top of page
Ng Kerk Valhalla

Pitkos vir die week - 14 Julie 2020

Pitkos vir die week 14 Julie 2020 Pitkos 20

Inleiding:

Geloof... ’n Woord wat die kerk en die samelewing baie laat dink en wonder. Tydens verlede week se Pitkos was daar meer omskrywend gekyk na geloof en waar dit vandaan kom. In hierdie week se Pitkos gaan ons verder ondersoek instel rakende geloof. Hier gaan na geloof gekyk word vanuit die Brief van Jakobus wat opgeskrywe is in die Nuwe Testament. Ek moes hierdie week weer vir myself die vraag stel: wat is die doel van geloof? Moet ek geloof hê sodat ek gered kan word? Moet ek geloof hê sodat ek oor my struikelblokke kan kom? Moet ek geloof hê sodat ander geloof kan kry? Geloof is ’n geskenk wat ek van God ontvang, sonder verdienste, sonder werke, uit genade, maar dit spoor my aan om oor te gaan tot dade. Beslis, geloof en geloof alleen is genoeg om in ewigheid saam God drie-enig te wees, maar dit beteken nie dat geloof my passief maak nie. Geloof maak my nie passie(f) nie, maar passie(vol). Passievol oor God, die lewe, myself, die kerk, ander, omstandighede, die verlede, hede en toekoms.

Geheue verfrissing – Wat is geloof en waar kom dit vandaan?

Hebreërs 11:1 “Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie kan sien nie.”. Geloof is: Sekerheid, Hoop en Oortuiging. Sekerheid dat ek ’n kind van God is, hoopvol dat Christus weer gaan terugkom en daarvan oortuig dat Christus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het. Volgens Efesiërs 1:13, Galasiërs 5:5-6 en Kolossense 1:3-6 word geloof op verskeie plekke verkry:

  • Op grond van wat Christus gedoen het;

  • Geloof wat deur liefde dade word;

  • Om verenig te wees met Christus;

  • Om die evangelie te hoor;

  • Om die evangelie te verkondig.

Die Heidelbergse Kategismus 65 sê “deur die gebruik van die sakramente” en Dordtse Leerreëls “So is die geloof dan 'n gawe van God”.

Brief van Jakobus

Die brief van Jakobus is ’n brief wat na aan my hart lê. Om verskeie redes, maar hoofsaaklik omdat dit met my persoonlike spiritualiteit praat en natuurlik die beste omskrywing gee i.v.m. wat ek met geloof moet doen en wat geloof met my doen: “...en ek sal jou my geloof wys uit my dade.” Jakobus 2:18. Jakobus is ’n brief wat gerug is aan die twaalf stamme wat “oor die wêreld verspreid is”. Diaspora is die Griekse woord wat gebruik word in die brief vir mense wat “oor die wêreld versprei woon’ wat letterlik as “God se volk wat oor die wêreld woon” vertaal kan word. Die boek dateer ongeveer 90 n.C., maar wat die vorige 20 jaar voor die skrywe van die boek gebeur het speel ’n belangrike rol oor die inhoud van die boek. In 70 n.C. het die Romeine met Jerusalem gemaak wat koning Nebukadnesar van Babilonië destyds met Jerusalem gedoen het – Hulle het die stad en die tempel met die aarde platgevee. Ongeveer 65 000 mense is in gevange geneem en na Rome geneem. Baie ander het regoor die wêreld heen gevlug – diaspora “God se volk wat oor die wêreld woon”. Om in verstrooiing/ ge-scattered te leef is baie spanningsvol en traumaties. Hulle is vreemdelinge in ’n nuwe land, maar het ook nog ’n band met hulle land van herkoms, maar soos wat die tyd aanstap, stagneer hulle en verloor hulle iets wat van hulle herkoms. Hulle raak gewoond aan nuwe tradisies, kulture en godsdienste. Hulle vergeet hulle godsdiens en die gebruike daarvan. Jakobus skryf vir hierdie gelowiges met ’n konstante herinnering van dade. Hy skryf viride gelowiges en sê: ‘Hey ouens, onthou wie julle is, onthou wie julle aanbid, daarom doen al hierdie dade, sodat julle nie vergeet nie, maar ook dat ander kan sien.” Jakobus fokus dus op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel en moedig hulle aan om hulle geloof prakties uit te leef. Tydens die kerk Hervorming in die sestiende eeu het Martin Luther op grond van belewenis van die katolieke kerk heftig beswaar gemaak teen die inhoud van die Jakobus brief. Volgens hom het Jakobus te veel van die dade en te min van die genade/geloof gemaak. Hy het na Jakobus as die strooibrief verwys. Ons is saam op reis in die tema van geloof. Jakobus moedig die gelowiges (en natuurlik vir ons) aan om geloof op verskeie maniere te definieer en uit te leef. Hy begin deur vir hulle te sê dat hulle dalk ’n bietjie meer moet luister en nie te gou te praat nie en nie te gou kwaad word nie. Ek dink ons almal kan by hierdie stukkie wysheid aanklank vind en ons geloof op die manier probeer uitleef. Wat gebeur gewoonlik as ons vinnig op ons perdjies spring, nie vir mense luister wanneer hulle met ons praat nie en vinnig kwaad word? Ons doen dinge waaroor ons later spuit is. Ons doen dinge wat ek glo baie keer nie reg is in die oë van God nie. Die Grieks sê: “bewerk nie die geregtigheid van God nie.” Dit beteken iemand wat kwaad word, maak nie God se geregtigheid sigbaar nie. Iemand wat kwaad word, vertoon God nie. Geloof is om God te verteenwoordig en Jakobus herinner ons wie ons in die wêreld verteenwoordig. Hierdie stukkie wysheid is nie net gerig op mens tot mens verhouding nie, maar ook tot ons verhouding met God. Dalk moet ek en jy ook met tye ’n bietjie stilbly en toelaat dat God met ons praat en dan vir Hom te luister. Dalk moet ons ook met tye, wanneer ons planne nie uitwerk soos wat ons dink dit moet nie, vir God kwaad word nie, maar eerder die vertroue hê, dat Hy weet wat Hy doen. Deur so rustig te wees wys ons vir die wêreld en vir God dat die vuur en woede van die wêreld nie in ons heers nie, maar eerder die Gees van kalmte. Jakobus gaan dan verder deur te sê dat die regte en rein manier om vir God die Vader te dien en genade te wys, is dit: Jy moet sorg vir weeskinders en vir weduwees wat swaarkry. In die bybelse tyd as ’n vrou ’n weduwee geword het en sy geen heenkome gehad het dan het dit die einde van haar lewe beteken. As daar geen familie was wat hy wou of kon versorg het nie, het sy op straat geëindig. Sy was verstoot deur die samelewing. Jakobus herinner die gelowig aan die belangrikste gebod: jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Geloof is om jou naaste lief te hê. Maar dit gaan nog ’n bietjie dieper: hoeveel maal word die kerk van God nie uitgebeeld as ’n bruid nie. Ons wat wat in ’n verhouding met God is. ’n Weduwee staan in verhouding met niemand nie. Die verhouding is dood. Dit is weg. Soos wat God, Hom oor Israel, die weduwees van die lewe besorg het en haar sy bruid gemaak het so moet ons, onsself oor ander besorg. Later in hoofstuk 2 sê Jakobus “ My vriende, dit help niks as julle sê dat julle in God glo, maar julle doen nie wat God wil hê nie.” Die 83 vertaling lees: “wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof 'n mens red?” hier is twee sleutelwoorde in hierdie vers: geloof en red. Aan die een kant – om te glo is nie alles wat ons van God geleer het en van Hom weet nie. Geloof is om in sy hande te sit, om Hom op Sy woord te glo en ons aan Hom bloot te stel. Aan die ander hand, red beteken nie dat ons op grond van wat ons van God weet eendag hemel toe gaan nie. Red beteken ons behoort nou reeds aan God en God se mense. As ons in die lig hiervan dan Jakobus se vraag weer lees, sal dit so klink: “wat help as ek in my God se hande sit en Hom op Sy woord glo, maar dit is vir niemand om my sigbaar nie.” Geloof is om in God se hande sigbaar te wees. Die voorbeeld wat Jakobus weer hierna gebruik is baie naby aan die huis: “sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag van honger ly en sê nou een van julle sou vir hulle sê ‘mag dit met julle goed gaan; gaan trek vir julle warm aan en eet genoeg, maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het nie, wat help dit dan?” Jakobus moedig die gelowiges aan wat in verstrooiing woon om na mekaar om te sien. Hy sê vir hulle, sorg vir mekaar want dit is wat God van julle verwag. Niemand anders gaan vir hulle sorg nie. Geloof is om na mekaar om te sien. As ’n pastorie inwoner gebeur dit gereeld dat my klokkie lui en agter die groen palisade daar iemand is wat vra om kos. Dit het al gebeur dat ek mense dan wegstuur sonder kos, sonder hulp. Nie eers ’n gebed nie. Ek weet dit is moeilike tye waarin ons woon en ons kan nie vir almal sorg nie, maar wat van as God hierdie houding teenoor ons gehad het? Die sonde van die mens is te groot, Ek kan niks omtrent dit doen dit nie. Waar sou ons vandag gewees het?

Seën vir julle Ds Ryno Hurn

0 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie...

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die ...

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy...

Comments


bottom of page