top of page

Pitkos vir die week - 14 Maart 2019

Pitkos 10

Ek is die brood van die lewe

Baie keer vertel mense vir my hulle bevind hulle in die middel van die wêreld, “nog vis nog vlees”. “Ek weet nie wat ek moet doen nie, en die pad vorentoe is onduidelik.”  In die proses beleef mens ‘n klomp spanning, en jy bevraagteken alles om jou en veral jouself en jou vermoëns.   Hulle sê dan dat hulle weet dat God iets buitengewoon gaan doen.  “Ek moet net glo en vertrou.”  Hulle bemoedig hulleself met die woorde: ”Laat alles, insluitend jou grootste bekommernisse en krisisse en vrese aan die Here oor.”

Dit is nie buitengewoon nie.  Dit is baie keer hoe die lewe is. Die van ons wat ouer is en al die lewe ken, weet dat dit dikwels gebeur.  Is dit nou so eenvoudig soos, “Ek moet net vertrou?”.  Male sonder tal worstel jy deur die nagte, staan moeg op, gaan werk sonder ’n antwoord. Jy wat dit al deurgemaak het kan beaam dat die woorde van my gespreksgenoot ”ek moet net glo en vertrou”, nie altyd so uitwerk nie.  Die oplossing of die ontknoping van die hoogspanningsdrama is baie keer totaal iets anders as  dit waarvoor jy gehoop en vertrou het.  Geloof het die geneigdheid om juis nie altyd die oplossing te bring wannneer en soos ek dit wil hê nie.

Die Bybel vertel van ‘n hoogspanningsdrama wat anders verloop het as waarvoor die akteurs gehoop het. Die dissipels is ter see.  Die see ken hulle baie goed, maar dan steek ’n woeste storm op en hulle is alleen in die skuit en sonder die Wonderwerker. Dit is mos baie keer ons eie geloofstorie.  Ons soek nie Jesus van Nasaret nie, ons soek net die Wonderwerker.  As Hy sy wonderwerk klaar gedoen het, is Hy soort van op die agtergrond.  In die Bybelse verhaal is Jesus die keer dringend soek.  Maar Hy ken die storie en Hy is te voet oppad, seelangs.

As hule Hom gewaar is hulle nie seker dit is Hy nie. In ons lewens weet ons ook nie altyd of dit ons eie verbeelding is en of dit Jesus is nie.  As dit regtig Jesus was, sou Hy nie meer imposant en met mag Homself kom openbaar nie?  Sy binnekoms moet meer met trompetgeskal  aangekondig word. Die probleem is, Jesus is baie keer versluier as ‘n doodeenvoudige dokter met ‘n wit jas of iemand in gewone klere.  Ons is eintlik half terleurgesteld, want ons het nie Jesus op ‘n donkie verwag nie.    

Die storie ter see het sy eie draaipunt.  Petrus is die vurige gelowige, ernstig, met passie gelaai.  “Ek sal Hom volg …..ongeag en julle ander is so dood, so goed dood.”  Hy besef dit is Jesus op die golwe van die ongeloof.  “Ek kom Here!” ……..roep hy dit uit.  Die wonderlike van die verhaal is, hy kry dit vir ‘n paar treë reg.  Dit is moontlik, maar is dit volhoubaar?  Nou ja, die res ken julle almal.  Hy sink, Jesus gryp in en die storm bedaar.  Maar die storie het ‘n prys.

Ditrich Bonnhoefer skryf in sy boek “The Cost of discipleship” dat dit duur is om te glo.  Duur want dit vra so baie van ons as mense.  Sien jy kans om van die skip af te klim in die storm?  Dalk wil jy soos Petrus sê “Ek kom Here!” maar dit is nie volhoubaar nie.  Ek is nie gereed vir die soort van commitment nie.  Die ander waarheid is dat ander dissipels dit nie eers oorweeg het nie.  Miskien vra vandag van jou: Klim net uit! Waag dit om uit te klim, want dit is moontlik of wag jy maar vir die Wonderwerker.  Om te glo is baie keer angswekkend, want jy waag teen jou hele wese in om te glo, om uit te klim.  Dit is teen ons geaardheid om uit te klim en die golwe is so hoog! Maar weet net dit, dat vandag se waagmoed vra dat ek  elke dag moet waag, want dit is moontlik maar is dit volhoubaar?

Dit is Lydenstyd waar ons die lyding en sterwe en opstanding van Jesus gedenk.  Dit vra immers waagmoed om op te staan en te sê: “Ek het ook opgestaan soos Hy gesê het.”  Is jou graf leeg of lê jy salig in die hoek van die graf en wag vir die Wonderwerker.  Waag dit om op te staan, want Hy leef en jy saam met Hom.

Van Huis tot huis    

Piet Marais 0832590023

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page