Hoe die fundamentele vrae oor God, my help om Suid-Afrika anders te sien.
Wie is Hy? Wat doen Hy? Wat vra Hy?
Ek glo nie dat sedert 1994 (weens my ouderdom kan ek nie veel onthou van ons land se politieke klimaat voor die begin van die 2000’s nie) was Suid-Afrika al ooit in soveel onsekerheid en onrus gedompel nie. Die hele gesprek rondom staatskaping, dienslewering, korrupsie en die al hoe meer toenemende gewelddadige betogings groei by die dag. Selfs die kerk beland in die gedrang waarin die vraag ten diepste is na die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.
Hoe maak ’n mens sin hiervan? Hoe kies ’n mens koers? Hoe besluit ek wat is die regte ding om te doen? Die soeke na antwoorde duur al vir ’n geruime tyd, maar oplossings is min. Dalk lê die antwoord nie so seer in die politieke kringe, by die moderator van die sinode of langs die braaivleisvuur nie, maar dalk by die fundamentele vrae oor God - in my Godsbeeld! Wie is Hy? Wat doen Hy? Wat vra Hy? Want, my Godsbeeld beïnvloed my mens- en wêreldbeeld. My Godsbeeld bepaal hoe ek reageer op die uitdagings in die politiek, gemeenskap en selfs die gemeente.
Wie is God?
Telkemaal wanneer ek dink ek vir God kan begryp, Hom in my “boksie” kan plaas, dan besef ek hoe vêr weg ek eintlik van die waarheid is en dat ek nie ’n idee het wie God werklik is nie. Die manier hoe ek God sien en verstaan verskil van my buurman s’n. Ek wonder, indien ons almal se Godsbeeld iewers oorvleuel of saamstem, dit ons gaan help om die bogenoemde uitdagings aan te aanspreek? Gaan dit die wêreld ’n beter plek maak? Om ’n gesamelike Godsbeeld te verkry moet ons sekerlik ook ’n gesamelike vertrekpunt hê! Kom ons gebruik die brief aan die Kolossense as vertrekpunt.
Hoe vêr weg voel jy tans van die waarheid? Baie vêr? Want ek voel baie vêr. Wie is God volkome? Ek weet nie! Dalk moet ons na die lewe van Jesus gaan kyk om te sien wie God is? Joh. 1: 18 – Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.” Ek vind egter verder hoop in die woorde van 1 Kolossense 1: 15 “die Seun is die sigbare verteenwoordiger van God.”
Wat doen God?
Waarmee is God besig? As ons na die wêreld en ons land se gebeurtenisse kyk, dan wonder baie mense waarmee God besig is. Het Hy ons oorgelaat aan ons eie lot? Moontlik, glad nie, beslis ja. Weereens, jou Godsbeeld gaan bepaal wat jy raaksien. Die feit van die saak is, alhoewel dit partymaal voel of die samelewing Gods verlate is, het God Homself nog nooit onttrek nie. As jy ’n Godsbeeld het van God wat vêr en afsydig is, dan gaan dit vir jou voorkom asof God met niks besig is nie, maar indien jou Godsbeeld gevorm word deur 1 Kolossense 1: 20 “...deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede herstel, deur Hom het alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” dan besef jy baie vinnig dat God nog elke dag besig is. Hy versoen en bewerkstellig vrede.
Wat vra Hy?
In sekere sosiale en kerklike kringe is die gedagte dat alles en enige iets in my bereik en tot my beskikking is. Dit dryf ons tot ’n selfsugtige leefwyse en die verdienste van eie belang. Watter Godsbeeld het ons vandag nodig om anders op te tree? Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in dié kerk! ’n Beeld van die selfsugtige ek of dalk in die woorde van 1 Kolossense 2:6 “... julle moet in die verbondenheid met Hom lewe (leef soos mense wat ’n persoonlike verhouding met Hom het).
Ek hoop dat die soeke na ’n dieper verstaan van jou Godsbeeld jou sal help en bemagtig om Suid-Afrika, dié kerk en ons broers en susters in die geloof anders te sien.
Die Genade sal by julle wees. Ds. Ryno Hurn
Comments