Pitkos 41
My enigste troos in lewe en dood
📷
Die troos van ’n ouer.
Ouerskap is sekerlik dié grootste voorreg. Met hierdie groot voorreg het ek geleer wat dit beteken om iemand te troos. Daar is niks meer hartverskeurend as wanneer jou kind huil (en partykeer asof die wêreld besig is om te vergaan) nie. Met alles in jou wil jy jou kind troos. As ouer word elke tegniek denkbaar gebruik om jou kind te troos: van sis tot liedjies sing, van boekies lees tot styf teen die bors vasdruk. Verligtend, wanneer daar stilte is, wanneer die skreeuende huil verander in ’n diep, rustige asemhalende kind wat in jou arms lê en slaap. Ek wonder of dit ook iets is wat God beleef elke keer wanneer een van Sy skreeuende kinders, in Sy arms aan die slaap raak?
Wat is jou troos in die lewe?
Wat is tans jou troos in die lewe? Wie of wat bring troos aan jou as jy deur ’n moeilike tyd gaan? Ons woon in ’n samelewing waar ons werk, ons vriende (soms verkeerde vriende), die sosiale media, medikasie, verslawings middele en rykdom ons vertroos. Is dit genoegsaam?
Wat troos jou in die dood?
Wat is jou troos as jy sou sterwe? As jy sou doodgaan? Skielik. Of langsaam.
Wie is dan daar om jou hand te vat? Wie is daar om jou te troos? ’n Troos wat nie net vir hierdie lewe tel nie, maar wat jou deur die dood kan vat, ’n troos wat vir ewig kan hou? ’n Goddelike troos!
Dit is die vraag wat die Hervorming gevra het. Dit is die vraag wat Zacharias Ursinus en Casper Olevianus in hulle Kategismus in Heidelberg beantwoord het. Wat is jou enigste troos in lewe en dood? Want, daar is baie dinge wat jou kan troos in hierdie lewe. Gesondheid. Rykdom. Plesier. Verhoudings. Prestasies. Avontuur. Erkenning. Kinders. Maar dié dinge is onderworpe aan die uitdagings van siekte, verlies, verwerping, ouderdom. Niks hou vir altyd nie. Daarom kan dit nie vir altyd troos nie.
As leraar beleef ek baie hartseer in die samelewing, maar nog meer, ’n groot dors na vertroosting. Ongelukkig gaan soek ons troos op verkeerde plekke. Ursinus en Olevianus het ’n antwoord gegee, in tien stellings, sorgvuldig saamgestel uit die boodskap van die Nuwe Testament, opgeskrywe in vraag en antwoord 1 van die Heidelbergse kategismus van hoe ons na troos en vertroosting moet kyk en waar ons dit moet soek.
“My enigste troos in lewe en dood is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar (f) my op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe (i) en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).”
(a) Rom 14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14: (d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7; 2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh 3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39; 10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5. (g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28. (i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14; Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
Die tien woorde van troos
Wat beteken dit?1. Die troos is vir liggaam en siel, vir lewe en dood.Ons moet eerstens besef dat ons troos nodig het asook dat troos nie net vir jou liggaam bedoel is nie, maar ook vir jou siel. Daarom kies hulle Paulus se boodskap in Romeine 14:8 om dit oor te dra:
“8Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”
2. Die troos kom nie uit jouself nie.Troos moet soos ’n ma of ’n pa jou hart tot rus bring. Troos moet op ’n manier in jou binnekant gebêre word, anders gaan jy sukkel wanneer die bron van jou troos nie naby jou is nie.
Daarom kies hulle Paulus se boodskap in 1 Korintiërs 6:19 om dit oor te dra:
“19 Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
3. Die enigste troos is dat jy aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.Daarom haal hulle Paulus aan vroeër in sy eerste brief aan Korintiërs en beklemtoon dat deur die geloof in Christus behoort ons almal aan Hom:
1 Korintiërs 3: 22-23
“22 of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle; 23 maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.”
4. Die troos is dat Jesus met sy kosbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal het.Ursinus en Olevianus het geweet dat die skuld van die sonde ’n groot las is en ons vreugde steel. Daarom beklemtoon hulle as troos dat Jesus met sy kosbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal het.
Hulle haal 4 tekste aan om dit te onderstreep.
Die eerste twee uit Petrus se eerste brief beklemtoon die vryheid wat ons ontvang. Dit is die bloed van Jesus wat ons uit ’n sinnelose bestaan losgekoop het om ons vreugde in God te vind:
1 Petrus 1:18-19
“18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos.”
Die ander drie tekste uit Johannes se eerste brief beklemtoon die reiniging van alle sonde, vir almal wat in Hom glo:
1 Johannes 1:7
“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
1 Johannes 2: 2
“En Hy is 'n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s'n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
1 Johannes 2:12
“12 Ek skryf aan julle, my kinders, omdat die sondes julle vergewe is om sy Naam ontwil.”
5. Die troos is dat ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos is.Hebreërs 2:14
“14 Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig.”
Hulle haal ook vir Jesus self aan in Johannes se evangelie dat elkeen wat ’n slaaf van die sonde bly, nie deel is van die huisgesin van God nie. Dit is eers as die Seun jou vrygemaak het wat jy waarlik vry sal wees:
Johannes 8: 34-36
“34 Jesus sê toe vir hulle: ‘Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 35 'n Slaaf bly nie vir altyd by 'n huisgesin nie; 'n seun bly vir altyd. 36 Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.'”
6. Die troos is dat God self ons bewaar.Johannes 6:39
“En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.”
7. Die troos is dat sonder die wil van ons hemelse Vader geen haar van jou kop kan val nie.Daarby gee hulle ’n uitsonderlike voorbeeld van hoe God se bewaring werk, só dat sonder die wil van ons hemelse Vader, geen haar van ons kop kan val nie. Hulle doen dit deur twee uitsprake van Jesus in Matteus en Lukas met mekaar te verbind wat ons troos met die boodskap dat God van alles weet, en betrokke is by alles wat met ons gebeur.
Matteus 10:30
“Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel.”
Lukas 21:18
“daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie.”
8. Die troos is dat alles inderdaad tot jou saligheid moet dien.Die tema van bewaring word aangevul met ’n verstommende stelling: “Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.” Daar is waarskynlik geen groter troos vir hierdie lewe as juis hierdie een van Paulus in Romeine nie: Romeine 8: 28
“28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
9. Die troos is dat die Heilige Gees jou verseker van die ewige leweOns is as God se eiendom verseël:
2 Korintiërs 1:22
“ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.”
2 Korintiërs 5:5
“Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.”
10. Die troos is dat Hy jou van harte gewillig maak om voortaan vir Hom te leweUrsinus en Oleviansus sluit hulle tien stellings af met die troos wat daar lê in ’n lewe vir God. Want, hierdie Here maak ons van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe. Dit is die werk van die Gees, soos Paulus ons herinner. Maar, ook iets wat ons toelaat:
Romeine 8: 14 “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.” Groete Ds. Ryno Hurn
Comments