top of page

Pitkos vir die week - 14 April 2020

Pitkos 10

Wat beteken Jesus se Opstanding?

Inleiding:

Die Paasnaweek is so pas verby. ’n Naweek waar ons as christene die dood en opstanding van Christus vier. Ons is seker die enigste Godsdiens wat die dood van hul God vier. Die vieringe het egter nie daar gestop nie, want dis nie die dood van ons God wat ons uniek en anders maak nie, maar die opstanding van Jesus Christus. Die opstanding van ons Verlosser is die waarborg en seël dat ons die volmaakte, ware en enigste God aanbid.

Die omsluiting van die opstanding:

God het Jesus liggaamlik in ’n nuwe lewe opgewek en met vele tekens getoon dat Hy leef oor ’n tydperk van veertig dae. Die opstanding is en bly die hart van die evangelie. Deur die opstanding vestig Christus Sy Koninkryk. Die Lukas Evangelie wil ons verseker, dit is werklik Jesus wat opgestaan het. Hy het met sy dissipels ontmoet. Hy het 'n getransformeerde liggaam gehad wat werklik kon eet en praat, maar ook meer kon doen. Hy kon verskyn en verdwyn, ook deur geslote deure kom. Om die waarheid te sê, vir hom, en die ander skrywers van die Nuwe Testament, was Jesus meer intens liggaam as ’n “gewone” liggaam, nie minder nie. Jesus se getransformeerde liggaam is die begin van God se nuwe skepping. In God se nuwe skepping, sê tekste soos Openbaring 21 en Efesiërs 1, kom hemel en aarde op 'n nuwe manier bymekaar. Jesus se opgestane liggaam is die begin hiervan. Dit is die begin van ’n hemelse werklikheid wat tuis is op God se aarde, en die begin van ’n getransformeerde skepping wat ten volle tuis is in God se omgewing (die hemelse).

Wat behels die Opstanding vir my en vir jou volgens Efesiërs en Romeine?

Efesiërs 2:4-7 “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het. Romeine 8: 33-35 “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Efesiërs en Romeine lig vir 8 kern waarhede uit wat die Opstanding vir ons inhou:

  1. God is ryk in barmhartigheid en liefde (Ef. 2:4)

  2. Ons wat eens dood was, is saam met Christus lewend gemaak (Ef. 2:5)

  3. Daar is vir ons ’n plek in die hemel (Ef. 2:6)

  4. Bewys van God se goedheid en genade (Ef. 2:7)

  5. Ons kan nie aangekla of veroordeel word deur die wêreld nie (Rom 8:33&34)

  6. Ons is volkome vrygespreek (Rom 8:33)

  7. Daar word vir ons gepleit (Rom 8:34)

  8. Ons leef in onskeidbare liefde (Rom 8: 35)

Geloofsbelydenisse en die Heidelbergse Kategismus:

Apostoliese Geloofsbelydenis 5 5. (Ek glo in Jesus Christus) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; Geloofsbelydenis van Nicea 5 5. (Ons glo in een Here Jesus Christus) Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan. Geloofsbelydenis van Athanasius 38 38. (so is God en mens een Christus) wat ter wille van ons saligheid gely het, wat die angste van die hel tot in die dood ondergaan het, op die derde dag uit die dood opgestaan het, Heidelbergse Kategismus 45 Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Antwoord: Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Ten derde is die opstanding van Christus vir ons n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

  1. Rom 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor 15:16. (b) Rom 6:4; Kol 3:1, 5; Ef2:5, 6. (c) 1 Kor 15:20, 21.

Seën vir julle

Ds. Ryno Hurn

2 views0 comments

Recent Posts

See All

Pitkos vir die week - 1 Desember 2020

Pitkos 36 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Oor die wet Sondag 34 Vraag 92: Hoe lui die Wet van die Here? Antwoord: God het al hierdie gebooie aangekondig (Eks 20:1-17; Deut 5:6-21): Ek is die Here

Pitkos vir die week - 24 November 2020

Pitkos 35 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Sondag 31 Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel? Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug.

Pitkos vir die week - 17 November 2020

Pitkos 34 Die Heidelbergse Kategismus (HK) Die sakramente Sondag 25 Vraag 65: Terwyl ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry, waar kom so 'n geloof dan vandaan? Antwoord:

bottom of page