top of page

Pitkos vir die week - 18 April 2019

Pitkos 15

Die Groot Dors

Was jy al dors? Ek praat nie van dors wees tot die volgende waterput nie, ek praat van soos 10 dae sonder water in die woestyn.  Dit is wanneer jou liggaam ingee en jy nie meer kan praat nie.   Hierdie week raak ‘n mens intens bewus van die hel waardeur Jesus moes gegaan het.  Die fisiese inhegtenisneming, die verhoor, die gespot en die verwoestende houe, 40 van hulle soos vir ‘n misdadiger. En dan die eindelose Joodse gekrabbel oor wie is nou skuldig en aan wat? “Barnabas, laat hom vry, Edelagbare, maar asseblief kruisig net vir Jesus.” Die spot en die ondervraging, spoeg in die gesig, veragting, watter woorde sal ons gebruik.  Dit is alles so opgeteken. En dan die vonnis.  Ek hoor Jesus sug, “Kan die beker maar nie by My verbygaan nie?” Nog is dit nie die einde nie.   Moet die Seun van God regtig gekruisig word, soos ‘n uitvaagsel, die “scum of the earth”?

Die kruistog na Golgota met die kruishout op sy skouers en nog steeds die houe.  “Aanskoulik” skree die skare “Soveel vermaak het ons lanklaas gehad. Kruisig Hom.” maar 3 dae te vore het dieselfde skare geskree ”Hosanna, vir die Koning van Dawid”.  Vreemd hoe vinnig mense van standpunt verander, veral as dit nie ‘n oortuiging is nie.

Skugter agter die skare volg die dissipelskaar. “Julle ken mos die man van Nasaret nie waar nie?” “Nee, net verlangs kennisse.  Ons het vir ‘n tyd saam geloop maar niks ernstig nie.” En elke keer as die man van smarte sy oë draai op soek na Sy Twaalf getroue volgelinge, kruip hul dieper die skare in. “Net ‘n bietjie water Petrus, vee net my gesig af!” Maar die verraad lê diep in ons.  Petrus dink hardop “As ek net die haan se gekraai kan stilmaak.  En die blik van die diensmeisie, wat al herkennend nou-nou in my rigting gekyk het.” Die haan begin weer kraai.

Uit die malende skare kom die onvoorsiene reisiger van Serene na vore. “Wat gebeur, wat gebeur?” En dan sonder sy beplanning word hy deel van die drama. Hy, die vreemdeling word die Messias kruisdraer en Sy broers die verfoeilikes. 

Golgota is nie ‘n maklike plek nie.  Dit is immers daar waar met die skuldiges en moordenaars afgereken word (ek en jy).  Eers die klere.  Hy moes toe al weet dat uit die aarde jy nie eers een stukkie saamneem vir die reis nie.  Tog in gespot kroon hulle die Koning van die Jode, maar min wetend dat die koningskap veel verder strek as die aarde.

Dan die dors, o, die groot dors.  Van die dors sal al ons vriende en reisgenote wat al by Golgota verby is op pad na die ewige koningskap, jou kan vertel. Nie asynwater nie, net die dors na Sy teenwoordigheid. Daar waar dokter en familie nie meer kan dra nie, die donker gang van oorgaan, van deurgaan.  Die oomblik van vlees verlaat en gees van God word.  Maar dit is ook die dors om al die skuldgevoellens en vervloekings van die lewe te laat versag met water, ewige water.  “Here dink aan my asseblief, ek is Koos of Piet. Onthou U daar by die see van Gallilea, of daar in die verkeer toe ek so kwaad was. Dink aan my, Here, dink aan my.”

En dan die groot versugting, ”Tetelestai” “Mens ek het alles versoen.  Dit is vir jou. Neem, eet, gedenk en glo.  Dit is vir jou.  Drink daaruit tot volkome versoening vir al jou sondes.”  

Dit is so vreemd dat ons nie die versoeningsding kan begryp nie, dat ons dit nie kan aanvaar nie.  Ons sleep elke dag nog steeds die tas vol sondes saam .  Dalk lê die antwoord daarin dat ons nog nooit dors was nie.

Geseënde Paasfees, drink daaruit, sodat jou dors geles kan word.

Van huis tot huis 

Piet Marais 0832590023

1 view0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page