Pitkos 20
Met ‘n hoed in die hand
‘n Mens kan maklik dink dat God in die wêreld afwesig is. Dikwels lyk dit vir ons asof God die aarde verlaat het en in die hemel gaan woon het en ons sterflinge moet hier op aarde self aansukkel. Partykeer lyk dinge so ellendig rondom jou dat jy in die meeste gevalle nie eers ‘n stukkie van God kan raaksien nie. Waar is God wanneer dit saakmaak? Dit is dan wanneer mense boeke skryf met die titels “Where is God when it hurts?” en “Why do bad things happen to good people?”. Waar is God as jy met terminale siektes gediagnoseer word of wanneer ek gelikwideer word? As jou werkgewer jou inroep en sê ons rasionaliseer van die mense en jy is een van hulle of jy sien voor jou oë hoe iemand stadig agteruitgaan en sterf.
Is God dalk te besig met groot wêreldsake en Hy kan nie aandag gee aan jou enkele probleem nie. Die eerste dissipels moes baie trauma beleef in ‘n baie kort tyd. Eers was daar die verhoor en toe die kruisiging. Geskok en hartseer wonder hulle of dit nou die einde van die geloofspad saam met Jesus was? Drie dae later sou die vrouens opgewonde aankondig ”Hy het opgestaan”, maar die skok was te groot en hulle maak dit af as vrouestories en net toe dit lyk asof alles nou beter begin gaan, verdwyn Hy in ‘n wolk die hemel in.
Die wonderlike van die gebeure is dat die kerk die vrug is van die uitstorting van die Heilige Gees. Die kerk is nie gestig deur gelowiges wat op ‘n gereelde basis bymekaar gekom het nie en dit kerk genoem het nie. Die woord vir kerk beteken natuurlik die Here s’n, dit is nie geboue en kerkrade nie. Op Pinksterdag word die Heilige Gees uitgestort oor alle gelowiges (ons ook) met die uitsluitlike doel dat gelowiges met die gawes wat die Heilige Gees gee, God kan verheerlik en dat ons mekaar met ons gawes kan dien. Die kerk is uit en uit die plek waar ons dienend mekaar versorg en die een woord vir die kerk is om te dien, nie om bedien te word nie.
Daarom is Hemelvaart tog so belangrik want daardeur begryp ons dat Jesus moes weg gaan om “plek” te maak vir die Heilige Gees. Tydig sou ons kon sê, want anders moes ons Israel toe reis om Jesus te beleef en Hom te hoor preek. Nou het elkeen van ons deur die werk van die Heilige Gees ‘n stukkie van Jesus in ons, sodat ons almal direkte toegang tot God het.
Nee, God het ons nie verlaat nie, intenedeel Hy is nou nader aan ons as ooit tevore selfs nader as die mense van die Ou Testament. En al sien ons Hom nie het Hy sy Seun onder ons sigbaar gemaak en nou deur die oë van die Heilige Gees sien ons dieper en verder en sien ons Hom in ander mense. Dit is ons troos.
Daar is die bekende storie van die man van die diep platteland wat sy baie siek kind na die groot hospitaal in die stad moes bring. Vir hulle was dit ‘n ontstellende en verwarrende ervaring. Daar moes hulle hoor dat die seun vir ‘n langer tyd onder intensiewe versorging moes wees. Die pa se hart het gebreek toe hy die verwilderde seun daar in die hospitaal moes agterlaat en hoor hoe hy pleit. Toe haal hy sy hoed af en gee dit vir die seun as ‘n waarborg dat hy belowe het om hom te kom haal. Getroos deur die reuk van sy pa se hoed kon hy die behandeling deurstaan, tewyl pa in die taxi op pad was huis toe. Hoed in die hand het hy aan die slaap geraak.
In die onsekerheid van die wêreld is dit presies wat God kom doen het. Hy het vir ons ‘n pand, Heilige Gees, Homself kom gee om aan vas te hou. Hy hou ons vas, dit is: God met ons - Immanuel.
Hou ons vas Here, hou ons net styf vas.
Groete van huis tot huis.
Piet Marais 0832590023
Comments