5); Jes. 64:6; 1 Kor. 3:11; Jes. 28:26; Rom. 10:11; Hab. 2:4. Artikel 25 die seremoniële wet in Christus vervul Ons glo dat die seremonies en heenwysing van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ’n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysing juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig. Rom. 10:4; Gal. 3, 4; Kol. 2:17; 2 Pet. 1:19; 3:2, 18. Artikel 26 Christus ons voorspraak Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ’n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ’n mens en van ’n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filip. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na ’n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk. Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel - wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem - dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy '’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: 'Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie 'n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word' (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: 'Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus ... laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloof versekerdheid...' (Heb. 10:19, 22). En voorts: 'maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit 'n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree' (Heb. 7:24- 25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: 'Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie' (Joh. 14:6)? Waarom sou ons 'n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om 'n ander een te neem of liewer 'n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23). 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer. 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Filip. 2:7; Joh 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3, 7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer. 2:5; Heb. 4:14, 16; Jer. 17:5, 7; Heb. 2:17-18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44:(21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.
Seën vir julle
Comments